Padindrukke: Mitsubishi Triton 2,4 D-iD Dubbelkajuit 4×4 Outomaties

0 Comments

Hoewel die eerste Mitsubishi-eentonbakkie reeds in 1979 oorsee bekendgestel is, moes Suid-Afrika tot 1995 wag.

Die eerste Mitsubishi bakkie in Suid-Afrika was die Colt L 200. Die tweede geslag Colt-bakkies, wat in 1999 geloods is, was baie gewild. Die redes daarvoor was ‘n reputasie vir betroubaarheid en ‘n baie groot verskeidenheid modelle in enkelkajuit, Clubcab en dubbelkajuit. Nog iets wat baie sterk in die Colt se guns getel het, was die feit dat Mercedes-Benz hulle plaaslik vervaardig het en die verspreiding deur dié vervaardiger se plaaslike handelaarsnetwerk behartig is.

In 2007 het dinge verander. Mitsubishi het weggebreek en ‘n splinternuwe bakkie, bekend as die Triton, is in Suid-Afrika bekendgestel. Die handelaarsnetwerk moes van voor af gevestig word en die Triton se unieke voorkoms was vir die meeste mense ‘n aangeleerde smaak. Dit was aanvanklik ook ‘n bakkie wat op die ontspanningsmark gemik is, hoewel werkeselmodelle wel later by die reeks gevoeg is.

Twee jaar gelede is ‘n nuwe Triton bekendgestel en vroeër vanjaar het hy groot veranderinge ondergaan. MotorPlus het ‘n paar dae lank die topmodel in die huidige reeks, die 2,4 D-iD 4×4 Dubbelkajuit Outomaties, getoets.

Die nuwe Triton het dalk ‘n minder geronde voorkoms as sy voorganger, maar sommige mense dink nog steeds dat ‘n mens dit eers gewoond moet raak. Daar is ‘n groot chroom-sierrooster met ligdiode-dagryligte terwyl sy kopligsamestelling laer gemonteer is. Aan die kant is daar allooiwiele in twee kleure met 265/65 R 18-bande. Die toetsmodel was afgewerk in ‘n baie aantreklike pêrelwit kleur wat sommige mense aan grondverf herinner. Dit is dalk nie die mees praktiese afwerking nie, maar dan is die Triton nie meer net ‘n werkesel nie. Twee bykomstighede waarmee die toetsmodel toegerus is, was ‘n rolstaaf en ‘n harde bakseil wat, in sommige omstandighede, selfs beter as ‘n kappie is.

Die binnekant is baie goed toegerus en alles wat ‘n mens van ‘n bakkie in hierdie klas behoort te verwag, is standaardtoerusting. Die instrumentepaneel bevat ‘n omvattende ritrekenaar en dis maklik om toegang tot al die inligting te kry met ‘n knoppie op die leeroorgetrekte veelfunksiestuurwiel. Daar is ‘n navigasiestelsel wat ongelukkig nie met behulp van ‘n stem werk nie maar ons by ‘n onbekende bestemming gekry het, terwyl Android Auto en Apple Car Play die Bluetooth-verbinding aanvul. Daar is USB-kragpunte vir die voorste en agterste insittendes en ‘n paneelkissie tussen die sitplekke. Die klimaatbeherstelsel werk baie goed en dis maklik om die binneruim so aangenaam as moontlik vir alle insittendes te maak. Die voorste en agterste insittendes kry elk ‘n USB-kragpunt, maar daar is min plek voor die ratkieser vir ‘n selfoon wat besig is om te laai.

Onder die enjinkap is ‘n turbodiesel van 2,4 liter, wat effens kleiner as dié van sommige mededingers is. Hierdie enjin lewer 133 kW teen 3 500 opm en wrinkgrag van 430 Nm teen 2 500 opm. Die toetsmodel was toegerus met ‘n outomatiese ratkas met ses gange. Die ratkieser se patroon herinner aan dié van die Mercedes-Benz-modelle van jare gelede, en die voordeel is dat jy die voertuig nie in ‘n verkeerde rat kan sit nie.  Daar is ook ‘n ratwyser op die instrumentepaneel.  Die Triton is een van die min bakkies wat ratspane agter die stuurwiel het; dit maak ratwisseling sonder ‘n koppelaar baie maklik. Die enjin se wringkrag is te alle tye voldoende en die enigste omstandighede waaronder meer krag nodig sou wees, is wanneer ‘n woonwa gesleep sou word. Die gemiddelde brandstofverbruik wat ons behaal het, was tussen 8, 4 en 8,7 liter per 100 km, wat beteken dat ‘n reikafstand van ongeveer 700 km met die 75-liter brandstroftenk moontlik is.

Die ritgehalte vergelyk baie goed met dié van sy mededingers. ‘n Groot pluspunt is sy gemaklike voorste sitplekke. Die Triton hanteer ook makliker as sommige mededingers, en vir ‘n voornemende koper wat sy of haar voertuig hoofsaaklik onder alledaagse omstandighede gebruik en net nou en dan avontuurritte onderneem of met vakansie gaan, is dit ‘n groot voordeel.

Die 4×4 word toegerus met die jongste weergawe van Mitsubishi se toonaangewende Super Select-aandrywingstelsel met die gevolg dat uitsonderlike veldryvermoë ‘n retoriese stelling is. Dit is immers dieselfde stelsel waarmee die Pajero, wat die Dakar-tydren al meer as een keer gewen het, spog. Verder is verskeie veiligheidskenmerke standaardtoerusting, onder meer wegtrek- en afdraandehulp, sewe lugsakke, ABS-remme met noodremhulp en elektroniese remverspreiding, stabiliteits- en vastrapbeheer, deure wat outomaties sluit wanneer die voertuig wegtrek en ‘n trukamera. Ongelukkig wys die kamera nie die rigting waarin die voertuig beweeg nie.

 Die Mitsubishi Triton 2,4 D-iD Dubbelkajuit 4×4 Outomaties.

Die Speelveld.

Hoewel die mark vir dubbelkajuitbakkies uiters mededingend is, is dit moeilik om regstreekse mededingers vir die Triton, soos ons hom getoets het, te vind. Daar is min dubbelkajuitbakkies met vierwielaandrywing, dieselenjins en outomatiese ratkaste wat die Triton se prys van byna R 600 000 en sy hoë spesifikasievlak kan ewenaar. Die een ooglopende mededinger is die Ford Ranger 2,0 SiT XLT, met die nuwe enkelturbo-enjin en ‘n tiengangratkas. Sy prys van R 582 700 is uiters mededingend en die feit dat die Ranger hom as die tweede gewildste bakkie op die plaaslike mark gevestig het, is geen verrassing nie. Die Fiat Fullback 2,4 D-iD LX is op die vorige Triton gebaseer en sy prys is R 573 900. Die Nissan Navara is nog ‘n ooglopende teenstander en die model wat met die Triton meeding, is die 2,3 SE-dubbelkajuit, maar ‘n outomatiese model is nie beskikbaar nie en buitendien is die spesifikasievlak van die outomatiese LE 4×4, teen R 650 700, vergelykbaar met dié van die Triton.

Natuurlik moet daar ‘n Hilux in hierdie prysklas wees; die 2,4 GD-6 SRX 4×4 outomaties kos R 548 400 maar hy is nie so goed soos die Triton toegerus nie. Die Legend 50 -weergawe kos R 668 800, en ‘n mens wonder of Toyota dit nie dalk moet oorweeg om ‘n 2,4 Raider by die reeks te voeg om die groot prysgaping te vul nie.

 

Koste

Die prys van die Triton 2,4 D-iD 4×4 dubbelkajuit is R 599 995 met ‘n outomatiese ratkas; dit sluit ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km in.

 

Slotsom

Die Triton se relatief lae verkope bly ‘n raaisel; dit het ‘n moderne stilering en het genoeg krag om harde werk te doen. Daarby is sy sleepvermoë van 3,1 ton voldoende onder die meeste omstandighede. Die probleem is dalk die feit dat die handelaarsnetwerk nie baie groot is nie en dat die reeks uiters beperk is; een spesifikasievlak met die keuse tussen ‘n hand- of outomatiese ratkas en twee-of vierwielaandrywing met albei ratkaste.  Nog ‘n rede is dalk dat drie vervaardigers, Toyota, Ford en Isuzu, die mark só oorheers dat geen ander mededinger ‘n kans het om ‘n groot indruk op voornemende kopers te maak nie. Daar is nie veel met die Triton verkeerd nie; dis eerder dat eienaars van die markleiers uiters lojaal teenoor die betrokke vervaardigers is. Die Triton is absoluut waarde vir geld en sonder twyfel die mees onderskatte bakkie op die plaaslike mark.

 

Lees meer oor die hele Mitsubishi Triton-reeks HIER.

 

Categories:
%d bloggers like this: