Padindrukke- Hyundai Kona 1,0 TGDI Executive

0 Comments

Een van die marksegmente wat die vinnigste groei, is dié vir kompakte oorkruisvoertuie wat die beste kenmerke van ‘n luikrug en ‘n sportnutsvoertuig kombineer.

Hyundai het sommer twee modellreekse in hierdie segment in die veld gestoot; die Creta wat nou al byna drie jaar op die mark is, en die Kona wat einde 2018 deur hierdie Koreaanse vervaardiger na Suid-Afrika gebring is. Die Kona is op die jong, modebewuste koper gemik en daarom is veral sy kommunikasie- en vermaaklikheidstoerusting uit die boonste rakke.

Die Kona is beskikbaar in twee modelle, naamlik die 1,0 T-GDI Executive met ‘n handratkas en die 2,0 NU Executive met ‘n outomatiese ratkas. Albei modelle het ‘n opvallende buite-voorkoms wat Hyundai se nuwe ontwerprigting vir sportnutsvoertuie uitbeeld. Daar is ‘n dubbele koplig-ontwerp met LED-dagryligte is ‘n uitstaande kenmerk terwyl die sierrooster met ‘n kenmerkende ontwerp spog. Albei modelle het 17 duim-allooiwiele as standaardtoerusting. Daar is vyf kleure om van te kies, en dit sluit skakerings van rooi, geel, silwer en wit in.

MotorPlus het die 1,0 TGDI Executive onder hande geneem. Die Kona is die eerste Hyundai in Suid-Afrika wat toegerus word met ‘n turbo-aangejaagde eenliterenjin met drie silinders. Hierdie enjin lewer 88 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 175 Nm teen tussen 1 500 en 4 500 opm. Hierdie enjin lewer baie goeie werkverrigting en mits jy nie te swaar op die versnellerpedaal is nie, is sy brandstofverbruik baie goed. Gedurende die toetstydperk is ‘n gemiddelde, volhoubare verbruik van tussen 6,5 en 7,0 liter per 100 km aangeteken. Dit beteken dat ‘n tenkafstand van omtrent 700 km met die 50 liter-brandstoftenk moontlik is. Die eenlitermodel het ‘n sesgang-handratkas as standaardtoerusting. Daar is ook ‘n tweelitermodel met ‘n outomatiese ratkas, maar kom ons wees eerlik: wie sal hom kies, veral as die intreevlak-Tucson, die 2,0 Premium, teen net R 10 000 meer beskikbaar is?

Die byderwetse stilering van die Kona trek dadelik die aandag. Aan die voorkant is daar ‘n groot seshoekige sierrooster met drie ligsamestellings. Die LED-dagryligte en die rigtingwyswers is bo gemonteer, die hoofkopligte langs die sierrooster en die misligte heel onder. Aan die kant is daar swart uitgeboude wielboë, wat nie so opsigtelik op die donkergrys toetsmotor was nie, en netjiese allooiwiele met 215/55 R 17-bande. Die buitespieëls het ingeboude rigtingwysers en kan met die druk van ‘n knoppie ingevou word.

Aan die agterkant is daar twee lig-samestellings: die remligte is bo gemonteer en die rigtingwysers en truligte is onder in die agterstamper. Dié onderste ligte is effens kwesbaar as iemand dalk van agter in die motor vasry; dit sou beter gewees het as die rigtingwysers ook bo gemonteer was. Daarby sou dit meer sigbaar vir ander padgebruikers gewees het.

Die binneruim is baie goed afgewerk en die toerustingsvlak is besonder hoog. Die sitplekke is met leer en materiaal oorgetrek en die meeste motors het rooi afwerking op die bekleedsel en die buiterande van die luguitlate en die rathefboom. Daar is ook rooi sitplekgordels en rooi stikwerk op die sitplekke en die stuurwiel. Dit is trouens die afwerking wat met die meeste kleure beskikbaar is; die uitsondering is Acid Yellow, wat as ‘n elektriese geel beskryf kan word. Die afwerking wat gewoonlik rooi is, is hierdie kleur wanneer dit vir die bakwerk gekies word. Jy sal gaande wees daaroor of niks daarvan hou nie. Daar is ‘n raakskerm met ‘n baie goeie klankstelsel, Bluetooth-verbinding, asook versoenbaarheid met Apple Car Play en Android Auto. Soos wat die moderne neiging maar is, skitter ‘n CD-speler in sy afwesigheid, maar daar is twee USB-kragpunte. Dit is voor die rathefboom geleë, en bokant dit is ‘n baie nuttige plek waar ‘n selfoon gebêre kan word wanneer dit gelaai word. Daar is oorgenoeg kop-en beenruimte vir vier insittendes en die bagasiebak is heeltemal groot genoeg vir ‘n gesin.

Die Kona spog met ‘n aantal veiligheidskenmerke, wat ‘n mens nie noodwendig in ‘n motor van hierdie prysklas verwag nie, en wat baie help om botsings te voorkom. Een daarvan is die blindekol-monitor, wat in die buitespieëls gemonteer is. Dit waarsku jou as daar ‘n motor in jou blinde kol op die oop pad is, wanneer jy van baan wil verwissel. Saam met die trukamera is daar ook ‘n stelsel wat jou waarsku wanneer daar iets of iemand agter die voertuig is wanneer die motor in trurat is. Daarby het die Kona ook wegtrekhulp teen ‘n steil opdraand, afdraande-beheer en elektroniese stabiliteitsbeheer. Dit alles maak die Kona ‘n uitstekende keuse vir onervare bestuurders wat andersins geneig sou wees om in ongelukke betrokke te raak.

Daar is al hoe meer vervaardigers wat in hierdie segment meeding en daarom is dit moeilik om net ‘n handjievol teenstanders te kies. Hyundai se eie Creta is op ‘n ander tipe koper gemik, maar ‘n mens kan nie anders as om na albei te kyk wanneer jy by ‘n vertoonlokaal instap nie. Die 1,6 petrol-model met die handratkas kos R 346 900. Die model wat jy gaan kies, gaan van jou begroting en jou behoeftes afhang. MotorPlus het onlangs nóg ‘n mededinger in hierdie segment, die Honda HR-V, getoets en baie van hom gehou. Die prys van die 1,8 Elegance, wat MotorPlus getoets het, is R 419 900. Die feit dat hy net met ‘n CVT-ratkas beskikbaar is, is dalk vir sommige mense ‘n probleem. Die Ford Eco Sport het baie dieselfde soort enjin as die Kona; die topmodel in die reeks is die Titanium, wat R 334 500 kos. Die Renault Captur is baie gewild en word goed deur die motorpers ontvang. Die topmodel, die 88 kW turbo Dynamique, kos R 317 900. Die Haval H2 is in die middel van 2017 bekendgestel en het sedertdien ‘n gewilde keuse geword. Die prys van die topmodel in hierdie reeks, die 1,5T Luxury, is R 284 900. Die groter H6C Luxury se prys is ook heel mededingend, teen R 369 900, maar dalk sal sy brandstofverbruik aan die hoë kant wees.

Die prys van die Kona 1,0 TGDI Executive, wat ‘n waarborg van altesaam sewe jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km insluit, is R 379 900. Dit is dalk effens hoër as sommige mededingers wat hier genome is, maar laat ons eerlik wees; die veiligheidskenmerke waarmee die Kona toegerus is, is van kritieke belang wanneer ‘n koopbesluit geneem moet word. Die Kona is ‘n byderwetse, veilige en uiters aantreklike motor wat met die grootste vrymoedigheid aanbeveel kan word.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: