Padindrukke: Nissan Navara 2,3D Stealth 4×2 Outomaties

0 Comments

Sedert sy bekendstelling twee jaar gelede het die huidige Nissan Navara-reeks tot dusver nog net uit SE en LE-dubbelkajuit modelle bestaan, met die keuse van ‘n 4×2 of ‘n 4×4 en ‘n hand-of outomatiese ratkas. Die moderne neiging deur bakkie-vervaardigers is egter om bakkies wat meer vir ontspanning as vir werk bedoel is, aan die bokant van die mark bekend te stel, en Nissan het deeglik hiervan kennis geneem.  Die gevolg is die nuwe Navara Stealth, wat beskikbaar sal wees totdat die nuwe Navara-reeks aanstaande jaar in Nissan se aanleg in Rosslyn vervaardig word. 

Dit is nie die eerste keer dat Nissan die Stealth-naam gebruik nie; daar was al voorheen ‘n beperkte weergawe van die NP 200 met hierdie naam. Die Navara Stealth is op die LE-afwerking gebaseer, maar met ‘n paar verskille. Daar is swart allooiwiele met 255/60 R 18-bande, ‘n swart sierrooster, ‘n rolstaaf, asook swart kanttrappe en buitespieëls met oranje afwerking. Die neiging om kantstrepe vir bakkies aan te bring, was toe net ‘n verbygaande foefie, maar die Stealth is wel met swart kantstrepe toegerus; dit het nogal mooi gelyk op die wit toetsvoertuig.

 

Aan die binnekant is daar weinig verskil, maar die swart leer-sitplekke het oranje materiaal-insetsels wat nie net mooi lyk nie, maar gemakliker is om op te sit as volle leerbek-leedsel. Daar is ook oranje stikwerk op die paneelbord en die sitplekke. Soos met die 4×2 LE wat ons verlede jaar getoets het, is die uitleespaneel van die trukamera in die truspieël; sommige mense dink dit is die beste plek om hierdie paneel te monteer. Verbasend genoeg maak ‘n CD-speler nog deel uit van die klankstelsel; daar is mense wat dit nog steeds verkies. Daar is ook een USB-kragpunt, asook ‘n AUX-kragpunt voor die ratkieser. Die ritrekenaar is omvattend en dis maklik om toegang tot die inligting te kry deur middel van die stuurwiel-kontroles. Die satelliet-navigasie van die toets-voertuig het om een of ander rede nie gewerk nie en dit was ook nie moontlik om Bluetooth te koppel nie. Een goeie kenmerk van die radio is dat verskeie stasies se frekwensies op die uitleespaneel vertoon kan word; dit maak dat dit soveel makliker is om ‘n stasie te kies. Daar is genoeg kop-en beenruimte vir twee agterste insittendes.

Die toetsmodel was die 4×2 outomaties; met dieselfde enjin en ratkas as wat ons verlede jaar met die LE leer ken het. Die 2,3 liter-enjin gebruik twee turbo-aanjaers, wat ‘n kraglewering van 140 kW teen 3 750 opm en wringkrag van 450 Nm teen tussen 1 500 en 2 500 opm. Die outomatiese ratkas het ‘n handrat-funksie, maar dit is regtig net nodig wanneer ‘n mens vining wil versnel. Ons het meer as een keer gedurende die toetstydperk in swaar verkeer bestuur, maar dit was nooit ‘n probleem nie. Dis maklik om te verstaan hoekom die gewildheid van bakkies met outomatiese ratkaste toeneem. Daar is oorgenoeg krag en ‘n mens sal maklik ‘n groot woonwa of sleepwa met hom te kan sleep. Die toets-voertuig se brandstof-verbruik was effens hoog; die syfer gedurende die toets het egter van 11,8 aan die begin tot 10,8 aan die einde van die toets verbeter.  Ons het laas-genoemde syfer bereik toe ons oop die oop pad met hom gery het. Te oordeel aan hierdie syfer behoort ‘n mens ongeveer 700 km met ‘n tenk van 80 liter te kan behaal. 

Die marksegment vir dubbel-kajuitbakkies is dalk een van die grootstes in Suid-Afrika op die oomblik, en voornemende kopers het ‘n groot verskeidenheid om van te kies. Die markleier is natuurlik die Toyota Hilux en ter viering van sy vyftigste verjaardag is die Legend 50 onlangs bekendgestel. Die prys van die vergelykbare Legend 50 is R 598 500. Nog ‘n gewilde keuse, wat onlangs ingrypend opgeknap is, is die Ford Ranger, wat met ‘n splinternuwe enjin en ratkas toegerus is. Die 2,0 Bi-Turbo Wildtrak se prys is R 632 300. Nog ‘n moontlike mededinger is die VW Amarok 2,0 Bi-TDI Highline teen R 597 000. 

Die Navara Stealth se prys is R 602 900; dit sluit nie bykomstighede soos die skerm om die enjinkap teen klippe te beskerm of die stroke op die kantruite wat ‘n mens in staat stel om met oop vensters te ry wanneer dit reën, in nie. Hierdie twee kenmerke is egter ‘n kwessie van persoonlike smaak. Die gewone LE 4×2 Outomaties se prys is R 590 800; dit maak die Stealth-pakket uitstekende waarde vir geld as jy daarvan hou. Dis baie beter as om ‘n standaardbakkie met bykomstighede toe te rus; nie net omdat dit alles deur die fabriek goedgekeur is nie maar ook omdat die Stealth se herver-koopwaarde beter sal wees as dié van ‘n standaard bakkie met allerhande bykomstighede. Hopelik sal die Stealth die Navara-reeks se verkope ‘n hupstoot gee.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: