Deur Daantjie Badenhorst

 

In die 1960’s het Japanse motor-vervaardigers die marksegment vir twee-ton vragmotors geskep en modelle soos die Nissan Caball, die Isuzu Elf, die Mazda E 2000 en die Toyota Dyna het uiters gewild geword onder diegene wat op soek was na ‘n werkesel wat groter as ‘n bakkie was maar omtrent net so maklik was om te hanteer.

Die Japanse mededingers in hierdie klas het deur die jare groter en duurder geword, met die gevolg dat ‘n gaping ontstaan het vir ‘n meer bekostigbare vragmotor wat steeds groot genoeg vir die entrepreneur of boer wat ‘n werkesel nodig het, sou wees. JMC het, sedert sy toetrede tot die Suid-Afrikaanse mark tien jaar gelede veral op die platteland sukses met hul reeks handels-voertuie behaal en een van die dié vervaardiger se staatmakers is die Carrying-vragmotor-reeks. Motor Plus het die intreemodel, die 1,6 ton SWB getoets, veral aangesien hierdie tipe voertuie min aandag in die motorpers kry.

Die ontwerp van die Carrying se kajuit verskil nie veel van dié van sy mededingers nie, behalwe dat dit nie so gerond soos dié van sy Koreaanse teenstanders is nie. Dit is egter ‘n ontwerp sonder fieter-jasies en daar kan, vanuit ‘n praktiese oogpunt, nie eintlik fout daarmee gevind word nie. Die groot vertikale buitespeëls maak dit maklik om te sien wat om jou gebeur en die plat laaibak met valkante maak dit soveel makliker om ‘n vrag op en af te laai. Die toetsvoertuig is met rubbervoering toegerus; dit is ‘n noodsaaklike bykomstigheid vir ‘n werkesel. Die swart staal-wiele word met 215/75 R 15-bande toegerus, en anders as met die groter Carrying-modelle is daar enkele- eerder as dubbele agterwiele.

Soos met groter vragmotors moet jy die kajuit kantel om by die enjin uit te kom, en as jy dit eers gedoen het, kry jy toegang tot die bekende en beproefde Isuzu 2,8 liter turbo-diesel enjin wat homself reeds as uiters duursaam en betroubaar bewys het. Hierdie enjin lewer 84 kW teen 3 600 opm en wringkrag van 235 Nm teen 2 300 opm en word gekoppel aan ‘n vyfgang-handratkas. Die kort rat-hefboom is op die vloer geleë, en hoewel ‘n mens aanvanklik effens sukkel om ratte te wissel, word dit naderhand nogal maklik. Dit is moontlik om 100 km/h op die snelweg te handhaaf, maar soos wat die geval met die meeste Isuzu-enjins van vroeër jare is, is hierdie een raserig. Daarom is dit nie juis ‘n goeie idee om dit te lank te doen nie, selfs al weet jy dat hy daartoe in staat is. Die een meganiese aspek wat regtig verbeter behoort te word, is die remme, want jy wil nie skielik rem trap wanneer ‘n verkeerslig rooi slaan, of jy in ‘n noodsituasie beland nie. Wanneer die reeks vervang word of verbeteringe ondergaan, is dit die eerste kenmerk wat aandag moet kry; sluitweer-remme met nood-remhulp sal ‘n groot verskil maak. Aangesien die stuurkolom baie naby aan vertikaal gemonteer is, kan ‘n mens verstaan hoekom ‘n lugsak nie beskikbaar is nie. Die ritgehalte is stamperig as daar nie ‘n vrag gedra word nie, maar dit verbeter wanneer ‘n vrag wel gelaai word. Volgens die vervaardigers is die Carrying 1,6 ton se gemiddelde brandstof verbruik 12 kilometer per liter; ‘n goeie syfer vir ‘n voertuig in hierdie klas. Dit beteken dat ‘n reik-afstand van ongeveer 750 km met die brandstof-tenk van 63 liter bereik kan word.

Die binneruim van die Carrying bevat ‘n paar verrassende kenmerke. Die Lux word van die gewone model onderskei deur middel van elektriese vensters, lugversorging en ‘n radio met ‘n USB-kragpunt waarmee ‘n selfoon gelaai kan word. Veral die lugversorging en USB-kragpunt is belangrik vir diegene wat baie tyd agter die stuur deurbring. Die verdeelde bank-sitplek het plek vir drie mense, met ‘n aparte bestuurder-sitplek en ‘n handrem wat langs die bestuurder-sitplek geleë is. Daar is oorgenoeg plek vir los goedere; twee paneelkissies aan die passasier se kant en ‘n breë pakkiesrak onder die asbak en bekerhouers. Die klein bêreplek bokant die radio is nie ideaal vir sleutels of ‘n selfoon nie, want sodra jy oor ‘n spoedhobbel ry, val dit uit. Dis beter om een van die paneel-kissies daarvoor te gebruik. Die ontwerp van die bekerhouers kan verbeter word, aangesien dit moeilik is om ‘n koeldrank bottel van 500 ml staan te maak. Die verstelbare stuurkolom maak dit maklik om ‘n gemaklike bestuurs-posisie te kry.

Die Carrying 1,6 ton het drie regstreekse mededingers op die plaaslike mark; albei is van Koreaanse herkoms en hulle het hulself as uiters gewilde werkesels bewys. Die Hyundai H 100 se groot voordeel is dat hy in Suid-Afrika vervaardig word en deur die beste waarborg op die mark gerugsteun word. Sy prys van R 269 900 klink effens hoog, maar daar is goeie redes vir sy gewildheid. Kia se K 2700 is een van twee mededingers wat dié Koreaanse vervaardiger in hierdie segment in die veld stoot. Sy prys is R 260 995, en weer eens tel ‘n groot handelaarsnetwerk baie sterk in sy guns. Die nuwe Toyota Dyna val in omtrent dieselfde kategrorie en aangesien dit ‘n Toyota is, kan ‘n mens seker wees dat daar oral ‘n handelaar sal wees. Ongelukkig word sy prys nie op dié vervaardiger se webtuiste aangedui nie, maar dit behoort baie dieselfde te wees.

Die Carrying 1,6 ton moet beoordeel word as die eerlike, pretensie-lose en byna kompromis-lose werkesel wat dit is. As gerief vir jou belangrik is, moet jy eerder ‘n konvensionele enkel-kajuit-eenton-bakkie oorweeg, maar as jy op soek is na ‘n voertuig wat nie bang is om sy moue op te rol en hard te werk nie, moet jy dalk ‘n besoek by jou naaste JMC-handelaar gaan aflê.

%d bloggers like this: