Padindrukke: Mahindra XUV 300 W8 1,5 TD

0 Comments

Die marksegment wat seker besig is om die vinnigste in Suid-Afrika te groei, is dié van klein kruis-motors; minstens drie nuwe mededingers is tot dusver vanjaar in hierdie klas bekendgestel.

Een daarvan is die Mahindra XUV 300, wat in die middel van die jaar op die mark gekom het en reeds besig is om homself in die mark te vestig. MotorPlus het die top model van dié reeks, die W8 1,5 TD, getoets.

Die stilering van die Mahindra XUV 300-reeks is uiters modern, en as ‘n mens sy kenteken miskyk, kan die XUV 300 vir ‘n mededinger van Europa, Japan of Koera aangesien word. Die W8 spog met stampers en spieëls in dieselfde kleur as die bakwerk, silwer dakspore en swart skermstroke aan die onderkant van die bakwerk. Daar is ligdiode-dagryligte en die agterligte maak ook van ligdiode-tegnologie gebruik. Diamantsnit-allooi-wiele met 215/55 R 17-bande is standaard toerusting. Dié wiele is ‘n verbetering op die staalwiele met volle wieldoppe waarmee die W6 toegerus word. Soos met die meeste  hedendaagse Mahindra-modelle is die kleurkeuse uiters beperk, en die XUV 300 is slegs in wit (soos op die toetsmotor), silwer en metaal-rooi beskikbaar.

Die binnekant spog met ‘n paar verrassende kenmerke en net een of twee klein irritasies waaarmee ‘n mens maar leer om saam te leef. Een daarvan is die wit kunsleer-bekleedsel; dit smeer maklik vuil maar gelukkig kan dit ook maklik skoongemaak word. Daar is egter ‘n paar kenmerke wat die hoogste lof verdien, soos ‘n gleuf aan die voorkant van die paneel-kissie tussen die voorste sitplekke. Die gedagte is dat ‘n tienduim-tablet daarin gehuisves kan word, maar dit is ook die ideale bêreplek vir ‘n selfoon wat gelaai word aangesien dit uit die pad is en nie die bestuurder se konsentrasie nadelig beïnvloed nie. Dié paneel-kissie het ook genoeg plek vir ‘n groot beursie. Die raak-skerm bevat ‘n paar kenmerke wat ‘n mens regtig opgewonde maak. Die motor se hele eienaarshandleiding is op die skerm te sien en daarom is dit maklik om toegang tot enige inligting wat die eienaar benodig, te kry. Daar is ook ‘n paar onverwagte kenmerke, soos inligting oor banddruk op elke wiel, asook ‘n aanduiding van die rigting van die motor se wiele. Benewens Bluetooth-verbinding, wat maklik gekoppel kan word, is Android Auto en Apple Car Play standaard toerusting.  Die satelliet-navigasie werk baie goed en ‘n trukamera, tesame met parkeerhulp, is standaard toerusting. Die stem wat ‘n mens telkens aan die parkeerhulp herinner wanneer die motor in trurat is, is nog ‘n irritasie, maar gelukkig kan dit stilgemaak word. Die klimaat beheer, met temperature van tussen 18 en 30 grade, werk uitstekend en die elektriese sondak is ‘n welkome kenmerk. Daar is vyf kleure vir die instrumente paneel beskikbaar, maar dit is eintlik onnodig. Die W8 se rat-hefboomknop en veelfunksie-stuurwiel is met leer oorgetrek. 

Kyk hoe luuks is die Mahindra XUV 300 binne.

Die Mahindra XUV 300 W8 1,5 TD is met ‘n turbo-diesel enjin met vier silinders wat 85 kW teen 3 750 opm en wringkrag van 300 Nm teen tussen 1 500 en 2 500 opm ontwikkel, toegerus. Die ander beskikbare enjin is ‘n turbo-petrol enjin van 1,2 liter met drie silinders. Die diesel is egter ‘n uitstekende keuse; die versneller reageer dadelik as dit ingetrap word en daar is oorgenoeg wringkrag ongeag die enjin se toere.  Daarom is dit maklik om vining verby te steek terwyl ‘n steil bult geen probleem is nie. Die handratkas het ses gange en ratwisseling is baie maklik. Soos in die Opel Kadett van baie jare gelede moet ‘n mens ‘n ring optrek en die rat-hefboom weg van jou af en vorentoe skuif om by die trurat uit te kom. Die koppelaar is lekker lig, en daar is drie stuur modusse om van te kies. Die opsies is Normal, vir alledaagse omstandighede, Sport, wat die stuur effens swaarder maak en meer geskik is vir die geesdriftige bestuurder en Comfort, vir parkering en ander omstandighede waaronder ‘n ligter stuuraksie nodig is. Dit is eintlik ook ‘n foefie, want die normale verstelling is onder die meeste omstandighede voldoende.  Interessant genoeg is die XUV 300 baie sensitief vir banddruk; toe ons die toetsvoertuig in ontvangs geneem het, was sy banddruk omtrent 300 kPa op elke wiel; ons het by ‘n handelaar gehoor wat aangegaan het toe die waarskuliggie aangegaan het en gehoor dat die korrekte banddruk 220 kPa op elke wiel moet wees.

Aangesien die toetsmodel ‘n diesel enjin gehad het, was sy brandstof verbruik skitterend; die syfers was seker van die heel beste wat ons tot

dusver aangeteken het. Toe ons die toetsvoertuig in ontvangs geneem het, was sy gemiddelde verbruik 14,2 kilometer per liter, en die beste syfer wat ons behaal het, was 17,8 kilometer per liter. Ons kon ‘n volhoubare 17,0 kilometer per liter aanteken; ‘n uitstekende syfer, selfs vir ‘n motor in hierdie klas. Dit beteken dat ‘n gemiddelde reikafstand van omtrent 715 km moontlik is met die 42 liter-brandstroftenk. 

Die W8 het verskeie veiligheids-kenmerke as standaard toerusting. Daar is altesaam sewe lugsakke, skyfremme op al vier wiele, asook ABS met elektroniese remverspreiding, verhitbare buitespieëls, elektroniese stabiliteits beheer, wegtrekhulp en deure wat outomaties sluit as die motor wegtrek. Sleutellose toegang en ‘n aansitknoppie is ook standaard toerusting vir die W8.

 

Omdat die Mahindra XUV 300 W8 1,5 TD ‘n dieselenjin het, is daar minder mededingers as wat ‘n mens sou verwag, veral omdat die twee jongste mededingers, die VW T-Cross en die Hyundai Venue, nie met diesel-enjins beskikbaar is nie. Daar is egter drie mededingers. Die Ford Eco Sport, die Renault Captur 1,5 dCi Dynamique en die Opel Crossland 1,6 TD Enjoy.

  Toe Ford die jongste Eco Sport bekendgestel het, is daar besluit om net die intree-model, die Ambiente, met ‘n diesel enjin beskikbaar te stel. Sy prys is R 273 700, en sy spesifikasievlak is nie naastenby so hoog soos dié van die XUV 300 W8 nie. Daarom is die W6, teen R 274 999, eerder ‘n regstreekse mededinger. Die Renault Captur 1,5 dCi Dynamique se prys is R 320 900, maar die nuwe geslag word aanstaande jaar in Suid-Afrika verwag. Die Opel Crossland 1,6 TD Enjoy, teen R 349 000, is effens duurder as die W8, maar dalk op hierdie stadium sy sterkste mededinger vir diegene wat ‘n diesel enjin verkies. Die toets model se prys is R 324 999, en sluit ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000m km in. 

Die Mahindra XUV 300 is ‘n verdere bewys dat dié Indiese vervaardiger hier is om te bly, en noudat die Pik-Up, wat ons twee jaar gelede geweldig beïndruk het, hier vervaardig word, hoef niemand meer daaroor te twyfel nie. Daarby is die XUV 300 ‘n uiters aantreklike, veilige en luukse motor wat boonop nie te duur sal wees om te onderhou nie.  Hoewel hy in ‘n uiters moeilike segment meeding, is daar geen rede om hom nie ernstig te oorweeg nie; maar dan moet dit die W8 wees. Die keuse van ‘n petrol-of dieselenjin is ‘n kwessie van persoonlike smaak maar die diesel enjin is beslis die ondersoek werd.

Die Mahindra XUV 300 is ruim genoeg vir selfs MotorPlus se Daantjie Badenhorst en Gerrie Smit.

Ons het lief geword vir die XUV 300; ons beveel hom sonder voorbehoud aan en hy verdien ‘n ereplek onder ons afdak.

Categories:
%d bloggers like this: