Breaking News

Padindrukke: Isuzu D-Max 3,0 TD LX 4×4 dubbelkajuit

Deur Daantjie Badenhorst

In 2018 het Isuzu Motors Suid-Afrika (IMSA) besluit om die “KB”-benaming vir sy bakkiereeks met “D-Max” te vervang, terwyl die reeks self ook ‘n paar veranderinge ondergaan het.

Die nuwe LX-handratmodel het sedertien ‘n sesgangratkas verkry en MotorPlus het die kans gekry om die dubbelkajuitmodel onder hande te neem.

Die D-Max verskil nie veel van die KB wat voorkoms betref nie; IMSA het met ‘n reeks vindingryke name vir hul kleure vorendag gekom en die toetsmodel was “Son of a Gun” grys, ‘n donkergrys kleur wat uiters deftig lyk, maar eerder vir die stad as die plaas geskik is, omdat donkergeverfde voertuie maklik stof wys.

Die mooi 18-duim diamantsnit-allooiwiele met 255/60 R 18 General Grabber-bande is onveranderd gelaat en dra by tot die spoggerige voorkoms. Die toetsmodel is met ‘n glasveselkappie in dieselfde kleur as die bakwerk toegerus; dit maak dat enige vrag teen die elemente beskerm word.

Die LX het ‘n rolstaaf, ‘n agterste stamper met ‘n terkstang, kanttrappe en ligdiode-dagryligte is standaardtoerusting. Ongelukkig is die toetsmodel nie met rubbervoering toegerus nie en daar was ‘n paar krapmerke in die laaibak sigbaar. Daarom is rubbervoering vir die laaibak uiters belangrik en bakkie-eienaars word aangeraai om dit reeds met die aankoop te laat installeer,

Daar is ‘n paar kenmerke aan die binnekant wat groot lof verdien. Die LX is ongelukkig die enigste spesifikasievlak wat met ‘n ritekenaar toegerus is, maar om die inligting daarop, soos gemiddelde en oombliklike brandstofverbruik en die afstand wat nog met die brandstof in die tenk afgelê kan word, te kry, kan nie makliker wees nie. Daar is knoppies aan die punte van albei beheerstokkies aan die stuurkolom en enige van die twee kan gedruk word om die verlangde inligting te kry. Ons hoop dat hierdie kenmerk na die hele reeks oorgedra sal word wanneer die nuwe geslag D-Max aanstaande jaar op die mark kom. Die GSI op die instrumentepaneel sal sommige mense laat kopkrap, aangesien sommige mense dit net met die sportiewe Opel Kadette van weleer sal assosieer. Dit staan egter vir “Gear Selection Indicator”; dit dui aan in watter rat die voertuig is, en raai jou aan wanneer om na ‘n hoër rat oor te skakel vir die beste moontlike brandstofdoeltreffendheid.

Daar is twee USB-kragpunte voor die rathefboom; een kan gebruik word om musiek te speel en een om ‘n selfoon te laai. Die boonste paneelkissie aan die passasier se kant is die ideale plek om ‘n selfoon wat gelaai word, te bêre. Daarbenewens is daar ‘n paneelkissie tussen die voorsitplekke. Die bekerhouers in die paneelbord is te klein maar dié tussen die sitplekke is die regte grootte. Die drie paneelkissies vergoed vir die uitermatig klein deursakke. Daar is oorgenoeg plek vir vyf insittendes, en selfs tieners van ongeveer 1,8 meter lank kan gemaklik agter sit. Die swart leersitplekke is elektries verstelbaar.  Die LX beskik oor ‘n trukamera en parkeersensors agter maar ‘n navigasiestelsel is opsioneel beskikbaar terwyl dit standaardtoerusting behoort te wees.

Die nuwe 3,0 TD LX word toegerus met dieselfde drie liter turbo-dieselenjin sy voorganger. Hierdie enjin, wat in die toetsmodel aan ‘n sesgang-handratkas gekoppel is, lewer 130 kW teen 3 600 opm en het ‘n wringkrag van 380 Nm tussen 1 800 en 2 800 opm. Daar sal natuurlik liefhebbers van Isuzu se mededingers wees wat reken dat hierdie syferssleg by dié van hul gunstelingbakkies afsteek, maar die vraag is of meer krag regtig nodig is, veral as ‘n mens in aanmerking neem dat sy sleepkapasiteit 3,5 ton is.

Die ratwisseling is glad en maklik; trurat is weg van die bestuurder af en boontoe. Ons het ‘n gemiddelde brandstofverbruik van tussen 10,3 en 10,7 kilometer per liter behaal; dit is wat ‘n mens van ‘n voertuig in hierdie klas kan verwag. Dit beteken dat ‘n reikafstand van net meer as 800 km met die 80 liter-brandstoftenk moontlik is. Die ritgehalte is nie so stamperig soos dié van die vorige modelle nie, en vergelyk goed met dié van sy mededingers. Dit is ook geen probleem om ‘n gemiddelde snelheid van 160 km/h op die oop pad te handhaaf nie; dit was selfs twintig jaar gelede onmoontlik. Daarom is die vraag of ‘n mens hoegenaamd meer krag of beter werkverrigting nodig het.

Daar is geen tekort aan mededingers nie, en veral die Toyota Hilux en Ford Ranger is lankal topverkopers in Suid-Afrika. MotorPlus het verlede jaar ‘n reis van Pretoria na Kaapstad met Toyota se regstreekse mededinger, die Hilux 2,8 GD-6 Legend 50 4×4 onderneem, en ons kan getuig dat die Hilux ‘n uiters maklike voertuig is om mee saam te leef en om baie goeie redes die topverkoper is. Soos die Isuzu is die Hilux egter ook gereed om veranderinge te ondergaan hoewel daar nie ‘n splinternuwe vorm bekendgestel sal word nie. Ons is bewus van speisiale aanbiedinge vir die Hilux; die 4×4-model is beskikbaar teen die prys van die 4×2, eerder as die gewone prys van R 684 500.Die meeste modelle in die Ford Ranger-reeks word met ‘n outomatiese ratkas met ses of tien gange toegerus, maar die 3,2 TDCI XLT is nog met die sesgang-handratkas beskikbaar; hierdie model se prys is R 670 100. Die Nissan Navara is met twee spesifikasievlakke beskikbaar, maar die enigste 4×4 dubbelkajuit met ‘n handratkas is die minder luukse SE, teen ‘n prys van R 617 7000. As jy ‘n LE of Stealth 4×4 wil hê, moet dit ‘n model met ‘n outomatiese ratkas wees. Die toetsmodel se grootste teenstander staan egter reg langs hom op die vertoonvloer. IMSA het met ‘n skitterende idee vorendag gekom; die X-Rider was tot dusver uiters gewild en nou is ‘n 3,0 TD 4×2-weergawe met ‘n outomatiese ratkas by die reeks gevoeg. Hierdie model kom sonder klimaatbeheer, die ritrekenaar, die aansitknoppie, elektries verstelbare sitplekke en vierwielaandrywing en teen R 551 100 lyk hy na uitstekende waarde vir geld, hoewel die meer sportiewe afwerking nie noodwendig by meer konserwatiewe kopers byval sal vind nie. Ons hoop ons kan gou een toets.

Die feit dat die D-Max, te midde van die naderende bekendstelling van die nuwe geslag, steeds die derde beste verkoper in die bakkie-segment is, behoort niemand te verbaas nie. Elke opeenvolgende Isuzu-bakkie het ‘n reputasie vir betroubaarheid en duursaamheid opgebou en daar is baie mense wat al hul soveelste Isuzu besit en in geen ander bakkie belangstel nie. Ons hou regtig baie van die hudige modelreeks en hoewel hy in sekere opsigte sy ouderdom wys, is daar geen rede om hom nie aan te beveel nie. Hy is net so geskik vir harde werk en vir ontspanningsdoeleindes en steek hoegenaamd nie by sy mededingers af nie. Die toetsmodel se prys van R 6500 500 sluit ‘n waarborg van vyf jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km in. Dit is heel mededingend, maar die moontlikheid bestaan dat daar in die nabye toekoms spesiale aanbiedings by die handelaars gaan wees. Voordat jy egter op hierdie model besluit, maak eers doodseker of die 3,0 TD X-Rider nie dalk ‘n beter keuse sal wees nie.

 

%d bloggers like this: