Basiese Dubbelkajuit gee meer waarde.

Deur Daantjie Badenhorst.

Die meeste vervaardigers probeer met net een reeks om in die Suid-Afrikaanse bakkiemark mee te ding, maar minstens twee het meer as twee modelreekse op die mark. Nissan gaan byvoorbeeld voort met sy NP 300 Hardbody wat hoofsaaklik as werkesel gebruik word, terwyl die Navara in die marksegment vir ontspanningsgeoriënteerde bakkies meeding.

Die ander vervaardiger met meer as een modelreeks is GWM, wat nie minder nie as drie verskillende reekse op die mark het. Die Steed 5 is die werkesel, terwyl die Steed 6 die vlagskip in die reeks is. In
die middel is die Steed 5E, wat beter as die Steed 5 toegerus is, maar nie heeltemal so spoggerig soos die Steed 6 is nie. Die intreemodel van die Steed 5E-reeks is die 2,4 SX.

Die Steed 5E is ‘n baie aantreklike bakkie, en sy voorkant herinner baie aan dié van die VW Amarok. Daar is ‘n klein sierrooster tussen die kopligte terwyl daar ook ‘n groter een in die voorste stamper is. Soos met die hele GWM-reeks, selfs die Steed 5, is daar misligte voor. Daar is twee afwerkingsvlakke vir die Steed 5E beskikbaar, naamlik die SX en die Xspace. Laasgenoemde model het kanttrappe en ‘n chroom-rolstaaf wat hom van die SX onderskei, maar die toetsmodel het albei hierdie kenmerke gehad. Die hele reeks word toegerus met allooiwiele met 235/70R 16 bande; van ‘n vervaardiger wat aan ons onbekend is, naamlik Giti. Een baie belangrike bykomstigheid waarmee die toetsmodel ook toegerus is, was rubbervoering vir die laairuim, wat eintlik standaardtoetusting vir enige bakkie behoort te wees.

Die Steed 5E is dalk een van die goedkoper bakkies op die Suid-Afrikaanse mark, maar selfs die SX is goed toegerus. Onder die SX se standaardkenmerke is klimaatbeheer, leerbekleedsel, ‘n radio en CD-
speler met kontroles op die stuurwiel, ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer, elektriese vensters en spieëls, laasgenoemde met geïntegreerde rigtingwysers. Die klimaatbeheer werk uitstekend en maak die kajuit ‘n baie gemaklike plek in warm weer. Daar is ongelukkig twee kenmerke wat in hul afwesigheid skitter. Bluetooth-verbinding behoort ‘n wetlike vereiste vir elke voertuig te wees, maar die SX is nie daarmee toegerus nie. Daar is gelukkig iets wat ‘n mens daaraan kan doen: die USB-sok is in die paneelkissie tussen die sitplekke weggesteek en die bestuurder kan sy of haar selfoon afskakel, aan die USB-sok koppel en net daarvan vergeet. Die Xspace is wel daarmee toegerus, maar dit behoort vir die hele reeks standaardtoerusting te wees. Ongelukkig is ‘n ritrekenaar glad nie beskikbaar nie, en ‘n mens mis dit omdat jy nie kan sien wat sy brandstofverbruik is of hoe ver jy nog met die oorblywende brandstof kan ry nie. Daar is ook geen bekerhouers behalwe in die deure nie, maar die voordeel is dat daar ‘n nuttige plek vir los goedere voor die rathefboom is. Die binne-afwerking is oor die algemeen goed, maar die paneelkissie tussen die sitplekke was effens los. Die agtersitplek is net-net groot genoeg vir volwassenes, maar daar is dubbelkajuit-bakkies wat meer agterste beenruimte bied.

Die toetsmodel was toegerus met die petrolenjin van 2,4 liter wat ook al vir die Steed 5 gebruik is en ook in die H5 voorkom. Dié enjin, wat op ‘n Mitsubishi-blok gebaseer is, lewer 93 kW teen 5 250 opm en 200 Nm teen tussen 1 500 en 3 000 opm. Hoewel dié enjin vir genoeg krag sorg en jare se betroubare diens behoort te lewer, is brandstofverbruik ‘n probleem. Volgens die vervaardigers is die 2,4-modelle se gemiddelde verbruik 10,7 liter per 100 km; dit maak ‘n reikafstand van byna 700km met die 70 liter-brandstoftenk moontlik. Die enigste ratkas wat vir die petrolmodelle beskikbaar is, is ‘n handratkas met vyf gange, eerder as die sesgangratkas waarmee die dieselmodelle toegerus is. Die afwesigheid van ‘n sesde rat is egter nie ‘n probleem nie, behalwe dat dit dalk sy brandstofverbruik sou verbeter. Die ritgehalte is minder stamperig as dié van die Steed 5,maar nog nie so goed soos sommige mededingers is nie. Hoewel die 5E ‘n groot voertuig is, is sy draaisirkel nogal klein en is hy maklik om in die stad te hanteer.

Mededingers

Die Steed 5E is een van die goedkoper dubbelkajuite op die mark; die toetsmodel se prys is R214 900, wat net meer as R 12 000 duurder as die Steed 5 2,2 MPI SX is. Daar is geen ander mededingers in hierdie prysklas nie; selfs die Nissan NP 300 Hardbody 2,4i Hi-Rider kos R 355 900; ‘n verskil van meer as R 100 000. Die enigste ander dubbelkajuit met ‘n petrolenjin is die Toyota Hilux 2,7 VVTi S, wat omtrent dieselfde as die Nissan kos, en nie naastenby so goed soos die Steed 5E toegerus is nie. Die feit dat sommige vervaardigers besluit het om al hul petrolaangedrewe bakkies aan die mark te onttrek, is ‘n bewys dat dieselenjins die mark al hoe meer begin oorheers.

Die Steed 5E is beslis die ondersoek werd vir diegene wat ‘n bakkie bo ‘n klein motortjie verkies en nie een van die gevestigde mededingers kan bekostig nie. Hoewel die SX nie met al die standaardkenmerke toegerus is wat ‘n mens dalk wou wou hê nie, is daar tog ‘n paar wat vir die meeste mense ‘n verrassing sal wees. Aan die ander kant sou ons voornemende kopers aanraai om eerder die Xspace, teen R 234 900, te oorweeg. Benewens Bluetooth het die Xspace ook ‘n klankstelsel met ‘n raakskerm, ‘n banddrukmonitor en ‘n leer-oorgetrekte stuurwiel, maar hy kom sonder ‘n CD-speler, wat vir sommige mense ‘n probleem sal wees.  Watter model jy ook al kies; die prys is so laag dat ‘n mens vir die opsionele diensplan van vyf jaar of 60 000 km kan begroot en ons sal voornemende kopers aanraai om dit te doen. Die enjinkeuse is ‘n kwessie van persoonlike smaak, maar ons glo dat die 2,0 VGT-turbodiesel dalk beter sal wees, selfs teen R 40 000 meer as die vergelykbare petrolmodelle.

Toetsvoertuig is goedgunstelik deur CMH Haval Silver Lakes beskikbaar gestel.

Sien ook:

Padindrukke: GWM Steed 5 2,2 MPI SX Dubbelkajuit

%d bloggers like this: