Deur Daantjie Badenhorst.
In 2016 het General Motors ‘n nuwe model by die Isuzu KB-reeks gevoeg wat aanvanklik net ‘n beperkte m odel sou wees maar, weens groot aanvraag, ‘n permanente deel van die reeks geword het.
Die X-Rider het trouens so gewild geword dat ‘n 4×4-weergawe en ‘n X-Rider Black, wat regtig ‘n beperkte model is, by die reeks gevoeg is. Hoewel General Motors hom  intussen aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek het, is Isuzu Motors Suid-Afrika nou ‘n vervaardiger in eie reg. Motor Plus het ‘n X-Rider 4×4 getoets om vas te stel of die Isuzu nog by die topverkopers in die bakkie-segment kan saamgesels.
Die X-Rider is gebaseer op die KB 250 LE, en anders as wat ‘n mens mag dink, is die X-Rider nie ‘n plaasvervanger vir die LE nie. Die buitevoorkoms van die X-Rider is baie meer sportief as dié van die LE. Die sierrooster is in swart afgewerk met die Isuzu-naam in rooi wat daarmee kontrasteer. Die elektriese buitespieëls is ook in swart afgewerk en allooiwiele van 18 duim met 225/60 R 18-bande wat in swart en chroom afgewerk is.
Die swart rolstaaf en kanttrappies, elk met die X-Rider- embleem, dra verder tot die sportiewe voorkoms by en diegene wat dit oorweeg om ‘n woonwa te sleep, sal bly wees om te sien dat ‘n trekstang standaardtoerusting is. Die toetsvoertuig was toegerus met ‘n harde bakseil wat maklik is om te verwyder en terug te sit; dit is een van die beste maniere om ‘n bakkie se laaiarea veilig te hou en omdat dit ‘n dubbelkajuit is, is dit dalk beter as ‘n kappie.
Die binnekant verras maar stel ook teleur, en ‘n mens kan sien dat die Isuzu-reeks nie meer vandag se kind is nie. Aan die positiewe kant is daar leerbekleedsel, ‘n veelfunksiestuurwiel wat met leer oorgetrek is en wat rooi stikwerk bevat, die X Rider-embleem wat in die kopstutte geborduur is en klavierswart afwerking op die paneelbord en die deurpanele. Daar is ook genoeg bêreplek vir los goedere en wanneer ‘n selfoon deur middel van ‘n USB-kabel gelaai word, kan dit in die boonste paneelkissie aan die voorste passasier se kant gebêre word. Die plek bokant die klankstelsel is nog daar en ‘n welkome weglating in vergelyking met die 300 LX is die deksel, wat nie altyd maklik is om oop en toe te maak nie. Die enigste nadeel is dat ‘n mens nie ‘n selfoon daar kan bêre as dit warm is nie.
Daar is ook ‘n nuttige plek regs van die stuurkolom waar sleutels gebêre kan word. Daar is egter ook ‘n paar kenmerke wat kritiek verdien, en die belangrikste hiervan is die inligting-en-vermaakstelsel. Dit bevat net die nodigste funksies en hoewel Bluetooth-verbinding standaardtoerusting is, was dit ‘n gesukkel om ‘n selfoon te koppel. Die afstand wat ‘n mens nog kan aflê voordat daar weer brandstof ingegooi moet word, word aangedui, maar ‘n volledige ritrekenaar sou ‘n welkome toevoeging gewees het. Daar is wel ‘n ratwyser wat aandui wanneer daar na ‘n ander rat oorgeskakel moet word om die beste moontlike brandstofverbruik te verseker.  Nog ‘n kenmerk wat die Isuzu se ouderdom wys, is ‘n afstandbeheer wat nie vas aan die sleutel is nie.
Daar is drie enjins vir die Isuzu-reeks beskikbaar, en die dubbelkajuitmodelle bied ‘n keuse tussen twee turbodieselenjins van 2,5 of drie liter. Die X-Rider word toegerus met die 2,5 liter D-Teq-enjin, wat beskikbaar vir enkelkajuit-, Extended Cab- en dubbelkajuitmodelle. Hierdie enjin lewer 100 kW teen 3 600 opm en wringkrag van 320 Nm teen tussen 1 800 en 2 800 opm. Die X-Rider is net met ‘n vyfgangratkas beskikbaar maar hoewel sommige mededingers ses gange bied, is vyf eintlik genoeg en  dit is buitendien nie ‘n probleem om ratte te wissel nie, hoewel outomatiese ratkaste toenemend gewild word.
  Die dae toe ‘n bykomende rathefboom gebruik is om vierwielaandrywing in hoë of lae strek te skakel, is verby, hoewel een of twee mededingers dit nog het.  Daarvoor is daar ‘n knop tussen die voorste sitplekke. Dit was nie moontlik om die X-Rider se  veldryvermoë op die proef te stel nie, maar daar is geen rede om daaraan te twyfel nie aangesien hy oor ‘n laestrekfunksie en ‘n sluitbare ewenaar beskik. Volgens die vervaardigers is die X-Rider se gemiddelde brandstofverbruik 7,7 liter per 100 km, wat beteken dat ‘n reikafstand van meer as 900 km met die 80 liter-brandstoftenk moontlik is.
Die X-Rider is een van die min voertuie op die plaaslike mark wat uniek is. Geen ander vervaardiger bied ‘n dubbelkajuit met ‘n kleiner enjin wat ook sportiewe afwerking bied nie, en dié wat wel met intreevlak-enjins toegerus is, ding eerder mee met die 250 LE.  Die X-Rider 4×4 kos R 463 200, en daar is nie meer ‘n 250 LE met vierwielaandrywing beskikbaar nie. Die Toyota Hilux wat prysgewys met die X-Rider meeding, is die 2,4 GD-6 SR 4×4, wat nie naastenby so goed toegerus is nie. Die luukser SRX se prys is R 506 000.  Die Ford Ranger 2,2 TDCI XLT 4×4-handrat kos R 491 990, en hy is baie beter toegerus, maar die Ranger-reeks gaan vroeg aanstaande jaar groot veranderinge ondergaan.  Die Nissan NP 300 Hardbody is weer in ‘n 2,5 TDi 4×4 dubbelkajuit beskikbaar teen ‘n prys van R 370 900, maar hy het lank al sy ouderdom begin wys.
Dis maklik om te verstaan hoekom die X-Rider so ‘n gewilde toevoeging tot Isuzu se reeks is. Dit is ‘n uiters aanteklike bakkie wat ewe geskik is vir werk en ontspanning is en wat jare se betoubare diens kan lewer. Soos die res van die Isuzu-reeks word die X-Rider gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 120 000km, ‘n waarborg teen korrosie van vyf jaar ongeag die voertuig se kilometerlesing en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000km. Die vervaardiger het ook onlangs ‘n finansieringsplan bekendgestel ingevolge waarvan ‘n eienaar sy of haar voertuig elke drie jaar kan vervang indien nodig. Hoewel daar sekere kenmerke is wat ‘n mens daaraan herinner dat die X-Rider nie heeltemal met sommige mededingers kan saamgesels nie, is niks daarvan so belangrik dat dit ‘n koopbesluit behoort te beïnvloed nie. Om die waarheid te sê; daar is min bakkies wat die rol van werkesel en ontspanningsvoertuig so goed kan vervul, veral teen hierdie prys, en daarom kan hy steeds baie sterk aanbeveel word.
%d bloggers like this: