Padindrukke: Suzuki S-Presso 1,0 S-Edition

0 Comments

Die COVID 19-inperking het ‘n groot invloed gehad op die koop-gewoontes van Suid-Afrikaanse motoriste, en dis nie meer so maklik om ‘n nuwe motor te koop nie.

Die intreevlak-segment van die plaaslike mark het daarom al hoe belangriker geword, en daar is ‘n aantal mededingers wat vir minder as R 200 000 beskikbaar is. Suzuki was die mees onlangse vervaardiger wat tot hierdie segment toegetree het. Die Celerio is nou al goed gevestig in die mark, maar vroeër vanjaar is sy jongste mededinger in hierdie belangrike segment, die S-Presso, bekendgestel en dit het nie lank geduur voordat hy die publiek se verbeelding aangegryp het nie. Motor Plus het pas die topmodel in die S-Presso-reeks, die S- Edition, getoets.

Nog nooit tevore het ons ‘n motor getoets wat soveel rekasie uitgelok het nie. Die toetsvoertuig was ‘n helder oranje kleur wat hier en daar gunstig ontvang is, maar dit het baie mense nie aangestaan nie. Daar is wel meer konserwatiewe kleure soos wit, blou, rooi, silwer en donkergrys beskikbaar en voornemende kopers moet self besluit watter kleur hulle verkies. Die S-Edition word van sy stalmaats onderskei deurdat breë swart skermstroke met silwer insetsels en swart wielboë standaardtoerusting is. Hierdie twee kenmerke verbeter sy voorkoms aansienlik in vergelyking met die res van die modelreeks en bied beskerming wanneer daar ‘n geringe ongeluk plaasvind. Die hele S-Presso-reeks word toegerus met staalwiele met volle wieldoppe en 165/70R 14-bande. Die MRF-bande wat standaard toerusting vir die S-Presso is, is blykbaar moeilik om in die hande te kry, maar soortgelyke Hankook-bande kan as plaasvervangers gebruik word.

Die groot verrassing aan die binnekant is die kop-en beenruimte wat heeltemal voldoende vir vier mense is, asook die bagasiebak wat groter is as dié van sommige motors wat heelwat duuder is. Hiervoor verdien die ontwerpers volpunte, hoewel die agtersitplek nie verdeel is nie en in een stuk platvou. Die voorsitplekke beskik oor hoë rugleunings eerder as kopstutte; gelukkig belemmer dit nie die uitsig na agter nie. Die voorpaneel beskik oor goeie en minder goeie eienskappe. Die kleurbypassende afwerking op die instrumentepaneel, die luguitlate en die deurpanele is ‘n kwessie van persoonlike smaak; dit helder die binnekant aansienlik op maar sal nie by almal byval vind nie. Dit is ‘n bykomstigheid; gewoonlik is hierdie panele in grys afgewerk. Die instrumentepaneel is klein, maar beskik oor ‘n groot digitale spoedmeter wat maklik is om te lees. Ongelukkig beteken dit dat daar geen plek vir ‘n toereteller of ‘n temperatuurmeter is nie. Die ritrekenaar is redelik omvattend; dit gee die oombliklike en gemiddelde brandstof-verbruik asook die afstand wat daar nog met die brandstof in die tenk afgelê kan word. Die uitleespaneel is egter klein, en net een stuk inligting van op een slag gegee word, met die gevolg dat die afstandmeter en die brandstof-verbruik byvoorbeeld nie terselfdetyd gelees kan word nie.

Onder die instrumentepaneel is die raakskerm, met kenmerke soos Bluetooth-, Android Auto- en Apple Car Play-verbinding, en ‘n trukamera met parkeersensors, nog ‘n kenmerk wat die hoogste lof verdien maar net standaard toerusting vir die GL+ en die S-Edition is. Ongelukkig is ‘n veelfunksiestuurwiel te veel gevra in hierdie segment. Onder die raakskerm en die kontroles vir die uiters doeltreffende lugversorging is ‘n USB- en-AUX-kragpunt, asook ‘n 12-volt kragpunt. Die plek voor die bekerhouers waar ‘n selfoon wat gelaai word, gebêre kan word, is effens klein, maar daar is ook plek tussen die passasierslugsak en die paneelkissie, maar dis dalk ‘n effense risiko, want die foon kan afval as daar dalk hard gerem word. 

Die hele S-Presso-reeks word aangedryf deur ‘n een-liter enjin met drie siliders wat 50 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 90 Nm teen 3 500 opm lewer. Gelukkig weeg die S-Presso net 750 kg, en daarom is sy krag-tot-massaverhouding baie goed. Ons het meer as een keer op die oop pad met hom gery, en daar is geen rede hoekom ‘n mens nie redelike lang afstande kan aflê nie. Dit is ook geen probleem om 120 km/h te handhaaf nie; die motortjie se padhou-vermoë is goed genoeg, en die enigste probleem is windgeraas. Die gemiddelde brandstof-verbruik wissel tussen 18 en 19 kilometer per liter; ongelukkig beteken die baie klein brandstoftenk wat net 27 liter hou, soos die Hillman Imp van die 1960’s, dat ‘n tenkafstand van net omtrent 500 km moontlik is. Die S-Presso is beskikbaar met ‘n keuse van ‘n handratkas emt vyf gange of ‘n AMT-ratkas, wat die beste kenmerke van ‘n hand-en outomatiese ratkas kombineer maar nie oor ‘n koppelaar beskik nie. Ons moet egter sê dat die handratmodel so maklik is om te bestuur dat daar ‘n baie goeie rede moet wees hoekom ‘n mens die AMT sal kies.

Een van die grootste bekommernisse van enige koper in hierdie marksegment is veiligheid, maar hier oortref die S-Presso sy mededingers. Ons het nog geen klagtes oor sy strukturele integriteit gesien nie; dié van minstens twee mededingers is onder verdenking. Benewens die ABS-remme en twee lugsakke wat ‘n mens behoort te verwag, beskik die GL+ en S-Edition-modelle oor ‘n trukamera en parkeersensors. Ongelukkig is daar geen ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke nie. Een ontwerp-kenmerk wat egter volpunte verdien, is ‘n agterruit-verwarmer, hoewel ‘n veër te veel gevra is. Ons het vroeër vanjaar ‘n mededinger sonder ‘n agterruit-verwarmer getoets en dit het tydens die toets gereën; wat ons laat besef het dat dit onontbeerlik is. 

Daar is ‘n handjievol mededingers in die S-Presso se prysklas, maar die intreemodel van die plaaslike reeks, die GL, is teen R 145 900 die goedkoopste op die plaaslike mark. Die Renault Kwid het teen die einde van verlede jaar groot veranderinge ondergaan, maar ons is nog nie heeltemal oortuig dat dit nou die ondersoek werd is nie al is dit ‘n groot verbetering op die vorige model. Die Expression is die model wat teen die S-Presso meeding, en sy prys is R 156 900. Nog ‘n motor wat gewild geword het onder die publiek, maar deur die motorpers gehaat is, is die Datsun Go. Die reeks is in 2018 ingrypend verander en weer eens is dit nou ‘n baie beter motor as voorheen. Die Mid, wat teen die S-Presso meeding, kos R 174 200. Die Go is effens ruimer en sy brandstoftenk is groter, maar die Mid kan nie aanbeveel word nie en diegene wat wel in die Go belangstel, moet eerder die Lux kies. Die enigste ander mededinger op die oomblik is die Hyundai Atos. Met die nuwe model volg Hyundai die “aanvaar hom of los hom” -benadering, en die enigste seggenskap wat ‘n voornemende koper het, is oor die kleur. Dit is seker die S-Presso se beste mededinger, en die enigste een wat as alternatief oorweeg kan word.

Die S-Presso is een van die redes hoekom Suzuki die afgelope tyd rekordverkope behaal het; die grendeltyd het natuurlik sy potensiaal effens geknou, maar noudat die mark besig is om te herstel, sal dit beter gaan. Dit is reeds, saam met die Swift, die beste verkoper in Suzuki se uiters omvattende reeks van klein motors. Dis maklik om te verstaan hoekom; dit is ‘n motortjie wat ons in ‘n paar opsigte aangenaam verras het. Wat ons betref, slaan hy sy mededingers heeltemal uit die park, veral as gevolg van sy redelike prys van R 159 900, wat ‘n  waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n  diensplan van twee jaar of 30 000 km insluit.

 

Categories:
%d bloggers like this: