Deur Daantjie Badenhorst.

Die Chinese vervaardiger Great Wall Motors (GWM) het tot dusver groot sukses met die verkoop van hul reeks bakkies in Suid-Afrika behaal . In Junie 2017 het dié maatskappy sy reeks sportnutsvoertuie, bekend as Haval, in Suid-Afrika bekendgestel en MotorPlus het die topverkoper in die Haval-reeks tot dusver, die H2, onder hande geneem.

Die toetsmodel was die vlagskip in die reeks, die 1,5 T Luxury met ‘n sesgang-outomatiese ratkas. Daar is twee Haval H2-modelle, naamlik die City en die Luxury. Albei het dieselfde turbo-aangejaagde petrol-aangedrewe 1,5 liter vier silinder enjin wat 105 kW teen 5600 opm lewer en ‘n wringkrag van 202 Nm tussen 2 200 en 4 500 opm bied.

Die verskil tussen die City en Luxury-modelle is in die vlak van toerusting: die City het onder meer twee lugsakke, skyfremme op al vier wiele, ‘n elektroniese parkeerrem, sleutellose toegang met ‘n aansitknop, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, agterste parkeersensors, ‘n banddrukmonitor, Bluetooth-verbinding en handbeheerde lugversorging.

Die Luxury op sy beurt doen sy naam gestand en bied ‘n lys van luukse items om motorry-genot nog verder te verbeter. Behalwe bogenoemde toerusting waarmee die City-model spog, het die Luxury-model ook vier bykomende lugsakke, ‘n tru-kamera, elektries verstelbare voorsitplekke, leerbekleedsel, ‘n elektries beheerde sondak, ‘n leeroorgetrekte stuurwiel, ‘n tru-kamera, twee bykomende luidsprekers, dubbelsone-klimaatbeheer en elektroniese wegvoubare buitespieëls.  Die enigste toerusting, wat ‘n mens in die Luxury-model mis, is satellietnavigasie.

Die hele reeks is toegerus met allooiwiele met 235/55 R 18 Kumho Solus–bande en dis goed om te sien dat ‘n volgrootte noodwiel standaardtoerusting is. Een oulike tegnologie, wat reeds in prima voertuie soos die jaguar en Land Rovers voorkom, is die liggie wat op die grond onder die voorste deure verskyn wanneer die motor in die donker oopgesluit word. Dit verlig die grond met die Haval-naam sodat jy in die donker mooi kan sien waar jy trap.

Die binne-afwerking van die H2 is konserwatief sonder enige iets wat irriteer. Die meeste kontroles is maklik om te bereik. Daar is ‘n klein kompartement voor die ratkieser waar die 12-volt kragpunt gehuisves word en dit is ook ‘n plek waar die motor se sleutel weggesteek kan word. Daar is ‘n paneelkissie tussen die voorste siplekke wat die USB-sok bevat en wat genoeg plek vir ‘n selfoon het.

Daar is genoeg kop-en beenruimte vir agterste insittendes en hoewel die volgrootte noodwiel bagasieruimte in beslag neem, is die bagasiebak groot genoeg. Die silwer afwerking op die paneel en deure lyk beter as die nagemaakte hout wat sommige vervaardigers gebruik. Die veelfunksiestuurwiel bevat kontroles vir die telefoon, die spoedbeheer en die ritrekenaar.

Laasgenoemde se uitleespaneel is geleë tussen die spoedmeter en die toereteller en is maklik om te lees. Dit bevat inligting oor onder meer die gemiddelde- en oombliklike brandstofverbruik, asook die afstand wat nog afgelê kan word voordat brandstof ingegooi moet word.  Die Luxury met ook ‘n raakskerm wat toegang tot die inligting-en-vermaakstelsel bied en om ‘n selfoon deur middel van Bluetooth te koppel, is maklik. Een baie belangrike veiligheidskenmerk wat ons nog op geen ander voertuig teëgekom het nie, is dat die radio outomaties afskakel wanneer die tru-kamera in werking is, en dat die kamera ook ‘n rukkie lank wys wat voor die motor gebeur. Die radio werk weer  wanneer die kamera nie meer in gebruik is nie.

Soms kan ‘n ratkas die algemene indruk van ‘n motor na die een of ander kant toe beïnvloed.  Die H2 se outomatiese ratkas is een van sy beste kenmerke en dit is beslis die moeite werd om hierdie model te kies as jy van ‘n outomatiese ratkas hou. Daar is ‘n handratkeuse as deel van die outomatiese ratkas en hoewel die gebruiklike ratspane agter die stuurwiel ontbreek, is dit maklik om ratte sonder ‘n koppelaar te wissel.  Dit is nie eens nodig om die voet van die versnellerpedaal te haal nie.

Die Haval H2 ibied drie bestuursmodusse: naamlik ‘n standaardmodus, ‘n ekonomiese modus en ‘n sneeumodus, wat vastrapvermoë op gladde paaie verbeter. Daar is egter nie veel verskil tussen eersgenoemde twee nie, en hoewel dit tydens die toetstydperk gereën het, was dit nooit regtig nodig om die sneeumodus te gebruik nie.

Die gemiddelde brandstofverbruik van die toetsvoertuig was 8,0 liter per 100 km. Dit klink hoër as dié van sommige mededingers, maar dan moet ‘n mens onthou dat hulle hoofsaaklik kleiner enjins het.

Dit is nie maklik om mededingers vir die H2 te kry nie, veral nie met hierdie spesifikasievlakke nie. Die rede daarvoor is eenvoudig; dié wat prysgewys met hom meeding, is kleiner en dié wat dieselfde grootte is, is duurder.  Die H2 Luxury Outomaties se prys is R 309 900, Die mededingers teen ongeveer dieselfde prys is die Renault Captur 88 kW Dynamique EDC teen R 322 900, die Ford Eco Sport 1,5 Titanium Powershift teen R 318 900 en die Mazda CX 3 Active Outomaties teen R 308 100. Die vergelykbare Captur is toegerus met ‘n turbo-aangejaagde enjin wat ligter op brandstof behoort te wees en dit lyk dalk na ‘n baie goeie kopie. Die Ford Eco Sport is met beter enjin-en-ratkaskombinasies beskikbaar en hy kry buitendien binnekort detailveranderinge. Die Mazda se bagasiebak is te klein vir ‘n motor in hierdie marksegment en hierdie model is glad nie so goed soos die H2 toegerus nie.  Die Hyundai Creta Executive Outomaties se prys is R 349 900 en dit is ook glad nie ‘n slegte kopie nie.  Die Suzuki Vitara het MotorPlus beïndruk, maar die model wat prysgewys met die H2 meeding, is die GL+, teen R 332 900. As ‘n mens dieselfde standaardtoerusting as die H2 wil hê, moet jy na die Suzuki Vitara GLX Outomaties, teen ‘n prys van R 351 900, kyk. Die H2 Luxury Outomaties se prys vergeleke met hierdie mededingers laat hom na ‘n winskoop lyk.

Hoewel ‘n mens kan verstaan dat Suid-Afrikaners skepties is oor Chinese voertuie, bewys die H2 dat dit nie lank meer nodig sal wees nie. Nie net bied hy uitstekende waarde vir geld en behoort sy loopkostes redelik te wees nie, dit is ‘n goed afgewerkte motor met ‘n hoë spesifikasievlak en goeie werkverrigting wat by ‘n groot teikengehoor byval behoort te vind. Dit is die eerste Chinese motor wat sonder voorbehoud aanbeveel kan word en die feit dat daar reeds soveel verkoop is, is ‘n aanduding dat die mark hom, asook die res van die Haval-reeks, sommer gou sal aanvaar. Die Haval H2, veral hierdie model, verdien ‘n ereplek onder MotorPlus se afdak.

 

%d bloggers like this: