Deur Daantjie Badenhorst.

Sedert die Landwind 5 in 2015 in Suid-Afrika bekendgestel is, het hy in klein getalle verkoop, maar steeds genoeg om sy voortgesette bemarking volhoubaar te hou.

Die reeks is intussen uitgebrei met die toevoeging van twee modelle met ‘n outomatiese ratkas met agt gange, waaronder ‘n nuwe topmodel met die gepaste (?) Flagship-benaming is bekendgestel. MotorPlus het laasgenoemde model onlangs getoets.

Enigiemand wat die Landwind met ‘n Hyundai ix 35 verwar, sal vergewe word, aangesien daar beslis ooreenkomste is, veral wat die stilering van die C-pilaar betref. Dit beteken dat die Landwind, selfs na vier jaar op die Suid-Afrikaanse mark, steeds aantreklik is en heelwat aandag trek. Die feit dat die kenteken nie juis bekend is nie, is dalk ook ‘n rede hiervoor, en gedurende ons toetstydperk is hy selfs vir ‘n Lexus aangesien. Die hele Landwind-reeks het allooiwiele met 225/65 R 17 Maxxis-bande as standaardtoerusting en ‘n tydelike staalnoodwiel is onder die bagasiebak geleë. Vroeër jare, veral in die 1970’s, het vervaardigers nuwe tegniese kenmerke van hul motors met groot trompetgeskal met plakkers op hul motors se agterruite aangekondig en die toetsmodel is met iets soortgelyks, naamlik ‘n 8 AT-plakker om sy ratkas aan te dui, toegerus.

Die binnekant van die Landwind laat ‘n mens met gemengde gevoelens, veral omdat hierdie model as die Flagship bekendstaan. Die Lux-modelle beskik oor kenmerke soos ‘n radio met ‘n CD-speler en vier luidsprekers, ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer, elektriese vensters met ‘n funksie wat die bestuurder se ruit oopmaak deur die knoppie een keer te druk, twee lugsakke, ABS-remme met elektroniese remverspreiding en parkeersensors agter. Die Flagship voeg onder meer ‘n sondak, elektries verstelbare leersitplekke, ‘n leeroorgetrekte veelfunksiestuurwiel, spoedbeheer, elektriese spieëls wat met die druk van ‘n knoppie kan invou, vastrapbeheer en kantlugsakke in. Die toetsmodel was toegerus met ‘n raakskerm wat Bluetooth-verbinding, ‘n trukamera en ‘n navigasiestelsel maar toe ons die motor se spesifikasies deurgegaan het, het ons met ‘n skok agtergekom dat dit ‘n opsionele ekstra is, hoewel die pryslys op die webtuiste van JMC, die maatskappy wat hom versprei, nie ‘n Flagship daarsonder aandui nie. Daarom hoop ons dat dit wel nou standaard toerusting is.

Ons het ook tevergeefs na ‘n USB-kragpunt in die kajuit gesoek totdat ons die paneelkissie aan die passasierskant van die kajuit oopgemaak het. Daar is nie USB-kragpunte in die ware sin van die woord nie, maar eerder twee kragkabels waaraan USB-kabels of -stokkies gekoppel kan word. Dit sou beter wees om die USB-kragpunt in die paneelkissie tussen die sitplekke te monteer. Nog ‘n ergonomiese fout is dat die handrem baie naby aan die passasier-sitplek is en moeilik is om mee te werk wanneer die sitplek vorentoe geskuif is. Die satellietnavigasie, wat deur Google Maps werk, was buite werking, en dieselfde het vir die knoppies op die veelfunksiestuurwiel gegeld. Dis ook jammer dat daar nie kontroles is om die telefoon te gebruik nie, maar dalk is dit omdat Bluetooth, wat ‘n nie-onderhandelbare veiligheidskenmerk op hedendaagse motors is,
opsioneel is. Nie een van die modelle is met klimaatbeheer toegerus nie; dit sou beter gewees het as die sondak waarmee die Flagship toegerus is. Die hele reeks is wel toegerus met ‘n ritrekenaar wat oombliklike- en gemiddelde brandstofverbruik, asook die afstand wat nog in die brandstof in die motor se tenk afgelê kan word voordat daar volgemaak moet word, aandui. Daar is oorgenoeg plek vir vyf insittendes en hul bagasie; die pakkiesrak in die bagasieruim kon net beter afgewerk gewees het. Die Landwind beskik ook oor twee interssante, maar welkome, veiligheidskenmerke; die noodflikkers is aan wanneer een van die deure, of die agterklap, oop is om aankomende verkeer te waarsku, en die radio word outomaties afgeskakel wanneer die voertuig in trurat is. Laasgenoemde kenmerk is onlangs in ‘n padtoets van ‘n mededinger wat ook daaroor beskik, gekritiseer, maar dit maak dat ‘n mens se aandag nie afgetrek word wanneer daar agteruit gery word nie en daarom moet dit verwelkom word.

Die enigste enjin waarmee die Landwind-reeks beskikbaar is, is ‘n turbo-aangejaagde petrolenjin van twee liter, met ‘n blok wat van Mitsubishi afkomstig is. Dié Japanse vervaardiger het ‘n baie goeie reputasie vir duursaamheid en betroubaarheid, wat vir die voornemende koper gemoedsrus op die lang termyn sal gee. Hierdie enjin lewer 140 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 250 Nm teen tussen 2 800 en 4 400 opm. Die enjin lewer goeie werk verrigting maar eers nadat die turbo traagheid teen lae toere verdwyn het. Die feit dat ‘n mens die toere moet opjaag, het ‘n nadelige invloed op brandstofverbruik, en ons kon nie op ‘n syfer van 12,7 liter per 100 km verbeter nie. Dit maak dat die reikafstand wat ‘n mens met sy 60 liter-brandstoftenk kan behaal, nie eens 450 km is nie. Hopelik sal dit verbeter namate die voertuig meer kilometers afgelê het. Die toetsmotor se kilometerlesing was omtrent 8 000km, en hopelik sal dinge verbeter nadat die voertuig die eerste keer gediens word. Aangesien dit deurslag-gewend in ‘n koopbesluit sal wees, hoop ‘n mens so. Die outomatiese ratkas is egter ‘n hoogtepunt. Daar is min voertuie wat deesdae agt-gang ratkaste het, en dié ratkas maak dat daar altyd oorgenoeg krag is, mits die toere nie te laag gehou word nie. Die handrat funksie is ook nuttig vir wanneer ‘n mens vining wil versnel of verbysteek; ‘n mens skuif die ratkieser na regs om dit te gebruik en ratte kan sonder ‘n koppelaar gewissel word sonder om die petrolpedaal te los. Dit is seker die Landwind se heel beste kenmerk.

Die Landwind 5 2,0 T Flagship 8 AT se prys is R 309 880. Daar is nie eintlik mededingers wat dieselfde ruimte as die Landwind bied nie, maar dit beteken allermins dat daar teenstaanders is wat die ondersoek teen hierdie prys werd is. Die Landwind se grootste teenstaander is sy landgenoot, die Haval H2 Luxury outomaties wat ons baie beïndruk het toe ons hom getoets het. Hierdie model se prys is tans R 319 900, maar dan is hy ook beter toegerus. Die vraag is egter; sal dit nie dalk die moeite werd wees om maar R 40 000 meer te betaal en die Haval H6C City outomaties teen R 359 900 te oorweeg nie? Die Hyundai Creta 1,6 Executive is nog ‘n moontlike mededinger al is sy enjin effens minder kragtig en sy binneruimte minder, maar hy het nie sonder rede gewild geword nie. Die Nissan Qashqai 1,2 T Visia se prys is R 351 900, maar hierdie model word met ‘n handratkas toegerus en daar is nie ‘n model met ‘n CVT-ratkas vir minder as R 400 000 beskikbaar nie. Nog ‘n moontlike mededinger, weliswaar teen R 386 995, is die Kia Sportage 1,6 GDI Ignite, wat weliswaar gekritiseer word omdat hy nie genoeg krag het nie, maar dalk die ekstra geld werd is.

Die vraag is nou; kan ons die Landwind aanbeveel? Dit is nie so maklik om dit te beantwoord nie, want verskeie faktore moet in ag geneem word. Aan die positiewe kant is daar die binneruimte, die lekker outomatiese ratkas en die gemoedsrus wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 100 000km (interessant dat die diensplan langer as die waarborg is) bied, terwyl die handelaarsnetwerk, wat ook die JMC- en Changan-reekse versprei, goed gevestig is. Daar is egter ook ‘n paar kenmerke wat ons nie kan nalaat om te kritiseer nie, veral die spesifikasievlak (‘n USB-kragpunt voor en agter, klimaatbeheer en Bluetooth-knoppies op die stuurwiel is onverskoonbare weglatings) en sy brandstofverbruik. Dit behoort ook nie so moeilik te wees om demonstrasiemodelle van die Hyundai Tucson, die Kia Sportage, die Haval H6C of die Nissan Qashqai of X-Trail vir ongeveer R 300 000 met lae kilometerlesings op te spoor nie. Op die ou einde moet die voornemende koper self besluit wat hy of sy wil doen.

%d bloggers like this: