Die Isuzu KB 300 LX D-Teq 4×4 dubbelkajuit is die top 4×4 dubbelkajuit-model in die Isuzu bakkie-reeks. Die huidige reeks is nou al die vyfde geslag in Suid-Afrika, wat net weer bevestig dat Isuzu ‘n gevestigde rolspeler in die Suid-Afrikaanse bakkie-mark is. Reeds al vanaf 1968 om presies te wees.

Die Isuzu bakkie-reeks is bied ‘n keuse van drie turbo-aangedrewe dieselenjins en twee ratkaste en drie bakvorms, naamlik ‘n enkelkajuit, ‘n kajuit en ‘n half (“Extended Cab”) en ‘n dubbelkajuit (“Crewcab”). Die afwerkingsvlakke waaruit voornemende kopers kan kies, is die basiese model, die Fleetside (enkelkajuit), die Hi-Rider (Extended Cab en dubbelkajuit), LE, X-Rider en LX. Diegene wat al ‘n pad met vorige geslagte Isuzu KB-dieselmodelle gestap het, sal weet dat dié bakkies uiters geskik was vir harde werk. Die nuwe model is steeds ‘n werker, maar bied ook ‘n wyer reeks geriefs- en hoogstaande motortegnologie-items aan in veral die luukser modelle om enige ander beskikbare bakkie-reeks in Suid-Afrika punt-vir-punt aan te durf.

dav

Die KB 300 LX D-Teq LX 4×4-dubbelkajuit het ‘n chroom-sierrooster en allooiwiele met 255/60 R 18-bande as standaardtoerusting. Aangesien baie eienaars sekerlik woon-of sleepwaens met hul bakkies sleep, is ‘n trekstang ‘n welkome standaardkenmerk. Dit beklemtoon ook die hele reeks se sleepvermoë van 3,5 ton.

Aan die binnekant is die 300 LX baie goed toegerus en daar is selfs ‘n paar kenmerke, wat eienaars van sommige mededingers sal verras. Anders as die 4×2-modelle is die 4×4-dubbelkajuit met leerbekleedsel toegerus; iets wat selfs sommige mededingers se vlagskipmodelle nie eens het nie.

Die veelfunksiestuurwiel is ook met leer oorgetrek. Daar is oorgenoeg plek vir los goedjies, en ‘n uiters nuttige kenmerk is ‘n klein kompartement regs van die stuurwiel waar die sleutel gebêre kan word. Daar is sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie; die bestuurder hoef net ‘n knoppie op die verchroomde deurhandvatsel te druk om toegang tot die kajuit te kry, mits die sleutel in sy of haar sak is. Daar is ook twee paneelkissies aan die passasierskant. Die boonste een is die ideale bêreplek vir ‘n selfoon wat deur middel van die twee USB-sokke aan die onderkant van die paneel waar die inligting-en-vermaakstelsel geleë is, gelaai word. Daarby is daar ‘n bykomende paneelkissie tussen die twee voorsitplekke. Aan die bokant van die middelkonsole, links van die instrumentepaneel, is daar nog ‘n kompartement met ‘n deksel.

Die skerm van die inligting-en-vermaakstelsel is nie baie groot nie, maar dit is nie ‘n groot probleem nie. Dié stelsel bevat satellietnavigasie, ‘n tru-kamera en ‘n klankstelsel met Bluetooth-verbinding. Die nuwe mu-X, wat onlangs bekendgestel is en op die KB-reeks gebaseer is, het ‘n groter vertoonskerm; dit sal beter wees as dié skerm ook op minstens die LX-modelle gebruik word.

Die klimaatbeheerstelsel werk baie goed en die kontroles is baie maklik om te gebruik. Die LX-modelle het as as standaardtoerusting ‘n ritrekenaar, wat inligting soos onmiddellike- en gemiddelde brandstofverbruik, asook die afstand wat nog met die brandstof in die tenk afgelê kan word. Aan die punte van die twee beheerstokkies aan die stuurkolom is die knoppies wat gedruk word om toegang tot die inligting van die ritrekenaar te kry; dit werk beter as dié van enige van sy mededingers.

Wat ‘n verrassing met die toetsvoertuig was, was dat ‘n vyfgangratkas steeds vir die handratmodelle, gebruik word. Die gewildheid van outomatiese ratkaste in hierdie tipe bakkies is besig om toe te neem, maar daar is steeds ‘n plek vir bakkies met handratkaste aangesien nie almal van outomatiese ratkaste hou nie. Mense koop nie 4×4-bakkies om versnelwedrenne te wen nie, en daarom is snelheid nie so belangrik nie, maar die KB 300 LX kan die nasionale snelheidsperk van 120 km/u met gemak handhaaf en as dit moet tot selfs wikkel op 140 km/u. Die ratwisseling is maklik en die koppelaar is nie te swaar nie. Die vibrasie deur die rathefboom, wat ‘n kenmerk van die vorige modelle was, is in hierdie reeks byna heeltemal uitgeskakel.  Die toetsmodel is toegerus met ‘n 3 liter turbo-aangedrewe dieselenjin wat ‘n kraglewering van 130 kW teen 3 600 opm opwek en wringkrag van 380 Nm tussen 1 800 en 2 800 opm lewer. Die toetsmodel se gemiddelde brandstofverbruik was 9,5 liter per 100 km, wat ‘n tenkafstand van net meer as 800 km met ‘n brandstoftenk van 80 liter moontlik maak.

Mededingers

Omtrent twintig jaar gelede was die Isuzu die algehele markleier, maar dit het intussen verander en daar is tans ‘n tweestryd tussen twee gedugte mededingers wat nie oor die hoof gesien kan word nie. Die Toyota Hilux is natuurlik ‘n legende op sy eie reg en die jongste model het pas ‘n aantal detailveranderinge ondergaan. Die nuwe neus lyk beter as dié van die vorige een en daar is geen rede hoekom die nuwe Hilux-model nie so gewild soos altyd sal wees nie. Die Hilux-model wat met die 300 LX meeding, is die Toyota Hilux 2,8 GD-6 Raider 4×4, wat R 587 600 kos.

Die ander gunsteling onder bakkie-liefhebbers is die Ford Ranger; die 3,2 XLT dubbelkajuit 4×4 se prys van R 610 500 is effens hoog en tensy daar ‘n baie goeie rede is hoekom ‘n mens die 3,2 liter-enjin nodig het, is die Ford Ranger 2,2 XLT 4×4 teen R 507 790 beter waarde vir geld. Die Ranger-reeks gaan in 2019 groot veranderinge ondergaan en daar word ook reeds bespiegel dat nuwe enjins en ratkaste deel van die nuwe Ranger-reeks gaan wees.

Dit is egter nie net die topverkopers wat die moeite werd is nie. Die Mitsubishi Triton word ongelukkig nie in dieselfde asem as sy teenstaanders genoem nie, al bied die Triton 2,4 Di-D 4×4 teen R539 995 uitstekende waarde vir geld.

Nog ‘n bakkie wat verdien om beter te verkoop, is die Nissan Navara; die 2,3 LE, baie dieselfde as die model wat MotorPlus getoets het, maar met vierwielaandrywing en ‘n handratkas, kos R 596 500.

Die een bakkie wat die toetsmodel egter troef, kom uit Isuzu Motors Suid-Afrika (IMSA) se eie stal. Vroeër in 2018 is die uiters aantreklike X-Rider, wat aanvanklik net in beperkte getalle beskikbaar was, as ‘n permanente model bekendgestel en ‘n 4×4-model is gou by die reeks gevoeg. Die X-Rider word toegerus met ‘n turbodieselenjin van 2,5 liter wat ‘n kraglewering van 100 kW teen 3 600 opm bied en ‘n wringkrag van 320 Nm teen 1 800 en 2 800 opm lewer. Die X-Rider spog met kenmerke soos leersitplekke, ‘n sportiewe voorkoms met onder meer ‘n rolstaaf en byna presies dieselfde allooiwiele as die LX, dagryligte en ‘n trekstang, maar kom sonder ‘n trukamera, satellietnavigasie en klimaatbeheer klaar. Die prys van R 463 200 klink te goed om te glo en die kleiner enjin se kraglewering en wringkrag is nie veel minder as dié van die LX nie. Die X-Rider is ongelukkig nie met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar nie.

Die prys van die Isuzu KB 300 LX D-Teq LX 4×4-dubbelkajuit is R 580 100, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km insluit. Isuzu Motors Suid-Afrika (IMSA) het ook nou ‘n finansieringsplan bekendgestel wat eienaars in staat stel om hul voertuie na drie jaar te vervang, terug te gee of te behou. Deur die jare het die KB-reeks hulself egter bewys as voertuie, wat indien hulle reg onderhou word, tot honderde duisende kilometer (in sommige gevalle selfs ‘n miljoen kilometer) in staat is. Daar is min bakkies wat so ‘n goeie balans tussen ‘n werkesel en ‘n ontspanningsvoertuig handhaaf; die KB kan sy moue oprol en hard werk as dit nodig is, maar hy is net so geskik vir diegene wat hom as ‘n leefstylvoertuig wil gebruik. Goed, dalk is hy nie so tegnologies so ver gevorderd soos sy vernaamste mededingers nie, maar dit behoort nie vir sy teikenmark saak te maak nie. Die Isuzu se reputasie vir betroubaarheid en duursaamheid behoort in elk geval swaarder te weeg en daarom behoort dit deurslaggewend te wees wanneer ‘n koopbesluit geneem word. Voornemende kopers moet egter eers seker maak of die X-Rider nie dalk ‘n beter kopie sal wees nie, tensy die 300 LX se bykomende kenmerke van kritieke belang is en ‘n mens hom wel kan bekostig.

%d bloggers like this: