Breaking News

Perana se Basil Green

 

Deur Daantjie Badenhorst.

 

Een van die legendes van Suid-Afrikaanse motorsport, en die Suid-Afrikaanse motorbedryf as ‘n geheel, Basil Green, is op 27 Junie 2022 oorlede.

Hy sal veral onthou word vir die Perana-weergawes van sekere Ford-modelle wat hy ontwikkel en omgebou het en vanuit sy werkswinkel in Edenvale in Gauteng verkoop het.  Hy het begin deur ‘n dubbelnokas-silinderkop vir die Ford Anglia waaraan hy destyds aan motorsport deelgeneem het, te ontwikkel. Hierdie motor, wat tydens die Nege-Uur uithouwedren  van 1965 op Kyalami onherstelbaar beskadig is, is vir Car se Junie 1965-uitgawe getoets, en kon ‘n topsnelheid van meer as 200 km/h bereik.  In die 1960’s wou die regering ‘n  belasting van 30% op gespeesialiseerde insteltoerusting gehef het en dit sou die einde van Green se onderneming beteken. Green het egter ‘n skuiwergat raakgesien. Aangesien geen belasting gehef sou word wanneer ‘n standaardenjin met ‘n groter kapasiteit  in ‘n motor gemonteer sou word nie, het hy besluit om die Essex V6-enjin in die Cortina Merk 2 te monteer. Die Perana-naam, afgelei van die pirhana-vis van Suid-Amerika, was sy vrou se idee maar as gevolg van probleme met kopiereg het hy besluit om die spelling te verander. Die Cortina V6 Perana, wat Car vir die Junie 1968-uitgawe getoets het, kon ‘n topsnelheid van 170 km/h bereik; destyds was dit ‘n uitsonderlike prestasie. Mettertyd is ‘n XL-weeergawe ook bekendgestel. In 1969, kort nadat die Ford Capri in Suid-Afrika bekendgestel is, het Green dieselfde V6-enjin onder sy enjinkap gemonteer. Ford was egter van plan om sy eie Capri V6 bekend te stel, en toe dit vroeg in 1970 gebeur het, is ‘n legende gebore.

Die Capri Perana V8 is aangedryf deur die vyfliterenjin uit die Fairlane met dieselfde viergang-handratkas as die destydse Mustang. Car het een vir die Januarie 1971-uitgawe getoets en ‘n topsnelheid van 228 km/h, die vinnigste van enige motor tot op daardie stadium, gehaal. Hy kon binne 6,7 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. Dit was die enigste Capri V8 ter wêreld en sy prys het ‘n volle Ford-fabriekswaarborg ingesluit. In 1972 is twee verdere Perana-modelle bekendgestel. Die Escort Perana, gebaseer op die Merk 1 GT, is aangeedryf deur dieselfde tweeliter-bonokasenjin as die destydse Cortina Merk 3 GT, terwyl die Cortina Perana weer eens die Essex V6-kragbron onder sy enjinkap gehad het. In 1972 het Ford die Capri aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek selfs al is ‘n opgeknapte weeeergawe oorsee bekendgestel; daarom is Green gedwing om produksie van die Capri Perana te staak.

Aangesien die Escort Perana se enjin uit die Cortina Merk 3 2000 GT gekom het, die Cortina Perana die Capri se V6-enjin gekry het en die Capri V8 Perana se enjin uit die VSA gekom het, het dit die gewone 1600 Kent-enjin uit die Escort sonder ‘n tuiste gelaat. Green het ‘n ooreenkoms met Ford Suid-Afrika aangegaan om daardie enjins terug na Port Elizabeth te stuur. Nog ‘n suksesvolle uitvloeisel was die Perana-hortjies wat op die Capri Perana se agterruit gemonteeer is. Dit het so vining byval gevind dat dit as  ‘n bykomstigheid vir omtrent alle motors beskikbaar was.

Teen die einde van 1972 het Ford die Granada in Suid-Afrika bekendgestel en Green het dadelik ‘n V8-model, sonder die Perana-naam, ontwikkel. Die Granada V8 was beskikbaar as ‘n XL-sedan en -koepee, elk met die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas. Die brandstofkrisis van 1973 het egter byna ‘n einde aan die onderneming gemaak. Motorsport, asook die verkoop van verrigtingsmotors, is in Suid-Afrika verbied. Die voorsitter van Ford in die Verenigde State van Amerika, Lee Iacocca, het gehoor van die Granada V8 wat Green ontwikkel het, en wou een vir himself gehad het. Die probleem was dat die stuurwiel aan die verkeerde kant was, maar daar is ‘n plan gemaak. Daar is ‘n Granada met linkerhandstuur van Duitsland af ingevoer, en nadat dit in V8 verander is, is dit na Iacocca gestuur.  Die petrolkrisis het gemaak dat die ombouings tot ‘n einde gekom het, hoewel ‘n paar Granada Ghia’s ook V8-enjins gekry het. Die laaste hiervan is in 1977 vervaardig, ‘n jaar voordat die tweede geslag Granada bekendgestel is. Daar sou egter geen V8-weeergawe van die nuwe model ontwikkel word nie.  Op Iacocca se aanbeveling het Green in 1974 die Ford-handelaar vir die Edenvale- en Befordview-omgewings van die Oos-Rand geword. Hoewel die oorspronklike handelaar in sy werkswinkel gevestig is, het Basil Green Ford, soos dit bekendgestaan het, die volgende jaar se Handelaar-van-die-Jaar-toekenning gewen. Daarna is ‘n nuwe vertoonlokaal in die hoofstraat van Edenvale gebou.

Teen die vroeë 1990’s was daar ook ‘n aktiewe Perana-klub in die Verenidge Koninkryk, meet ongeveer 100 lede. Omtrent dieselfde tyd het Green ook twee weergawes van die destyds nuwe Sapphire ontwikkel. In reaksie op ‘n vraag hoekom hy dan nie ‘n V8-weeergawe ontwikkel het nie, het hy gesê dat dit nie regtig beplan was nie. Hy het sy eie Sapphire gemodifiseer deur ‘n spesiale inlaatspruitstuk met plek vir  twee vergassers te ontwikkel. Die 3,4 liter-model het ‘n krukas met ‘n langer slag gehad asook spesiale suiers. Hierdie model het 170 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 334 Nm teen 3 000 opm ontwikkel.

 

Lees ook: Hulde aan Perana-man Basil Green

 

 

 

 

%d bloggers like this: