Padindrukke: Opel Grandland X 1,6 T Enjoy

0 Comments

Toe General Motors in 2017 aangekondig het dat hy aan Suid-Afrika sou onttrek, was baie mense bekommerd oor Opel se toekoms in dié land.

Die verspreiding is egter deur Williams Hunt oorgeneem en sedertdien is twee nuwe sportnutsvoertuie, die Crossland X en die Grandland X, hier bekendgestel. MotorPlus het die Grandland X ‘n week lank getoets.

Aangesien Opel en Vauxhall nou deel van Peugeot is, is die Grandland X gebou op dieselfde onderstel as die Peugeot 3008, maar dis duidelik dat die Grandland X, wat omtrent in die middel van 2018 bekendgestel is, reeds groter aftrek as sy Franse stalmaat kry. Die toetsmodel was die Enjoy, die middelste van drie modelle in die reeks. Aan weerskante is die 1,6 T en die Cosmo, wat dieselfde enjin en ratkas deel, en net verskil wat standaardkenmerke betref. Die buitestilering van die Grandland X is aantreklik sonder om uitspattig te wees. Die Opel-identiteit is duidelik sigbaar en ‘n mens kan sien dat dit ‘n groter weergawe van die Crossland X is. Die agterligte is hoog gemonteer en duidelik sigbaar. Die persblou afwerking van die toetsmodel, wat amptelik as Amethyst Purple bekendstaan, kan net as asemrowend mooi beskryf word, maar dis dalk effens donker om in die nag gesien te kan word. Dit is een van tien bakkleure wat beskikbaar is vir die Grandland X-reeks. Die Enjoy word op die oomblik toegerus met allooiwiele met 215/65 R 17-bande maar later vanjaar sal 18-duim wiele standaardtoerusting word. Goed, ‘n mens vervang nie elke dag bande nie, maar dit sal beteken dat dit net soveel duurder sal wees. Die toetsmodel was ook toegerus met ‘n panoramiese glasdak, wat opsioneel vir die Enjoy is.

Die binnekant is baie goed afgewerk, en te midde van al hoe meer vervaardigers wat digitale instrumentasie gebruik, is dit goed om te sien dat die Grandland X steeds ‘n konvensionele instrumente-paneel gebruik. Die ritrekenaar bevat inligting soos ‘n kompas, die gemiddelde- en onmiddellike brandstof-verbruik, ‘n digitale spoedmeter, die snelheids-beperkerking wat gehand haaf moet word en die afstand wat nog afgelê kan word voordat brandstof weer ingegooi moet word. Die IntelliLink- inligting-en-vermaakstelsel werk deur middel van ‘n hoog geplaasde raakskerm, maar soos wat die modern neiging maar is, is daar nie ‘n CD-speler nie. Daar is ses luidsprekers en die toetsmodel was met satelliet navigasie, ‘n opsionele ekstra vir die Enjoy, toegerus.

Daar is wel nie ‘n kamera nie, hoewel ‘n 360 grade-kamera standaard toerusting vir die topmodel, die Cosmo, is, maar daar is sensors reg romdom die voertuig wat jou waarsku as daar dalk hindernisse is. Die sitplekke is wonderlik; die toetsmodel het leerbek-leedsel gehad en die voorste sitplekke is toegerus met verhitting en ventilasie, weer eens opsioneel vir die Enjoy. Daar is oorgenoeg kop-, been-en bagasie ruimte vir vyf insittendes. Die USB-kragpunt is in ‘n klein kompartement met ‘n deksel voor die ratkieser, maar dis effens moeilik om die deksel toe te maak as daar ‘n selfoon wat besig is om te laai, binne-in is. Daar is ook ‘n paneelkissie tussen die voorsitplekke en ‘n bykomende USB-kragpunt vir die agterste insittendes.

Die hele Grandland X-reeks word met dieselfde enjin en ratkas toegerus. Die turbo petrolenjin van 1,6 liter lewer 121 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 240 Nm teen 1 400 opm. Dit maak dat daar te alle tye genoeg wringkrag is en dat sy werkverrigting, selfs vir lang afstande, heeltemal voldoende is. Die hele reeks word toegerus met ‘n outomatiese ses-gangratkas met ‘n handratfunksie. Laasgenoemde is natuurlik net nodig as ‘n mens vining moet verbysteek; diem ratwisseling is som glad dat ‘n mens dit skaars agterkom. Hoewel die gemiddelde brandstofverbruik as 7,0 liter per 100 km aangedui word, was die verbruik wat ons behaal het, tussen 9,7 en 10,0 liter per 100 km, wat ‘n reikafstand van tussen 530 en 550 km met die 53 liter-brandstoftenk moontlik maak.

Daar is tans min sportnuts voertuie in hierdie klas wat met turbo-petrol enjins toegerus is, en baie vervaardigers hou maar by die bekende twee-liter enijns sonder turbo-aanjaers. Die Ford Kuga het ‘n minder goeie reputasie opgebou nadat ‘n aantal van hulle aan die brand geslaan het, maar nie net het hy detailveranderinge ondergaan nie maar ook ‘n nuwe enjin, in die plek van die een wat die moeilikheid veroorsaak het, gekry. Die model wat met die Grandland X 1,6 T Enjoy vergelyk, is die 1,5 Eco Boost Trend, wat teen R 445 900, net R 20 000 goedkoper as die Grandland X is. Natuurlik moet die Peugeot 3008 as mededinger genoem word aangeien hy en die Grandland X ‘n onderstel deel. Die vergelykbare model is die 1,6 THP Allure, teen R 470 900. Die Peugeot se iCockpit is ‘n aangeleerde smaak soos wat ‘n mens maar van ‘n Franse motor kan verwag; die instrumente paneel kan volgens persoonlike behoefte verander word en soos in alle moderne Peugeot-modelle is die stuurwiel baie klein. Die Mini Cooper Countryman Steptronic se prys begin by R 474 200, maar dis maklik om sy prys die hoogte in te laat skiet deur sekere opsionele ekstras te kies.

Die Grandland X 1,6 Enjoy se prys is R 465 000, nie minder nie as R 100 000 minder as dié van die Cosmo. Dit laat ‘n mens wonder of die Cosmo hoegenaamd die moeite werd is. Buitendien sal die gaping tussen die twee binnekort gevul word met die toevoeging van die Enjoy Plus, wat die meeste opsies waaarmee die toetsmodel toegerus was, as standaardtoerusting sal hê. Die Grandland X word gerugsteun deur ‘n waarborg en padbystand van vyf jaar of 120 000km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000km, of ‘n onderhoudsplan teen ekstra koste.

Die Opel Grandland X is ‘n wonderlike gesinsvoertuig, nie net omdat hy alles doen wat van hom verwag word nie, maar veral omdat hy klaarkom sonder sommige mededingers se foefies en fieterjasies en daarom baie maklik is om mee saam te leef. Dit is ‘n aantreklike motor wat nog baie lank modern sal wees en wat sy eienaar goeie diens behoort te gee.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: