Die eerste Honda CR-V is in 1998 in Suid-Afrika bekendgestel. Sedertdien het dit ‘n gunsteling onder Suid-Afrikaanse motoriste geword en elke geslag van die Honda CR-V soos dit bekendgestel is, was uiters gewild. Die vyfde geslag is in 2017 ook in Suid-Afrika bekendgestel en MotorPlus het die topmodel in die reeks, die Exclusive, getoets. Daar is ook drie goedkoper modelle in die reeks; die 2,0 Comfort, die 2.,0 Elegance en die 1,5 T Executive. Die twee 1,5 T-modelle het albei permanente vierwielaandrywing.

Die CR-V word op dieselfde onderstel as die nuwe Civic, wat in 2016 bekendgestel is, gebou en een van die twee enjinkeuses waarmee die Civic beskikbaar is, word ook vir die CR-V gebruik. Die nuwe CR-V is die tweede Honda wat met ‘n turboaangejaagde petrolenjin beskikbaar is; die toetsmotor se enjin van 1,5 liter is presies dieselfde as dié van die Civic. Hierdie enjin lewer 140 Kw teen 5 600 opm en wringkrag van 240 Nm tussen 2 000 en 5 000 opm.

In die verlede is sommige Honda-enjins gekritiseer omdat hulle nie veel wringkrag teen lae toere gelewer het nie, maar dié nuwe enjin het geen sulke probleme nie.  Natuurlik sal ‘n mens ‘n dieselenjin verkies as ‘n woonwa gesleep moet word, maar as sleepvermoë nie van kritieke belang is nie, het die enjin oorgenoeg krag. Die enigste ratkas wat vir die nuwe CR-V-reeks beskikbaar is, is ‘n CVT met sewe gange. Honda moes heelwat kritiek verduur omdat daar nie ‘n handratkas ook beskikbaar is nie; die probleem met hierdie ratkas is dat die handratfunksie, wat met behulp van spane agter die stuurwierl werk, nie deurentyd gebruik kan word nie en dat die ratkas mettertyd terugspring na die outomatiese funksie. Dit is egter net ‘n probleem op die oop pad; in die stad is dit lekker om die outomatiese funksie in swaar verkeer te gebruik.

Die binnekant is regtig baie goed uiteengesit en dit is duidelik dat die ontwerpers geweet het wat hulle gedoen het. Nie almal hou van ‘n digitale instrumentepaneel nie, maar die een waarmee die CR-V toegerus is, is een van die beter voorbeelde hiervan tot dusver, Die toereteller is heel bo; dit lyk na die lang spoedmeters waarmee sommige motors tot omtrent vier dekades gelede toegerus is. Die digitale spoedmeter is onder die toereteller en net onder die spoedmeter is die uitleespaneel vir die ritrekenaar. Die brandstofverbruikmeter se lesing is verwarrend aangesien dit net die oombliklike brandstofverbruik aangee; nie net in syfers nie maar ook deur middel van ‘n grafiese paneel wat van links na regs loop. Die afstand wat nog met die motor afgelê kan word voordat daar weer brandstof ingegooi moet word, word ook gegee. Die temperatuur- en brandstofmeters is onderskeidelik aan die linker-en regterkant. Die veelfunksiestuurwiel het kontroles vir die telefoon en die spoedbeheer net om ‘n paar te noem die inligting van die ritrekenaar wat die bestuurder wil sien, kan ook deur middel van ‘n knoppie gekies word. Die konvensionele ratkieser is net onder die raakskerm, wat die klankstelsel, die tru-kamera, die klimaatbeheer en die satellietnavigasie se inligting bevat. Daar is ook ‘n kamera aan die linkerkant van die voertuig wat werk as jy aandui dat jy links wil draai, of deur ‘n knoppie aan die punt van die beheerstokkie vir die rigtingwysers te druk. Daar is nie ‘n CD-speler nie, en daarom moet ‘n mens maar musiek op ‘n USB-stokkie laai vir die langpad.  Net onder die ratkieser is daar genoeg plek vir los goedjies. Tussen die sitplekke is daar ‘n paneelkissie met ‘n verwyderbare en skuifbare paneel wat groot genoeg is vir ‘n selfoon maar nie vir ‘n tablet nie. Binne-in dié paneelkissie is ‘n 12 volt-kragpunt en USB- en HDMI-sokke.  Daar is ook USB-sokke vir die agterste insittendes.   Die klimaatbeheerstelsel werk baie goed en die panoramiese glassondak is ‘n welkome kenmerk.  Die agterklap werk met kraghulp en kan met behulp van ‘n knoppie regs van die stuurkolom of die afstandbeheer oop- of toegemaak word. Daarby is daar ‘n knoppie in die agterklap waarmee dit toegemaak kan word. Die hoogte waarteen dit oopgemaak word, kan verstel word.

Die Exclusive beskik oor verskeie veiligheidskenmerke wat onder die bestes in sy klas tel. Benewens kenmerke wat ‘n mens as vanselfsprekend in hierdie tipe voertuig kan aanvaar soos ABS-remme met elektroniese remverspreiding en noodremhulp, stabiliteitsbeheer en wegtrekhulp het dié model ook ‘n stelsel wat jou waarsku as jy op die oop pad uit jou baan beweeg, ‘n bykomende kamera aan die linkerkant van die voertuig, outomatiese kopligte en ruitveërs, ‘n remstelsel wat outomaties werk wanneer daar ‘n botsing mag voorkom en aanpasbare spoedbeheer wat die bestuurder in staat stel om die voorste motor teen ‘n vasgestelde snelheid te volg. Die Excluisive word toegerus met allooiwiele van agttien duim met 235/60 R 18-bande en ‘n volgrootte noodwiel is standaardtoerusting.

Die Exclusive se prys is R 626 900, en hoewel hy besonder goed toegerus is, kom hy teen ‘n aantal swaargewigte te staan. Die vraag is of ‘n mens ‘n bakkie-gebaseerde- of doelgeboude sportnutsvoertuig wil hê of nodig het en dit gaan op die ou einde bepaal watter voertuie as mededingers beskou kan word. Onder die bakkie-gebaseerde sportnutsvoertuie is daar natuurlik die Toyota Fortuner 2,8 GD-6 4×4 Outomaties teen R 624 100 en die Ford Everest 3,2 TDCI XLT 4×4 Outomaties teen R 6369 900. Hierdie twee voertuie se veldryvermoë is uitsonderlik en hulle het albei laestrekratkaste en sewe sitplekke. Daarom moet ‘n mens eers doodseker maak of hierdie twee  kenmerke regtig vir jou belangrik is en of jy daarsonder kan klaarkom. Indien jy ‘n woonwa wil sleep, moet jy liewer een van hierdie twee kies; die Honda kan in daardie opsig nie met hulle saamgesels nie.  Daar is egter ook ‘n paar doelgeboude sportutsvoertuie teen ‘n laer prys beskikbaar. Die Mitsubishi Outlander se prys is R 549 900; hy het ‘n 2,4 liter petrolenjin met vier silinders en permanente vierwielaandrywing maar hy verkoop nie baie goed nie., Hierdie model se grootste teenstander is egter die Kia Sportage 1,6 T GT -Line AWD, wat teen R 599 995 verkoop. Daar is min tussen die Sportage en die CR-V te kies. Die topmodelle van twee ander moontlike teenstanders is baie goedkoper; die Nissan X-Trail 2,5 Tekna 4WD en die Ford Kuga 2,0 Eco Boost TitaniumAWD se pryse is R 469 900 en R 497 900 onderskeidelik. As ‘n mens na laasgenoemde twee mededingers kyk, lyk die CR-V duur, veral as ‘n mens in aanmerking neem dat die X-Trail sewe sitplekke het.

Dis jammer dat ‘n mens die frase “as jy hom kan bekostig” op die CR-V van toepassing moet maak, veral omdat dit een modelreeks is waarin niks minder as die topmodel goed genoeg sal wees nie. Die veiligheidskenmerke wat die Exclusive het en wat nie op die ander modelle beskikbaar is nie, is deur en deur die moeite werd, en dan moet ‘n mens ook onthou dat die naasduurste model, die Executive, nie eens satellietnavigasie het nie. As die CR-V se prys wel binne jou bereik is, sal jy nie spyt wees as jy hom kies nie.

%d bloggers like this: