Padindrukke: JMC Vigus 5 dubbelkajuit 4×2 en 4×4

0 Comments

Deur Daantjie Badenhorst.

Dit is nou al tien jaar sedert JMC met ‘n reeks bakkies wat op vroeë weergawes van die Isuzu KB gebaseer is, tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree het.

Die JMC BD en Boarding-reekse het hul plek in die mark volgestaan, al was dit net met beperkte verkope. Die feit is hulle kon 10 jaar in ‘n baie puntenerige bakkie-mark in Suid-Afrika oorleef het. In 2014 het JMC ‘n splinternuwe bakkie, bekend as die Vigus, in Suid-Afrika, vrygestel.

Die jongste Vigus, bekend as die Vigus 5, het pas op die mark gekom en MotorPlus het nou die geleentheid gekry om albei modelle in die reeks, die 4×2 en 4×4-dubbelkajuit te toets.

Die meeste Chinese vervaardigers het tot dusver vennootskappe met gevestigde vervaardigers aangegaan; dit is ook die geval met JMC. Die BD en Boarding-reekse het van Isuzu-enjins gebruik gemaak, maar JMC het besluit om ‘n Ford-enjin vir die Vigus en later ook die Vigus 5, te gebruik. Dit is die 2,4 Puma-turbodieselenjin wat ook al in die Ford Transit en die laaste Land Rover Defender voorgekom het. Hierdie enjin lewer 103 kW en ‘n wringkrag 310 Nm. Dis voldoende krag vir algemene rondry en om ‘n een ton vrag te karwei, maar sal dalk skrik as jy iets swaar wil sleep.

Albei die 4×4 en 4×2 Vigus 5-bakkies se werkverrigting is heeltemal goed genoeg, en hoewel versnelling en topsnelheid glad nie vir die teikenmark belangrik is nie, is dit heeltemal moontlik om 120 km/h op die oop pad te handhaaf. Die vyfgangratkas is heeltemal voldoende en ‘n mens het nie juis ‘n behoefte aan ‘n sesde rat nie. As ‘n mens die bakkie eers  gewoond geraak het, is dit maklik om ratte te wissel. Die gemiddelde brandstofverbruik vir die 4×2 is 8,7 liter per 100 km, en 9,3 vir die 4×4. Volgens die vervaardiger hou albei modelle se brandstoftenks 68 liter. Toe ons die 4×2 in ontvangs geneem het, het die ritrekenaar gewys dat ons 942 km kon aflê voordat dit nodig sou wees om brandstof in te gooi.

Die mees opvallende kenmerk wat die Vigus 5 se buite-stilering betref, is die neus, wat ‘n uitgeboude voorkoms het. Almal wat die twee toetsvoertuie gesien het, het uiters positiewe kommentaar daaroor gelewer en die nuwe ontwerp kan as ‘n sukses beskou word. Die res van die stilering is baie dieselfde as die vorige model, wat weliswaar die toets van die tyd baie goed deurstaan het. Benewens die 4WD-kenteken op die agterklap is die enigste verskil die kanttrappe wat standaardtoerusting vir die 4×4 is. Sommige mense sal dink die allooiwiele met 265/70 R 16-bande is effens klein, maar die voordeel is dat nie so duur sal wees om te vervang nie. Albei toetsvoertuie is met rubbervoering, ‘n móét vir enige bakkie, toegerus, en daar is stewige hakke aan kant van die laaibak vir diegene wat ‘n bakseil wil aanbring.

Die binnekant is toegerus met die meeste kenmerke wat ‘n mens in ‘n bakkie van hierdie klas kan verwag, behalwe satellietnavigasie en ‘n trukamera; agterste parkeersensors vergoed egter vir die gebrek aan ‘n kamera. Die rubbervloerbedekking is eintlik ‘n groot voordeel vir ‘n bakkie aangesien dit baie makliker is om skoon te maak as matte en hiervoor verdien die vervaardigers volpunte. Die swart leersitplekke is nog ‘n uitstaande kenmerk. Die inligting-en-vermaakstelsel volg die modern neiging deur nie ‘n CD-speler te bevat nie maar verder is feitlik alles wat ‘n mens sou verwag, teenwoordig. Dit is maklik om Bluetooth in te stel, en om ‘n telefoonoproep te beantwoord. Die veelfunksiestuurwiel bevat nie die kontroles daarvoor nie, maar ook vir die spoedbeheer, en die verstellings vir die radio. Die USB-kragpunt is op die beste moontlike plek geleë; in die paneelkissie tussen die sitplekke. Dit beteken dat ‘n mens ‘n selfoon kan laai deur middel van ‘n kragkabel en daarvan kan vergeet, met die gevolg dat dit nie jou aandag kan aftrek nie. Die enigste twee verskille tussen die 4×2 en die 4×4 aan die binnekant is dat die 4×4 ‘n gryphandvatsel in die A-pilaar vir die voorste passasier het (dit is nodig as gevolg van die 4×4 se hoër grondvryhoogte) en die knop agter die rathefboom waarmee  vierwielaandrywing, in hoë- of laestrek, geskakel word. Die kajuit beskik oor oorgenoeg kop- en beenruimte vir vyf mense, en daar is ‘n 12 volt-kragpunt vir die agterste insittendes.

Volgens ‘n paar mense wat saam met ons gery het, is die ritgehalte effens stamperig en daarom nie heeltemal in die klas van meer gevestigde mededingers nie, maar dan moet ‘n mens onthou dat die Vigus 5 baie goedkoper is. Dit is ook nie heeltemal onmoontlik om met sy ritgehalte saam te leef nie. Daar is skryfremme op al vier wiele en die remstelsel beskik oor ABS en elektroniese remverspreiding.

Dit is makliker om mededingers vir die 4×2 te kry as vir die 4×4. In die 4×2 se geval is die Vigus 5 se vernaamste mededingers die GWM Steed 6 en die Mahindra PikUp.  Die JAC T6 2,8 Lux kos R 304 900, maar hy is nog heeltemal onbekend. Mahindra het ‘n goedkoper weergawe van die Pik Up-dubbelkajuit, bekend as die S6, teen R 304 999 bekendgestel, maar ons raai voornemende kopers aan om eerder die S 10, teen R 338 999, te kies. Die GWM Steed-reeks, waarvan ons al die 5 en die 5E onder hande geneem het, is ook die ondersoek werd; die model wat prysgewys die naaste aan die Vigus 5 4×2 is, is die Steed 6 2,0 VGT XScape, die vlagskip van die GWM Steed-reeks. Die vraag is egter of die Steed 5E Xscape, teen R 279 900, nie dalk beter waarde vir geld bied nie.

Die JAC en die Mahindra is ook met vierwielaandrywing beskikbaar; die JAC se prys is R 349 900 en dié van die Mahindra Pik Up S 6 en S 10 is R 335 999 en R 369 999 onderskeidelik. Die Mahindra S6 en S 10 is ook as Karoo-modelle met enkele bykomstighede beskikbaar, maar dis beter om die standaardmodelle met die Vigus 5 te vergelyk aangesien die Karoo-modelle se bykomstighede kosmeties van aard is. Die enigste GWM wat as ‘n 4×4 beskikbaar is, is die Steed 5 2,0 VGT teen R 269 900, maar wat belangrike veiligheidskenmerke betref, het hy geen kans teen die Vigus 5 nie; daarom is hy nie so geskik vir alledaagse gebruik nie. Die pryse van Japanese mededingers soos die Toyota Hilux en die Isuzu D-Max is baie hoër as ‘n mens die spesifikasievlak van die Vigus 5 in aanmerking neem. ‘n Mens moet ‘n D-Max LE of ‘n Hilux SRX kies om ‘n spesifikasievlak te kry wat met dié van die Vigus 5 kan vergelyk.

Die Vigus 5 word gerugsteun deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km en padbystand van drie jaar ongeag die voertuig se kilometerlesing.

Die 4×2 se prys is R 308 000 en dié van die 4×4 is R 364 000.

Die vraag is of dié groot prysverskil tussen die twee modelle regverdigbaar is? Dit hang van ‘n mens se behoeftes en leefstyl af. Indien jy nie sonder ‘n laestrek-ratkas kan klaarkom nie, weens werksomstandigede of omdat jy dalk gereeld moeilike paaie aandurf, is dit die moeite werd om meer te betaal. Indien dit nie absoluut noodsaaklik is nie, is die prysverskil heeltemal te groot, en ‘n mens kan eerder bykomstighede soos kanttrappe en ‘n kappie of bakseil aanbring en steeds minder in totaal betaal as vir ‘n 4×4.

Watter model ‘n mens ook al kies; die Vigus 5 is een van die mees onderskatte bakkies op die plaaslike mark. Hoewel dit nie in dieselfde klas as ‘n Hilux, Ranger of Isuzu ten opsigte van naverkoopwaarde kan meeding nie, is hy egter heelwat goedkoper. Die Ford-gebaseerde enjin het homself oor en oor bewys en daarom behoort daar geen vrae oor betroubaarheid of duursaamheid te wees nie. Dit is bakkies vir die spaarsamige wat ‘n bakkie vir 10 jaar of meer wil gebruik en nié om net daarmee vir twee jaar te spog nie, voordat dit weer vervang word nie.

 

Kry die jongste pryse en ander inligting op die JMC Suid-Afrika webwerf.

 

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: