Breaking News

Padindrukke: Toyota Agya MT

Teen die einde van 2020 het Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) vir ‘n reuse verrassing gesorg toe ‘n splinternuwe model onder aan die plaaslike reeks bekendgestel is.

Die Agya is einde November in die plek van die Aygo bekendgestel en TSAM het sommer dadelik ‘n handratmodel aan Motor Plus vir ‘n toets beskikbaar gestel.

Met die Agya volg Toyota die aanvaar-hom-of-los-hom-benadering, en die enigste seggenskap wat voornemende kopers het, is oor die kleur en die ratkas, aangesien ‘n outomatiese ratkas ook beskikbaar is. Die Agya word aangedryf deur ‘n een-liter enjin met drie silnders wat 49 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 89 Nm teen 4 400 opm lewer. Dit klink nie na veel nie, maar ‘n mens moet in gedagte hou dat hierdie motortjie hoofsaaklik vir stedelike gebruik bedoel is, hoewel ‘n mens nou en dan langer afstande met hom ook kan aflê. Die gemiddelde brandstof-verbruik wat ons met hom behaal het, was 17.2 kilometer per liter, wat ‘n reikafstand van byna 570 km met die klein 33 liter-tenk moontlik maak. Die toetsmotor was nog splinternuut; hy het skaars 800 km afgelê, en ons is oortuig daarvan dat daar op hierdie syfer verbeter kan word.

Die Agya se buitestilering het baie aandag tydens ons toets-tydperk getrek, en veral die silwer afwerking van die toetsmotor saam met die swart allooiwiele met 175/65 R 14 Bridgestone Ecopia-bande en ‘n volgrootte noodwiel wat standaard toerusting is (welgedaan, Toyota!) het deftig gelyk. Daar was ook gunstige kommentaar oor die vooraansig met die groot sierrooster, en volgens die jonger mense wat die motortjie gesien het, het dit ‘n effens futuristiese inslag. Die een punt van kritiek is die lugdraad bokant die bestuurder se deur wat maklik beskadig kan word. Miskien sou een voor of agter op die dak ‘n beter idee gewees het.

Aan die binnekant beskik die Agya oor goeie en minder goeie eienskappe. Die spesifikasie-vlak is baie goed, en kenmerke soos ‘n volledige ritrekenaar, voorsitplekke met hoë rugleunings wat darem nie uitsig na agter belemmer nie, elektriese vensters en ‘n baie goeie klimaatbeheer-stelsel is standaard toerusting. Die klimaatbeheer beskik oor ‘n Max Cool-knoppie wat ‘n mens kan druk as jy dadelik die stelsel op sy laagste temperatuur moontlik wil hê, en in die warm somerweer waarin die grootste gedeelte van die toets plaasgevind het, was dit ‘n uiters welkome kenmerk. Die klankstelsel is ongelukkig nie standaardtoerusting nie, en ‘n mens wonder wie die Agya sonder een sal koop. Daarom is dit beter om liewer vir die bykomende R 3 800 te begroot. Die klankstelsel beskik oor Bluetooth-verbinding, en motorvervaardigers behoort wetlik verplig te word om dit standaardtoerusting vir alle nuwe motors te maak.

Daar is egter een ernstige probleem, naamlik die ruimtebenutting van die voorpaneel. Onder die kontroles vir die klimaatbeheer is ‘n 12 volt-kragpunt, maar die plek langsaan is te klein vir ‘n selfoon. Daar is, om die waarheid te sê, geen plek waar ‘n selfoon wat gelaai word, gebêre kan word nie. Die skakelaar vir die noodflikkers is onder die klankstelsel; dit kon eerder bokant die luguitlate gesit het en die plek tussen die klankstelsel en die kontroles vir die klimaatbeheer kon eerder gebruik word vir ‘n plek vir ‘n selfoon. Die enigste alternatief is om die selfoon in die bekerhouers voor die rathefboom staan te maak en hom dan in te prop, maar dit is dalk ook nie ‘n goeie idee nie.  Die bagasiebak is groot genoeg vir vier mense en hul bagasie; dis net jammer dat die agtersitplek wat kan platvou om bagasieruimte te vergroot, nie verdeel is nie. Ons kon Toyota Connect nie op die proef stel nie, aangesien dit deur die My Toyota-toepassing werk, en dit net deur die eienaar van ‘n betrokke motor gebruik kan word. Ons dink egter dit is ‘n groot voordeel wat deurslaggewend vir voornemende kopers kan wees. 

Die Agya beskik oor die meeste belangrike veiligheids-kenmerke wat ‘n mens in ‘n motor van sy prys kan verwag. Twee lugsakke, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke is alles standaard toerusting, en Toyota verdien drie hoera’s vir die insluiting van ‘n agterruit-verwarmer en ‘n agterste ruitveër. Hierdie twee kenmerke is onontbeerlik in reënweer, en kan nie as vanselfsprekend in ‘n motor van hierdie prys aanvaar word nie. Die agterste ruitveër het twee verstellings; dit kan net nou en dan vee of permanent aan gelaat word as dit hard reën.  Die sleutellose toegang en aansitknoppie is ‘n foefie in hierdie soort motor, en ‘n mens moet doodseker maak dat die liggie op die aansitkoppie aan is en die motor in neutraal is voordat ‘n mens hom kan aansit. Dit duur ‘n rukkie om daaraan  gewoond te raak, maar op die ou einde kom ‘n mens reg daarmee. Die ander nadeel is die feit dat die bagasiebak net van binne af oopgemaak kan word. Daar is ‘n sleutelgat, maar om elke keer die sleutel uit die afstandbeheer te haal en terug te plaas nadat die bagasiebak oopgemaak is, is ‘n groot beslommernis. Die oplossing is eenvoudig: voeg ‘n knoppie op die afstandbeheer vir die bagasiebak by; dit is seker nie te veel gevra nie!

Daar is ‘n aantal mededingers in die prysklas van omtrent R 190 000 wat miskien oorweeg kan word. Die nuwe Hyundai Grand i 10 is onlangs bekendgestel, en die model wat teen die Agya meeding, is die 1,0 Motion, wat R 191 900 kos. Die vorige model was uiters gewild in Suid-Afrika, en dis moontlik dat die nuwe een net so suksesvol sal wees. Ons dink egter dat Hyundai meer vrygewig met sy diensplan kon wees; een versiening teen 15 000 km is al wat ‘n mens kry. Die Kia Picanto is ook ‘n gunsteling onder kopers in hierdie klas, maar die intreemodel, die 1,0 Start, is nie baie goed toegerus nie. Die model wat met die Agya vergelyk, is die 1,0 Street, teen R 195 995. Die Picanto gaan in Januarie ‘n paar veranderinge ondergaan en daar is tans spesiale aanbiedinge vir die huidige reeks. Ons het egter nog nie gehoor wat die veranderinge sal behels en of sy prys daardeur geraak sal word nie.  Die Suzuki Swift is besig om al hoe gewilder te word; ‘n mens koop nie die GA nie, en die GL, met ‘n spesifikasievlak wat met dié van die Agya vergelyk, kos R 194 900. Natuurlik is die Suzuki Baleno en die Toyota Starlet dieselfde motor, en die verkope van die Starlet in vergelyking met dié van die Baleno vertel sy eie verhaal. Toyota se handelaarsnetwerk sal vir kopers in hierdie prysklas deurslaggewend wees en  dit gee die Agya ‘n voordeel, maar die Swift is kragtiger en sy waarborg en diensplan is beter. Ons dink egter dat die GLX die beste kopie in die Swift-reeks is, al is hy effens duurder. Die enigste ander mededinger in hierdie klas wat dalk oorweeg kan word, is die Datsun Go Lux, teen R 189 100, maar ‘n diensplan word nie by die prys ingesluit nie. Hoewel die VW Polo Vivo steeds Suid-Afrika se topverkoper is, is daar geen model vir minder as R 200 000 beskikbaar nie; vir die prys van die 1,4 Trendline, die intreemodel, koop ‘n mens veel eerder ‘n Starlet XS, wat ‘n paar duisend goedkoper is en ‘n diensplan as standaardtoerusting bied.

Toyota het jare gelede laas ‘n intreevlak-motor wat so oortuigend soos die Agya was in sy reeks gehad ; dalk was die laaste een die Conquest van die laat 1980’s en vroeë 1990’s wat later die Tazz geword het en ongelukkig deur die jare regressief ontwikkel het.  Die Agya het die potensiaal om verlore aansien onder aan die mark te herwin. Die besluit om net een goed toegeruste model bekend te stel, was ‘n risiko maar Toyota sal die vrugte daarvan pluk, want dit skakel verwarring uit en verseker dat voornemende kopers uitstekende waarde vir geld kry.  Die Agya se prys is R 182 400, met die klankstelsel ingesluit; die prys sluit ook ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan vir twee versienings of 20 000 km, met dienstussenposes van 10 000 km, in.  Ons wens Toyota alle sukses met die Agya toe, en ons hoop dat hy daartoe sal bydra dat die maatskappy weer die eerste plek op die verkoopslys van passasiers-motors sal behaal. 

%d bloggers like this: