Uitnemendheid en bestuursgenot.

Deur Gerrie Smit.

Die Opel Grandland X is in begin van 2018 in Suid-Afrika bekendgestel. Die Grandland X is Opel se top model in die Opel-reeks. Die Grandland X is Opel se mededinger in die marksegment vir middelslag-sportnutsvoertuie. Die sogenaamde C-segment vir SNV’s. Mededingers in hierdie segment is die Ford Kuga, die Hyundai Tucson , Kia Sportage, Mazda CX-5, die MINI Cooper Coutryman, die Peugeot 3008, Toyota RAV4 en die Volkswagen Tiguan. Elkeen van hierdie mededingers is ‘n bobaas-voertuig in eie reg. Die Opel Grandland X sal dus met ‘n magtige sprong vorendag moet kom om as nuweling ‘n duik in die verkope van hierdie segment te maak.

Daar is drie spesifikasievlakke in die Opel Grandland X beskikbaar, naamlik die 1,6 Turbo, die 1,6 Turbo Enjoy en die topmodel, die 1,6 Turbo Cosmo. Dié turbo-aangejaagde 1,6 liter-enjin, wat in al drie die modelle gebruik word, het ‘n kraglewering van  121 kW teen 6 000 opm en ‘n wringkrag van 240 Nm teen 1 400 opm.  Al die modelle het ook ‘n sesgang outomatiese ratkas.

Selfs die intreemodel, 1,6 Turbo het die belangrikste veiligheidskenmerke as standaardtoerusting, onder meer ABS-remme, wegtrekhulp, voorste-, kant- en gordynlugsakke, ‘n stelsel wat padtekens lees, ‘n banddrukmonitor en ISOFIX-hegpunte op die agtersitplekke. Onder sy ander standaardkenmerke is 16-duim allooiwiele, outomatiese kopligte, ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ses luidsprekers en elektroniese klimaatbeheer. Die 1,6 Turbo se prys is op die oomblik R 429 000.

Die middelste model in die reeks is die 1,6 Turbo Enjoy. Hierdie model se prys is tans R 465 000 en daarvoor kry die koper onder meer ook die volgende kenmerke:   17 duim allooiwiele, ‘n waarskuwingstelsel as die bestuurder per abuis op die oop pad van baan verwissel, ‘n elektrochromatiese trusipeël binne, ‘n hoogteverstelbare sitplek vir die voorste passasier en  sitplekke wat in materiaal en kunsleer afgewerk is.

Die topmodel van die reeks is die 1,6 Turbo Cosmo, wat R 565 000 kos. Hierdie model is natuurlik baie beter as sy goedkoper stalmaats toegerus, en dit regverdig die prysverskil van R 100 000. Onder sy bykomende kenmerke is volle LED-kopligte, volle leerbekleedsel, geventileerde- en verhitte voorsitplekke, satellietnavigasie, ‘n 360-grade-kamera, ‘n blindekolwaarskuwing, ‘n agterklap wat met kraghulp werk, aluminium-dakreëlings, en ‘n opsionele panoramiese sondak.

Die Mededigers:

Die Grandland X is een van verskeie mededingers in sy klas, en voornemende kopers het ‘n aantal aantreklike alternatiewe om te oorweeg. Die mees vanselfsprekende een is sy stalmaat, die Peugeot 3008 (Die Peugeot Maatskappy besit Opel). Daar is drie modelle met dieselfde petrolenjin as die Grandland X, naamlik die Active, die Allure en die GT-Line. Die pryse van dié verskillende modelle wissel van R 414 900 vir die Active tot R 519 900 vir die GT-Line. Daar is ook twee turbodieselmodelle vir dié wat hierdie enjinopsie verkies. Nog ‘n mededinger wat die ondersoek werd is, is die Ford Kuga, wat onlangs groot veranderinge ondergaan het. Daar is twee spesifikasievlakke met die turbopetrolenjin van 1,5 liter beskikbaar, naamlik die Ambiente en die Trend, en albei bied ‘n keuse van hand- of outomatiese ratkaste met ses gange elk. Daar is ook twee vierwielaangedrewe Titanium-modelle met ‘n turbo-aanggejaagde petrol- of dieselenjin van twee liter. Die enjin van die 1,5 liter-modelle lewer 110 kW teen 6 000 opm en 132 kW teen 6 000 opm vir die handrat- en outomatiese modelle onderskeidelik, maar wringkrag is 240 Nm teen 1 600 opm ongeag die ratkas wat gekies word. Die Ambiente-modelle se pryse is R 377 300 en R 390 700 vir die handrat- en outomatiese modelle onderskeidelik en dié van die Trend is R 415 200 vir die handrat en R 437 100 vir die outomatiese model. Diegene wat op soek is na ‘n mededinger met baie karakter, kan die Mini Cooper Coutryman oorweeg. Die gewone modelle is toegerus met ‘n turbo-aangejaagde drie-silinderenjin van 1,5 liter wat 100 kW teen 4 400 opm en wringkrag van 220 Nm teen 1 400 opm lewer. Die S-modelle se turbopetrol-enjin het ‘n verplasingsinhoud van twee liter en lewer 141 kW teen 5 000 opm en wringkrag van 280 Nm teen 1 350 opm. Die John Cooper Works All 4-modelle is baie duurder as die Grandland X. Die pryse van die res van die Countryman-reeks wissel van R 444 424 vir die Cooper-handrat tot R 537 869 vir die Cooper S-outomaties.  Een van die gewildste motors in hierdie marksegment is die VW Tiguan. Daar is twee petrol-enjins beskikbaar, elk met ‘n turbo-aanjaer en ‘n verplasingsinhoud van 1,4 liter. Die verskillende weergawes wat in die Trendline en Comfortline gebruik word, lewer onderskeidelik 92 kW teen 5 000 opm en wringkrag van 200 Nm teen 1 400 opm en 110 kW teen 5 000 opm en wringkrag van 250 Nm teen 1 500 opm. Daar is ook ‘n turbo-petrolenjin van twee liter wat 162 kW teen 4 500 opm en wringkrag van 350 Nm teen 1 500 opm lewer. Anders as die Grandland X is die Tiguan ook met een van drie turbodieselenjins van twee liter beskikbaar.

Die “Sprong”

Die vraag is wat is die “magtige sprong” wat die voornemende koper die Grandland X sal oorweeg as SNV van keuse. Die antwoord lê in die gebruiksvriendelikheid van die Grandland X. Dit is nou al ‘n erkende feit dat die motorpubliek oorbeweeg van sedans na SNVs. Dit beteken egter nie dat motoriste ‘n robuuste veldvoertuig wil hê nie. Vir die koper wat regtig waar al die gemak en gerief van ‘n sedan wil behou is die Grandland X ‘n uitstekende keuse. Die voertuig bestuur soos ‘n droom  en selfs in stadsverkeer pla sy grootte nie danksy aan al die hulpmiddels soos baanwisselling-waarskuwing en blinde kol waarskuwing. Dit is ‘n kwaliteitvoertuig met uiters hoë spesifikasievlakke selfs in die intreevlakmodel. Die Opel handelsmerk is al meer as 80 jaar in Suid-Afrika teenwoordig en het ‘n uitstekende reputasie vir uitnemendheid. Daar is ook tans 37 Opel-handelaars landwyd.

 

Die Grandland X word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 120 000km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km, terwyl ‘n onderhoudsplan teen ekstra koste beskikbaar is.

 

Pryse:

Grandland X 1.6T Automatic – R429 000

Grandland X 1.6T Enjoy Automatic – R465 000

Grandland X 1.6T Cosmo Automatic – R565 000

 

 

 

%d bloggers like this: