Sedert sy aanvanklike bekendstelling in 2012 het die Mazda CX-5 ‘n gunsteling onder liefhebbers van sportnutsvoertuie geword.

Die nuwe reeks is in 2017 bekendgestel, en danksy ‘n groot model-reeks het hy weer eens ‘n gewilde keuse in hierdie marksegment geword. Motorplus het die vlagskip van die reeks, die 2,2 DE Akera AWD, getoets.

Die buitestilering is ‘n natuurlike uitvloeisel van dié van sy voorganger, maar daar is tog ‘n paar uitstaande nuwe kenmerke. Die vooraansig het aanvanklik ‘n effens vreemde voorkoms, veral as gevolg van die klein, skrefie-agtige kopligte en ‘n groot sier-rooster. Diegene wat dink die kopligte is nie doeltreffend as gevolg van hul grootte nie, sal bly wees om te hoor dat dit volle LED-ligte met dag-ry ligte is. Dit duur ook nie lank voordat ‘n mens dié voorkoms gewoond raak nie. Aan die kant is daar allooi wiele met 22/55R 19-bande; dit lyk asof sulke groot wiele en bande deesdae die norm in hierdie klas is. Hoewel daar niks met die CX-5 se padhou-vermoë, rygerief of hantering verkeerd is nie, gaan ‘n stel van vier bande ‘n aardige bedrag kos wanneer dit vervang moet word. Die sportiewe voorkoms van die CX-5 word aan die agterkant beklemtoon met twee uitlaatpype wat in die hoeke gemonteer is.

Die binnekant van die CX-5 Akera is besonder goed toegerus. Die meeste mense sou ‘n raakskerm verwag en die inligting-en-vermaak-stelsel as verouderd beskou. Die feit van die saak is egter dat die beheerknop in die middel konsole baie goed werk. Die ronde knop word gedraai om by die kieslys uit te kom, en die bestuurder druk die knop af om ‘n keuse te maak. Die kontroles vir die radio en die navigasie-stelsel, wat standaard toerusting vir die Individual en Akera-modelle is, is langs die ronde monteerknop en ewe maklik om te gebruik. Die leersitplekke is gemaklik en dié van die bestuurder het kraghulp met agt verstellings. Die instrumente-paneel kon net so wel uit ‘n Honda gekom het, omdat die plaat regs van die spoedmeter baie soos dié van ‘n Honda H-RV lyk. Dié plaat bevat die inligting van die ritrekenaar, wat onder meer die tyd wanneer die volgende diens geskeduleer moet word, gemiddelde brandstof-verbruik, die afstand wat nog met die brandstof in die tenk afgelê kan word, asook die afstand- en ritmeter hier voorkom. Aan die bokant is een van twee meters, naamlik die temperatuur meter of die brandstof-verbruik meter terwyl die brandstof meter onder voorkom.

Die instrumente-paneel is as ‘n geheel baie makliker om te lees as die digitale panele waarmee sekere mededingers toegerus word. Daar is plek bokant die ratkieser vir los goedere, en hoewel ‘n 12 volt-kragpunt daar voorkom, is die afwesigheid van ‘n USB-kragpunt hier ‘n verrassing. Daar is egter twee USB-kragpunte in die paneel-kissie tussen die sitplekke, waar ‘n selfoon wat gelaai word, gehuisves kan word. Daar is ook nóg ‘n kragpunt vir agterste insittendes. Die motor het nie net Bluetooth-verbinding nie, maar kan ook met Android Auto en Apple Car Play werk. Een uiters welkome kenmerk is die feit dat teksboodskappe vertoon en deur ‘n stem voorgelees word wanneer die selfoon gekoppel is. Die elektriese sondak is ‘n welkome kenmerk in warm weer, en beslis beter as die panoramiese sondak waarmee sekere mededingers toegerus word. Daar is ‘n Bosé- klanksetlsel met nie minder nie as tien luidsprekers en die insluiting van ‘n CD-speler verdien drie hoera’s. Die klank wat hierdie stelsel voortbring, is van hoog-staande gehalte. Die agterklap werk met kraghulp en die pakkiesrak lig vanself op en sak terug wanneer die agterklap oop- of toegemaak word.

Die Akera is een van twee modelle wat met Mazda se turbo-diesel enjin van 2,2 liter toegerus word. Hierdie enjin lewer 140 kW teen 4 500 opm en wring-krag van 450 Nm teen 2 000 opm. Hierdie enjin klink nie soos ‘n diesel nie en net die Skyactive D-kenteken op die agterklap gee die geheim weg. Die meeste modelle, waaronder die toetsmodel, word toegerus met ‘n outomatiese ratkas met sesgange en ‘n handrat funksie.

Dit het weer eens duidelik geword hoekom hierdie ratkas al hoe gewilder word; ‘n mens hou dit in die stad in Drive, veral tydens swaar verkeer, maar op die oop pad kan die ratkieser na regs geskuif word en ratte van vorentoe en agtertoe gewissel word. Aanvanklik is die deit dat ‘n mens die ratkieser vorentoe druk om na ‘n laer rat oor te skakel en agtertoe vir ‘n hoër rat, effens verwarrend, maar ‘n mens raak dit gou gewoond. Daar is nie ratspane agter die stuurwiel nie, maar dit is nie ‘n probleem nie. Daar is ook twee viersilinder-petrol enjins van 2,0 en 2,5 liter beskikbaar, maar die dieselenjin se wringkrag en brandstof-doeltreffendheid maak hom ‘n beter keuse. Tydens ons tydperk met die motor het ons ‘n brandstofverbruik van tussen 9,2 en 9,7 liter per 100 km, omtrent tussen 11,0 en 11,5 kilometer per liter aangeteken. Dit maak ‘n reikafstand van tussen 650 en 670 km met die 58-liter brandstof tenk moontlik.

Die Akera word toegerus met die meeste belangrike veiligheids-kenmerke wat ‘n mens van ‘n motor in hierdie klas behoort te verwag. Benewens die voorste-, kant- en gordynlugsakke en die ABS- remme met elektroniese remverspreiding en noodremhulp, is daar ‘n blindekol-monitor, wegtrekhulp, ‘n waarskuwing as die bestuurder nie op die pad aandag gee nie, baanhouhulp en baand-waal waarskuwing en stabiliteits beheer. Daar is ook ‘n paneel teen die voorruit wat die voertuig se snelheid, die heersende snelheids-beperking en strepe op die pad aandui. Die kopligte en ruitveërs werk outomaties. Daar is ook parkeer-sensors en ‘n trukamera.

Die CX-5 ding in ‘n uiters strawwe marksegment mee en tog is daar net drie teenstanders wat vergelykbare standaard toerusting, vierwiel aandrywing en ‘n turbo-diesel enjin van minstens twee liter bied. Ford probeer hard om die knou wat die Kuga se reputasie na aanleiding van voertuie wat uitgebrand het, in ere te herstel en een van die modelle waarmee hy besig is om dit reg te kry, is die 2,0 TDCI ST Line AWD. Hierdie model is teen R 566 900 effens goedkoper as die CX-5. Hyundai en Kia se mededingers deel ‘n platform; nogtans is net die Kia Sportage met vierwiel aandrywing beskikbaar. Die duurste model met ‘n turbo-diesel enjin is die 2,0 CRDI EX AWD Auto, wat R 546 995 kos. Nog ‘n mededinger wat oorweeg behoort te word, is die VW Tiguan 130kW Highline 4 Motion 2,0 TDI teen R 584 700, hoewel sommige van die CX-5 se standaard kenmerke vir die Tiguan opsionele ekstras is.

Die Mazda CX-5 2,2 DE Akera AWD bied baie goeie waarde vir geld teen R 579 900, wat ‘n waarborg , padbystand en diensplan van drie jaar – ongeag die motor se kilometer lesing insluit. Mazda het nog altyd voertuie vervaardig wat geskik is vir diegene wat ‘n motor vir die lang termyn nodig het, en in daardie opsig is die CX-5 ‘n uitstekende keuse. As die Akera se prys buite bereik is, maar ‘n dieselenjin is steeds ‘n vereiste, is die 2,2 DE Active teen R 476 700 die ondersoek werd. Hoe ook al, dit is ‘n wonderlike gesinsvoertuig wat jare se goeie diens behoort te lewer en nie ‘n fortuin sal kos om te onderhou nie.

%d bloggers like this: