Deur Daantjie Badenhorst

Teen die einde van 2017 het Nissan ʼn aantal detailveranderinge aan sy X-Trail-reeks aangebring.

MotorPlus het kort daarna die vlagskip van die reeks, die 2,5 Tekna 4WD CVT getoets, maar danksy BB Nissan Sinoville, kon ons nou ook een van die intreevlak-modelle in die reeks, die 1,6 dCi Visia toets.

Die Nissan X-Trail 1,6 dCi Visia met sy  turbo-aangejaagde 1,6 liter diesel-enjin is een van twee intreevlakmodelle in die X-Trail-reeks. Hierdie enjin lewer 96 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 320 Nm teen 1 750 opm. Die dieselenjin het ʼn sesgang-handratkas as standaardtoerusting, maar dit is nie ʼn probleem nie omdat die ratwisseling maklik is en die koppelaar nie te swaar is nie. Die gemiddelde brandstofverbruik wat tydens die toets aangeteken is, was tussen 6,2 en 6,4 liter per 100 km, ʼn uitstekende syfer vir ʼn redelike groot voertuig.

Die ander enjinkeuse vir die Visia is die 2,0 petrol; en laasgenoemde model is met vyf of sewe sitplekke beskikbaar. Die middelste spesifikasievlak is die Acenta, wat net met vierwielaandrywing, die 2,5 liter-enjin en die CVT-ratkas beskikbaar is. Die Acenta Plus voeg ook elektries verstelbare sitplekke met leerbekleedsel by. Die Tekna is net met vierwielaandrywing beskikbaar, maar bied ʼn keuse tussen die 1,6 liter turodieselenjin met ʼn handratkas en die 2,5 liter-enjin met die CVT-ratkas.

Die X-Trail1,6 dCi Visia het dalk een van die kleinste dieselenjins in sy klas, maar dit beteken glad nie dat daar ʼn gebrek aan werkverrigting is nie. Op die oop pad is daar genoeg krag en sy wringkrag maak dit selfs moontlik om ʼn woonwa te sleep. Die ritgehalte is baie goed en die kleiner sewentienduim-allooiwiele met 225/R 17-bande  waarmee die Visia toegerus is, is eintlik ʼn voordeel omdat dit meer geskik vir slegte padoppervlakte is as die negentienduim-wiele waarmee dieTekna toegerus is.

Die binnekant is redelik ruim en sewe sitplekke is standaardtoerusting vir hierdie model. Die Visia spog met standaardkenmerke soos ʼn radio/CD-speler met vier luidsprekers, Bluetooth-verbinding, ʼn  lugversorger, ʼn ritrekenaar wat onder meer gemiddelde- en onmiddellike brandstofverbruik, die afstand wat afgelê kan word voordat daar weer brandstof ingegooi moet word aandui,  ʼn veelfunksiestuurwiel met ʼn stuurkolom wat op en af en in en uit verstel kan word en spoedbeheer. Een van die beste nuwe kenmerke van die nuwe X-Trail is ʼn D-vormige stuurwiel met ʼn plat onderkant. Nie net is dit baie maklik om te gebruik nie; dit mak ook dat selfs lang mense genoeg plek vir hul bene het en nie met die stuurwiel tussen hul bene hoef te sit selfs al is die stuurkolom op sy laagste verstelling nie. Soos met die 2,5 Tekna, was MotorPlus beïndruk met die manier waarop die derde ry sitplekke platgevou word. Dit neem geen bagasieruimte in beslag wanneer dit nie gebruik word nie en ander vervaardigers kan beslis daaruit leer.

Omdat die Visia die intree-spesifikasievlak is waarmee die X-Trail beskikbaar is, moet ʼn mens vrede maak met die feit dat sekere tegnologie waarmee die duurder modelle toegerus is, nie beskikbaar is nie. Daar is byvoorbeeld nie die kameras reg rondom die voertuig nie, en ook nie ʼn tru-kamera nie. Vir dié wat dit wil hê en wat dit kan bekostig, is daar die 1,6 dCi Tekna 4WD. Nogtans het die Visia ses lugsakke, wegtrekhulp teen steil opdraandes, ABS-remme met elektroniese remverspreiding en noodremhulp en vastrapbeheer.

Mededingers

Dit is nie maklik om mededingers vir hierdie model te kry nie, veral omdat sy prys van R 395 900 minder as dié van sy vernaamste teenstanders is. Hyundai en Kia se mededingers is onderskeidelik die Tucson 1,7 CRDi Executive teen R 449 900 en die Sportage 1,7 CRDi Ignite Plus teen R 415 995. Die een mededinger wat prysgewys wel met die X-Trail kan meeding, is die Mahindra XUV 500 W8, wat teen R 386 995 verkoop. Die XUV 500 het ʼn kragtiger enjin as die X-Trail, maar sewe sitplekke is nie beskikbaar nie en ʼn mens wonder of die X-Trail se herverkoopwaarde nie dalk beter sal wees nie. Daar is nie 4×2-dieselmodelle van die Toyota RAV 4 of die Ford Kuga beskikbaar nie en die Honda CR-V is glad nie met ʼn dieselenjin beskikbaar nie. Die X-Trail se prys sluit ʼn waarborg van ses jaar of 150 000km in, asook ʼn diensplan van drie jaar of 90 000 km in. Dit is ongelukkig korter as dié van die Sportage en die Tucson, wat elk diensplanne van vyf jaar teen 90 000km en 120 000km onderskeidelik bied.

Die X-Trail het weer gewys dat dit ʼn uitstekende gesinsvoertuig is en dis eintlik vreemd dat hy nie die markleier is nie.

Die 1,6 dCi Visia bied uitstekende waarde vir geld; hy is nie veel duurder as kleiner sportnutsvoetuie as die Hyundai Creta of die Suzuki Vitara nie. Tensy ʼn mens die duurder 1,6 dCi Tekna, wat teen R 467 900 verkoop, kan bekostig, is die 1,6 dCi Visia dalk die heel beste kopie in die hele X-Trail reeks.

MotorPlus beveel hom sterk aan vir enigiemand wat in ʼn motor in hierdie marksegment belangstel.

X-Trail Pryse:

2.0 Visia                                       R 369 900

2.0 Visia 7s                                  R 374 900

1.6 dci Visia 7s                            R 392 900

2.5 Acenta CVT 4WD                  R 425 900

2.5 Acenta CVT 4WD 7s             R 429 900

2.5 Acenta Plus CVT 4WD 7s     R 444 900

1.6 dci Tekna 4WD                      R 457 900

2.5 Tekna CVT 4WD 7s               R 469 900

Nissan X-Trail 1,6 dCi Visia

Die toetsvoertuig is goedgunstelik deur BB Nissan Sinoville beskikbaar gestel.

Lees ook:

Nissan X-Trail 2,5 Tekna CVT 4WD getoets

 

 

%d bloggers like this: