Nadat Motorplus berig het oor die bekendstelling in Maart 2017 van die Nissan Navara-bakkiereeks  in Suid-Afrika, het Daantjie Badenhorst solank danksy die goedgunstigheid van BB Sinoville Nissan, die topmodel in die nuwe Navara-reeks, die LE 4×4 dubbelkajuit, vir ‘n paar dae verkry om te toets. Hier is Daantjie se indrukke van hierdie voertuig.

Hoewel die vorige Navara tot laat in sy modellewe nog heel mededingend was, het Nissan-liefhebbers lank uitgesien na die nuwe model en daar is geen twyfel dat die lang wag die moeite werd was nie. Die huidige nuwe Navara-reeks betaan uit drie dubbelkajuitmodelle met vierwielaandrywing., Die reeks sal mettertyd aangevul word met die bekendstelling van modelle met tweewielaandrywing. Daar sal ook later enkelkajuit- en King Cab-modelle bygevoeg word.

Die Nissan Navara 2,3 LE 4×4 Dubbelkajuit Outomaties is as die Navara-vlagskip besonders goed toegerus. Standaardtoerusting is onder meer vastrapbeheer, voorste- en kantlugsakke, ‘n tru-kamera, elektriese vensters wat aan die bestuurderskant oop -en toegemaak deur die knoppie net een keer te druk, ‘n agterruit wat van binne af oopgemaak kan word en satellietnavigasie. Daar is ook ‘n ritrekenaar wat inligting soos geminddelde brandstofverbruik en die afstand wat nog met die brandstof in die voertuig se tenk afgelê kan word, gee. Al hierdie toerusting is ook in die goedkoper SL-model as standard, maar die luukser LE-model het bykomende kenmerke soos parkeersensors, sitplekke wat elektries verstel en verhit kan word, wegtrekhulp, klimaatbeheer, en sleutellose toegang, wat ook beteken dat die voertuig deur middel van ‘n knoppie op die paneelbord aangesit word. Die leersitplekke waarmee die toetsvoertuig toegerus is, is as ‘n opsie beskikbaar.

Bykomstighede

Die Navara bied die grootste reeks bykomstighede wat nog ooit saam met ‘n nuwe Nissan bekendgestel is en die toetsmodel was met baie daarvan toegerus. Een van die vindingrykste bykomstighede is ‘n seiltjie wat net oopgemaak word deur die agterklap oop te sluit. Op die LE kan dit gedoen word deur die doppie van die “sleutel” af te haal; ‘n regte sleutel is binne-in en die agterklap word met behulp van ‘n sleutelgat oopgesluit. Daar is ook ‘n verskeidenheid bosbrekers beskikbaar, tesame met ‘n rolstaaf, ‘n trekstang, staal- of glasveselkappies, enjinkapskerms, en wiele en bande wat spesiaal vir veldrytoestande ontwikkel is. Al hierdie bykomstighede kan saam met die bakkie bestel word en deur die handelaars aangebring word.

Die Nissan Navara 2,3 LE 4×4 Dubbelkajuit Outomaties demonstrasie-voertuig van BB Sinoville Nissan is toegerus met ‘n hele reeks van beskikbare bybehore en het orals waar Motorplus met die voertuig gegaan het, behoorlik aandag getrek.

Enjin

Die enigste enjin wat op hierdie stadium vir die hele Navara-reeks aangewend word, is die nuwe 2,3 liter dieselenjin met dubbele turbo-aanjaers. Die eerste turbo-aanjaer werk teen laer toere terwyl die tweede een inskop namate enjin-snelheid toeneem. Dit verseker oorgenoeg wringkrag ongeag die toere waarteen die enjin hardloop en verbeter brandstofverbruik. Die toetsvoertuig was toegerus met die outomatiese ratkas met sewe gange wat net op die LE-model beskikbaar is. Die enjin lewer 140 kW teen 3 750 omwentelinge en het ‘n wringkrag van 450 Nm tussen 1 500 en 2 500 omwentelinge. Hoewel dit een van die kleinste enjins in sy klas is, sorg die dubbele turboaanjaers vir syfers wat teen enige van sy teenstanders kan meeding. Die outomatiese ratkas het ‘n handratfunksie wat baie handig te pas kom wanneer ‘n mens op die oop pad ry en veral as daar vinnig versnel of verbygestreek moet word. In die verkeer los jy die ratkieser in Driver en sit agteroor. Daarby is dit makliker om ‘n groot voertuig met ‘n outomatiese ratkas in die stad te hanteer en dit alleen maak die outomatiese ratkas die moeite werd.

Die nuwe dieselenjin sal seker een van die grootste besprekingspunte wees; dit lewer oorgenoeg krag vir enige moontlike doel waarvoor die voertuig gebruik kan word, en soos minstens drie van sy vernaamste teenstanders is ‘n sleepkapasiteit van 3,5 ton moontlik, wat beteken dat hy nie met ‘n groot woonwa of boot sal sukkel nie en die dubbele turboaanjaers is ‘n groot pluspunt. Die beste brandstofverbruiksyfer wat met die toetsvoertuig behaal kon word, was 8,0 kilometer per liter op die hoëveld.  Die brandstoftenk hou 80 liter en dit sal sekerlik moontlik wees om ‘n reikastand van 800km te behaal.

 

Binneruim

Die binneruim is besonder gerieflik en vyf mense kan met die grootste gemak inpas. Die klimaatbeheer op die LE is uiters doeltreffend, en was beslis ‘n welkome kenmerk in warm weerstoestande. Daar is genoeg kop-en beenruimte vir vyf insittendes, en daarom sal die Navara as gesinsvoertuig gebruik kan word.

Die inligting-en-vermaakstelsel is baie maklik om te gebruik, en die meeste kontroles kan van die stuurwiel af beheer word. Die instrumentepaneel is dieselfde as dié van onder meer die X-Trail, en al die nodige inligting is maklik om te lees. Daar is oorgenoeg plek om los goedjies te bêre, onder meer voor die ratkieser en in die armleuning tussen die sitplekke.

 

Rygerief

Die Navara se rygerief is onder die beste in sy klas, en daar is geen sprake van die stamperige rit wat ‘n kenmerk van dubbelkajuitbakkies van jare gelede was nie.

 

Prys

Die Navara se prys sonder die bykomstighede waarmee die toetsvoertuig toegerus is en wat buitendien ‘n kwessie van persoonlike smaak is, is R 597 000.

 

Kompeteerders

Die Nissan Navara 2,3 LE 4×4 Dubbelkajuit Outomaties se vernaamste teenstanders is die Toyota Hilux 2,8 GD-6 Raider (R 573 000), die Isuzu KB 300 LX (R 563 500), die Ford Ranger 3,2 Wildtrack (R 616 500) en die VW Amarok 2,0 BiTDi (R 587 400). In al hierdie gevalle is dit die 4×4 dubbelkauitmodelle met outomatiese ratkaste. Die Navara is een van die bes toegeruste bakkies in sy klas en bied die basiese ry-gerief van ‘n sedan.

 

 

Het jy geweet?

Min mense is sekerlik bewus daarvan dat Nissan die grootste keuse van bakkies op die Suid-Afrikaanse mark bied.

Die NP 200 is een van net twee intreevlak-bakkies wat tans op die mark is, en verkoop beter as sy grootste teenstander. Hoewel die NP 300 Hardbody al jare lank op die mark is, is dit steeds een van die gewildste bakkies; dit is trouens gereeld een van die vyf beste verkopers in Suid-Afrika.

Die Patrol is ‘n meer gespesialiseerde bakkie wat veral gewild is onder mense wat gereeld avontuurritte onderneem, of wat om ander redes ‘n hardebaard-4×4 nodig het.