Deur Daantjie Badenhorst.

Sommige briljante motors verkoop een voudig nie en dit is nie altyd maklik om te verstaan hoekom nie. Dink maar aan die onlangse Volkswagen Passat, die Infiniti-reeks en dan ook die Nissan Almera.

Die huidige Nissan Almera-reeks is in 2013 bekendgestel en Nissan het die naam van sy mededinger in die C-segment, wat aan die begin van die millennium beskikbaar was, met hierdie reeks laat herleef. Sedert sy bekendstelling het die Almera veral by Uber-operaterurs asook motorhuurmaatskappye byval gevind, maar privaatkopers het hom tot dusver geïgnoreer. MotorPlus het besluit om uit te vind, wat, indien enigiets, met hierdie model skort sodat dit nie meer verkope genereer nie.

Die buitestilering va die Almera sal niemand opgewonde maak nie maar terselfdetyd gee dit niemand aanstoot nie. Anders as sommige motors in sy prysklas sal hy ook nie gou verouderd lyk nie aangesien die ontwerp geen foefies of fieterjasies bevat nie en ook nie daarop gemik is om ‘n modegier na te volg nie. Een kenmerk waarvor Nissan volpunte verdien, is die allooiwiele met 185/65×15-bande wat standaardtoerusting is. Daar is ook ‘n volgrootte staalnoodwiel, wat baie beter as die ruimtebesparende noodwiele op sommige motors is. Daar is onlangs geringe detailveranderinge aangebring, maar niks belangriks is bygevoeg of weggelaat nie, behalwe dat die allooiwiele se ontwerp verander het.

Voornemende kopers moet die Almera aanvaar soos hy is, want net een model, met die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas, is beskikbaar.  Albei modelle het ‘n viersilinderenjin van 1,5 liter sonder ‘n turboaanjaer as standaardtoerusting. Hierdie enjin, wat gekoppel word aan ‘n vyfgang-handratkas of ‘n outomatiese ratkas met vier gange, lewer 73 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 134 Nm teen 4 000 opm. Volgens die ritrekenaar was die toetsmotor se gemiddelde brandstofverbruik 5,9 liter per 100 km, ‘n baie goeie syfer vir ‘n motor in hierdie klas. Die een nadeel is egter dat die Almera se brandstoftenk net 41 liter hou, en dit maak ‘n tenkafstand van net minder as 600 km moontlik.

Twe ritte tussen Johannesburg en Pretoria het deel van die toets uitgemaak en hier het die Almera gewys dat dit ‘n uiters geskikte motor vir langer afstande is. Die besonder ruim binnekant en bagasiebak is ‘n pluspunt, en dit is een van die redes hoekom hy so gewild onder Uber-operateurs is.

Dit maak hom egter ook ‘n baie goeie motor vir ‘n gesin met ‘n beperkte begroting. Die kajuit verdien lof en kritiek; nie net is die ruimte ‘n baie groot voordeel nie maar die Almera is toegerus met omtrent alles wat ‘n mens redelikerwys van ‘n motor in hierdie klas kan verwag. Die klankstelsel, met vier luidsprekers en Bluetooth-verbinding, kom net só uit die Qashqai en die X-Trail en dit is maklik om ‘n selfoon te koppel. Daar is ook kontroles vir die klankstelsel en ‘n selfoon op die veelfunksieastuurwiel. Die lugversorger werk baie goed, en daar is ook aparte kontroles vir die agterste insittendes. Die temperatuur kan wel nie agter verstrel word nie, maar die snelheid van die varslug-toevoerstelsel kan wel. Dit is nog ‘n rede hoekom die Almera ewe gemaklik vir voorste en agterste insittendes is. Die een punt van kritiek wat egter teen die binnekant gelewer kan , en moet, word, is die gebrek aan plek vir los goed. Daar kon maklik ‘n klein paneelkissie tussen die sitplekke aangebring word; die enigste plek vir los goed is ‘n pakkiesrak tussen die passasierslugsak en die paneelkissie. Dit is ook waar die USB-sok geleë is. Dit is eintlik nie ‘n probleem nie, want ‘n selfoon kan daar gebêre word terwyl dit gelaai word. Daar is egter te min plek vir ‘n beursie, sleutels of ander klein items. Daar is wel voorste deursakke en vier bekerhouers.

Kompeteerders

Dit lyk asof motorvervaardigers verskil oor die verkoopspotensiaal van intreevlak-sedans. Volkswagen het die lewe vir die vervaardigers wat in die toekoms van hierdie marksegment glo, makllik gemaak deur die Polo Vivo-sedan aan die mark te onttrek sonder om hom te vervang, hoewel die Polo-sedan wat op die nuwe Vivo gebaseer is, vir eers op die mark bly. Daar is egter minstens drie ander vervaardigers wat wel in hierdie segment meeding.  Die Toyota Etios Sprint-sedan lyk na ‘n winskoop teen R 184 400 en is net so goed soos die Almera toegerus. Die sedan is egter nie so gewild soos die luikrug nie, weer eens omdat nie almal so ‘n groot bagasiebak nodig het nie. Die vraag is ook of die Etios nie dalk ‘n diefstalrisiko is nie. Ford se opgeknapte Figo-reeks bestaan ook uit ‘n luikrug en ‘n sedan en die Trend-sedan teen R 196 000 is ‘n gedugte mededinger.  Die Honda Ballade is effens duurder, en die intreemodel, die Trend-handrat, kos R 248 400. Die prys van die Almera, soos ons hom getoets het, is R 209 500, en dit sluit ‘n waarborg en padbystand, elk vir ses jaar of 150 000km geldig, asook ‘n diensplan vir drie jaar of 90 000km in.

So, wat is fout met die Almera? Laat ons dit maar reguit sê; vir die gesinne wat op soek is na ‘n bekostigbare en betroubare motor en wat baie ruimte nodig het, eintlik niks nie. Dit is eintlik, vauit ‘n rasionele oogpunt beskou, ‘n baie goeie motor wat absoluut aan die behoeftes van sy teikenmark voldoen en in staat is tot jare se goeie diens. Die feit dat hy as verbeeldingloos en vervelig beskou kan word, maak nie saak vir die koper op wie hy gemik is nie, want dit is gewoonlik die tipe persoon wat moeg is vir die jongste modefoefies en verstandige besluite neem. Daarom kan die Almera met groot vrymoedigheid aanbeveel word en kan hy hom gerus onder MotorPlus se afdak kom tuismaak.

Die Nissan Almera toetsvoertuig is goedgunstelik deur BB Nissan Sinoville beskikbaar gestel.

 

%d bloggers like this: