Deur Daantjie Badenhorst.

In 1994 het die Sweedse vervaardiger Volvo na Suid-Afrika teruggekeer na ‘n afwesigheid van agttien jaar.

Sedertdien het die reeks nie net uitgebrei nie maar sekere modelle het uiters positiewe terugvoer van die media af gekry. Die tweede geslag van die S 40 en die nuwe XC 90 het die Motor-van-die-Jaar-kompetisie gewen en die XC 40 en XC 60, wat albei in 2018 in Suid-Afrika bekendgestel is, het ‘n goeie kans om weer met die titel weg te stap.

Die V 40 is miskien die oudste model in Volvo se reeks, naas die S 60 wat in 2019 vervang word, en tog is daar geen twyfel dat dit steeds ‘n pragtige motor is nie. Die toetsmotor wat MotorPlus ontvang het, het steeds die koppe laat draai. Veral  die allooiwiele wat met 225/40 ZR 18-bande toegerus is, vertoon goed. Daar is verskeie tipes allooiwiele van 17 of 18 duim beskikbaar, maar die toetsmotor se Narvi-wiele het baie mooi gelyk. Dit hang egter van die voornemende koper af wat hy of sy sou verkies. Die V40-reeks het in 2017 ‘n aantal veranderinge ondergaan en een van die nuwe stileringskenmerke wat baie aandag trek, is die Thor Hammer-rigtingwysers wat in die kopligte ingebou is. Dit is met die 90-reeks bekendgestel en het reeds ‘n kernmerk van die hele reeks geword. Daar is min verskille tussen die Momentum en die Inscription-modelle, laasgenoemde het net onder meer ‘n paar kosmetiese verskille, ‘n elektries verstelbare passasiersitplek en ‘n meer gevorderde klankstelsel. Niks hiervan is genoeg om ‘n koopbesluit te beïnvloed nie. Die ander moontlikheid is die R-Design, met ‘n meer sportiewe voorkoms, wat breër wiele, silwer buitespieëls, dubbele uitlaatpype en, aan die binnekant, unieke afwerking, sportpedale en ‘n sportstuurwiel. Weer eens is hierdie veranderinge nie eintik die moeite werd nie. Die toetsmodel was toegerus met die sportpakket, wat R 30 500 kos, en onder meer volle LED-kopligte, wassers vir die kopligte, ‘n sportstuurwiel en ‘n hoëverrigting-klankstelsel bevat. Dit werk goedkoper uit om so ‘n pakket te kies eerder as om die verskillende opsionele ekstras afsonderlik te bestel.

Daar is drie turbo-aangejaagde petrolenjins vir die V 40 beskikbaar, en aangesien die dieselmodelle later aan die beurt kom, gaan ons vir eers op die petrolmodelle konsentreer. Die hele reeks word toegerus met enjins van twee liter, maar hul kraglewerings verskil. Die enjin van die T3, die intreemodel, lewer 112 kW teen 5 000 opm en wringkrag van 250 Nm teen tussen 1 300 en 4 000 opm. Die toetsmodel, die T4, is die middelste model, en sy enjin lewer 140 kW teen 4 700 opm en wringkrag van 300 Nm teen tussen 1 300 en 4 000 opm. Die topmodel is die T5; sy enjin lewer 180 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 350 Nm teen tussen 1 500 en 4 800 opm.

Die V 40 kry voortaan ‘n outomatiese Geartronic-ratkas met ses gange as standaardtoerusting. Die handratkas is aan die mark onttrek, maar niemand behoort verbaas of teleurgesteld te wees nie.  Die T4 se topsnelheid is 210 km/h en hy kan van 0 tot 100 km/h in 7.1 sekondes versnel.  Die gemiddelde brandstofverbruik gedurende die toetstydperk was 8,0 liter per 100 km, wat nie sleg is vir ‘n motor in hierdie klas nie. Hoewel die T4 die middelste model in die V 40-reeks is, is sy werkverrigting voldoende en selfs aanhangers van blitsbukse sal hom geniet. Daar is wel nie vierwielaandrywing met hierdie enjin beskikbaar nie, maar oorgenoeg veiligheidskenmerke wat daarvoor vergoed, onder meer vastrap- en stabiliteitsbeheer, ABS-remme met noodremhulp, voorste-, kant- en gordynlugsakke, outomatiese kopligte en die City Safety-stelsel wat die bestuurder in kennis stel as daar ‘n hindernis voor die voertuig is en die remstelsel dadelik aktiveer. Daar is ook aanpasbare spoedbeheer wat die volgafstand agter die voorste motor handhaaf. Daar is ook ander veiligheidskenmerke opsioneel beskikbaar, onder meer ‘n blindekolmonitor, ‘n trukamera (dit behoort standaardtoerusting te wees) en parkeersensors voor en agter.

Binneruim

Die binneruim van die V40 verdien lof en kritiek. Die bougehalte is, soos wat ‘n mens van ‘n Volvo kan verwag, uiters goed en daar is oorgenoeg plek om los goedjies te bêre. Die motor word deur middel van ‘n knoppie aangesit en die sleutel word onder dié knoppie gebêre. Toe die huidige V 40 bekendgestel is, was die instrumentepaneel ‘n groot besprekingspunt. Dit het ‘n digitale uitleespaneel met drie moontlike bestuursverstellings, naamlik Elegance, Eco en Performance. Die Elegance-verstelling kan as die “gewone” bestuurskeuse beskou word; die spoedmeter is in die middel en die temperatuurmeter en toereteller aan onderskeidelik die linker- en regterkant. Die Eco-verstelling het ‘n ekono-meter links van die spoedmeter, wat wys hoe ekonomies die motor bestuur word. Die Performance-instelling is vir die geesdriftige bestuurder; daar is ‘n ronde toereteller en ‘n digitale spoedmeter wat in die middel vertoon word. Daar is ook ‘n kragmeter regs van die spoedmeter. Die inligting wat op die motor se ritrekenaar vertoon word, kan afgewissel word, en dit sluit die oombliklike- en gemiddelde brandstofverbruik in, asook die afstand wat nog met die brandstof in die tenk afgelê word, in. Die brandstof-waarskuliggie gaan aan wanneer daar nog 100 km afgelê kan word voordat daar weer volgemaak moet word. Die meeste mense sal seker die Elegance-verstelling  gebruik. Die leersitplekke wat standaardtoerusting is, is uiters gemaklik, selfs vir langer afstande; die bestuurder en voorste passasier se sitplekke word onderskeidelik met kraghulp en met die hand verstel. Daar is egter een belangrike kenmerk wat die V 40 se ouderdom wys, en dit is die inligting- en-vermaakstelsel. Daar is nie ‘n raakskerm nie en die skerm wat wel gebruik word, is baie klein. Die dun middelkonsole, ‘n jarelange Volvo-kenmerk, is vol knoppies en skakelaars, en hoewel dit maklik is om te gebruik, is ‘n raakskerm toenemend gewild, juis omdat dit veiliger is en nie soveel ontwrigting veroorsaak as daar bestuur word nie. Die toetsmotor is met opsionele satellietnavigasie toegerus,en dié stelsel is maklik om te gebruik. Nog ‘n opsionele kenmerk waarmee die toetsmotor toegerus is, is ‘n panoramiese glasdak. Hierdie dak kan nie oopgemaak word nie, en daarom wonder ‘n mens of dit die moeite werd is. Die bagasiebak is effens klein vir ‘n gesin, maar as dit ‘n probleem is, kan ‘n mens ‘n tydelike bagasierak op die dak monteer of ‘n trekstang monteer en ‘n sleepwa trek as dit nodig is.

Mededingers

Die marksegment waarin die V40 meeding, is maar klein, aangesien hy gemik is op die koper wat nie meer in ‘n VW Golf, ‘n Ford Focus of ‘n Renault Mégane belangstel nie, maar ook nie ‘n groter motor soos ‘n BMW 3-reeks nodig het nie. Die Mercedes-Benz A-klas was nog altyd seker die V 40 se grootste teenstaander; die nuwe geslag A-klas is ‘n baie groot verbetering op sy voorganger. Die reeks is egter nog beperk; dit sal met verloop van tyd uitgebrei word. Die BMW 1-reeks is, soos die V 40, nie meer vandag se kind nie, en dit kan nie meer lank duur voordat ‘n plaasvervanger bekendgestel word nie. Die model wat teen die toetsmodel meeding, is die 120i, wat R 481 759 kos. Nog ‘n mededinger wat al redelik lank op die mark is, is die Audi A 3 Sportback, wat amper as ‘n kruising tussen ‘n luikrug en ‘n stasiewa beskou kan word. Die 2,0 T FSI is die toetsmodel se vernaamste teenstander in dié reeks, en sy prys is R 475 500. Diegene wat op soek is na ‘n motor met hope karakter, kan die Mini Cooper S Clubman, teen R 470 642, oorweeg. Al hierdie motors, die V 40 ingesluit, het iets baie belangriks gemeen; almal het lang lyste opsionele ekstras wat die motor se prys die hoogte in kan laat skiet as ‘n mens nie versigtig is nie.

Die Volvo V 40 Momentum T4, sonder opsionele ekstras, kos R 473 500. Dié prys is uiters mededingend, en sluit ‘n waarborg en onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km in. Dit is beter as dié van die meeste mededingers en maak van die V 40 ‘n goeie keuse vir iemand wat ‘n motor vir die lang termyn oorweeg. Baie mense sal vrae hê oor Volvo se herverkoopwaarde omdat die publiek só ‘n obsessie met Mercedes-Benz en BMW het dat min mense enige alternatiewe oorweeg. Volvo het egter nou ‘n finansieringsplan aangekondig ingevolge waarvan ‘n mens ‘n motor drie jaar lank kan hou en daarna kan vervang terwyl die motor se toekomstige waarde gewaarborg word mits dit behoorlik onderhou word. Aangesien ‘n volle onderhoudsplan van vyf jaar standaardtoerusting is, het niemand ‘n verskoning om dit nie te doen nie. Die V 40 is steeds ‘n aantreklike motor wat met vrymoedigheid aanbeveel kan word selfs al is ‘n paar kenmerke verouderd, maar as die XC 40 en 60 ‘n aanduiding is van wat om in die toekoms te verwag, het Volvo-geesdriftiges baie om na uit te sien wanneer die volgende geslag eindelik bekendgestel word.

Toetsvoertuig verskaf deur CMH Volvo Silver Lakes in Pretoria.

%d bloggers like this: