Padindrukke: Haval H2 1,5 T Luxury Outomaties (2020 model)

0 Comments

Kwaliteit ontmoet Waarde vir Geld.

Nadat Haval in 2017 tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree het, het dié Chinese vervaardiger se gewildheid al hoe meer toegeneem.

Die een model wat veral die publiek se verbeelding aangegryp het, was die H2, wat pas ‘n aantal detailveranderinge ondergaan het. Motor Plus het, met die vriendelike samewerking van CMH Haval Silver Lakes, die vlagskip van die nuwe reeks, die Luxury Outomaties, getoets.

Die nuwe model spog met ‘n aantal nuwe kenmerke wat hom van sy voorganger onderskei. Die Haval-kenteken het voorheen ‘n rooi agtergrond gehad, maar dit is onlangs na swart verander. Die uitstaande nuwe stileringskenmerk van die nuwe model, is ‘n nuwe stel vyfspeek-alloiwiele met 235/55 R18 Kumho Solus-bande en ‘n volgrootte noodwiel. Die agterligte is herontwerp en die Luxury-modelle word nou met ‘n panoramiese sondak toegerus. Een welkome weglating is die ligte aan die kant wat die motor se naam uitspel.

Onder die enjinkap is dieselfde 1,5 liter-turbopetrolenjin wat in die vorige model gebruik is, gekoppel aan ‘n outomatiese ratkas met ses gange. Hierdie enjin lewer 105 kW teen 5 600 opm en ‘n wringkrag van 202 Nm tussen 2 200 en 4 500 opm.

Die outomatiese ratkas beskik oor ‘n tikratfunksie en hoewel meer geesdriftige bestuurders dalk ratspane agter die stuurwiel sou wou hê, is die gebrek daaraan nie regtig ‘n probleem nie. Die ratwisseling is glad en vinnig, ongeag die funksie wat ‘n mens gebruik en die enjin en ratkas werk baie goed saam. Ons het nog nie ‘n H2 met ‘n handratkas onder hande geneem nie, maar die outomatiese ratkas voldoen aan die meeste mense se vereistes en daarom is dit dalk die beter keuse. Die gemiddelde brandstofverbruik wat ons met die nuwe model behaal het, was 9,3 liter per 100 km, wat ‘n reikafstand van ongeveer 600 km met ‘n brandstoftenk van 55 liter moontlik maak, maar die toetsmotor het net meer as 1 500 km afgelê en, soos ons met die vorige model gesien het, kan dit tot 8,0 liter per 100 km verbeter soos die kilometerlesing toeneem.

Die binneruim van die H2 is baie goed toegerus, en die Luxury spog met onder meer kunsleerbekleedsel, ‘n panoramiese sondak, outomatiese lugversorging en ‘n leerstuurwiel. Die trukamera en ses lugsakke wat voorheen net vir die Luxury beskikbaar was, is ook nou standaardtoerusting vir die City. Ongelukkig is satellietnavigasie weer nie standaardtoerusting nie, maar sekere handelaars het ‘n opgegradeerde inligting-en-vermaakstelsel wat navigasie insluit, teen R 12 000 beskikbaar. Die dubbelsone-klimaatbeheerstelsel van die vorige model is met ‘n outomatiese lugversoger vervang. Die hele reeks is met ‘n elektroniese parkeerrem, sleutellose toegang en ‘n aansitknoppie toegerus. Dis baie maklik om toegang tot die inligting op die ritrekenaar, onder meer oombliklike en gemiddelde brandstofverbruik, banddruk en die afstand wat nog afgelê voordat daar weer brandstof ingegooi moet word, te kry; die uitleespaneel tussen die spoedmeter en die toereteller is groot en ‘n mens hoef net ‘n knoppie op die stuurwiel te druk om die inligting te kry.

Die hele H2-reeks word toegerus met die meeste veiligheidskenmerke wat ‘n mens in ‘n motor van hierdie klas kan verwag. Die skyfremme op al vier wiele bevat ABS met elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp, volg-my-en-lei-my-kopligte is standaardtoerusting vir die hele reeks en die brandstoftoevoer word outomaties afgesny indien die motor in ‘n ongeluk sou beland.  Elektroniese stabiliteitsbeheer is ook standaardtoerusting vir al die modelle. Ongelukkig is die linkerkantste kamera waarmee die vorige Luxury toegerus was, weggelaat vir die nuwe model.

Mededingers

Sedert ons toets van die vorige model het die marksegment vir klein sportnutsvoertuie, waarin die H2 meeding, baie verander. Die twee “staatmakers”, die Mazda CX-3 en die Ford Eco Sport, is steeds daar, en die modelle wat volgens prys en spesifikasie die naaste aan die toetsmodel is, is die CX-3 Dynamic-outomaties teen R 352 200 en die Eco Sport Titanium-outomaties teen R 357 100. Die Eco Sport is natuurlik duurder en die Trend, wat teen ‘n meer mededingende prys verkoop, is nie naastenby so goed toegerus soos die H2 nie. Daar het egter ‘n paar nuwe mededingers op die mark verskyn. Die Kia Seltos is reeds besig om gewild te word, en die 1,6 EX+ outomaties kos R 371 995. Daar is min te kies tussen hom en die H2 wat grootte betref, en Kia hoef niks meer te doen om homself in die mark te bewys nie. Die Hyundai Venue 1,0 T Fluid is aan die einde van 2019 bekendgestel, en sy prys is R 339 900, maar hy is effens kleiner en nie almal sal van die turboaangejaagde eenliterenjin hou nie. Die Citroën C3 Aircross 1,2 T Shine is ‘n nuweling op die mark; sy prys is R 359 900, maar dié Franse vervaardiger sal baie hard moet werk om sy reputasie in Suid-Afrika in ere te herstel. Die Opel Crossland X 1,2 T Enjoy is nog ‘n goeie mededinger teen R 349 900, maar noudat Opel van General Motors weggebreek het, gaan dit lank duur voordat dié Duitse vervaardiger sy verkoopsyfers van vroeër jare weer in Suid-Afrika kan herhaal.

Die nuwe H2 het net weer bewys dat daar geen rede meer is om op Chinese voertuie neer te sien nie. Haval is een van ‘n handjevol Chinese vervaardigers wat volhoubaar in Suid-Afrika is, en die reeks en die handelaarsnetwerk is baie goed gevestig. Daarom kan die H2 met die grootste vrymoedigheid aanbeveel word vir enigiemand wat op soek is na ‘n motor in die prysklas van ongeveer R350 000.

Die Luxury Outomaties, wat teen R329 995 verkoop, is MotorPlus se gunsteling in die reeks; hierdie prys sluit ‘n waarborg van vyf jaar of 100 000 km in, asook ‘n diensplan van vyf jaar of 60 000 km en padbystand van vyf jaar, ongeag die voertuig se kilometerlesing.

Enigiemand wat ‘n toetsrit met die H2 wil bespreek, kan met Gerhard Lourens by CMH Haval Silver Lakes, op die hoek van Solomon Mahlangu-rylaan en Bendeman Boulevard in Pretoria in verbinding tree; sy telefoonnommer is 083 214 0642.

Categories:
%d bloggers like this: