Die nuwe Peugeot 3008, wat vroeër vanjaar die Europese Motor van die Jaar-kompetisie gewen het, is sopas in Suid-Afrika bekendgestel. Volgens Peugeot is die nuwe 3008 nie net hulle eerste Sportnutsvoertuig-model nie, maar is ook hulle mees tegnologies-gevorderdste voertuig nog ooit in hul geskiedenis.

Die vorige 3008 is as ‘n veeldoelvoertuig bemark, maar met die nuwe weergawe het Peugeot besluit om hom eerder op die sportnutsvoertuig-mark te mik en die nuwe 3008 ding mee in die C- segment van die groeiende SNV-mark.

Die 3008-reeks bestaan voorlopig eers uit vyf modelle, wat almal toegerus is met dieselfde turbo-aangejaagde petrolenjin van 1,6 liter, maar sal dan vroeg in 2018  uitgebrei word met die bekendstelling van ‘n aantal modelle met ‘n turbodieselenjin.

Die 1,6 liter petrol-enjin lewer 121 kW teen 6 000 opm en het ‘n wringkrag van 40 Nm teen 1 400 opm.  Al die modelle is met ‘n outomatiese sesgangratkas toegerus. Die 3008 se gemiddelde brandstofverbruik is 7,0 liter per 100 km. Die hele reeks het ‘n topsnelheid van 201 km/h en hulle versnel van 0 tot 100 km geskied in 8,9 sekondes.

Daar is drie spesifikasievlakke vir die nuwe 3008 beskikbaar.

Die “Active” is die intree-model van die reeks, maar is toegerus met kenmerke soos outomatiese kopligte en ruitveërs, dagryligte, klimaatbeheer, ‘n stuurkolom wat op en af en in en uit kan verstel, kant-en gordynlugsakke, veiligheidstelsels wat ‘n bestuurder waarsku as hy of sy moeg word en as daar per abuis uit ‘n baan op die snelweg beweeg word, ‘n digitale raakskerm en ‘n aanboordrekenaar. Die 3008 se instrumentepaneel is digitaal en die uitleespaneel kan volgens die bestuurder se behoeftes aangepas word.

Die “Allure” is die middelste model in die reeks en twee weergawes is beskikbaar. Die “Allure +” is die Allure-model met ‘n meer gevorderde vastrapbeheerstelsel. Die verskille tussen die Allure en die Active is dat die Allure oor bykomende kenmerke soos 18-duim allooiwiele, voubare trusipeëls, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, voorste parkeersensors, ‘n inligting-en-vermaakstelsel wat die bestuurder Wi Fi-toegang gee en voorste sitplekke met lendesteun beskik.

Die “GT Line” is die vlagskip van die reeks, en weereens is ‘n gewone GT-line model asook ‘n “GT Line +”. Die GT Line bied onder meer die volgende kenmerke, wat nie op die ander modelle beskikbaar is nie: allooiwiele van 19 duim, satellietnavigasie, ‘n 180 grade-kamera en ‘n inlgting-en-vermaakstelsel met stembeheer, asook die vermoë om ‘n slimfoon koordloos te laai. Die GT Line+ het ook bykomende veiligheidskenmerke, onder meer ‘n waarskuwingstelsel vir van wanneer ‘n voorste botsing kan plaasvind, wanneer ‘n motor in ‘n bestuurder se blinde kol is en ‘n gevorderde noodremstelsel. Die Die GT Line+  is ook die enigste 3008-model met ‘n panoramiese dak.

Die pryse van die 3008-reeks is soos volg:

1,6 THP Active: R 399 900
1,6 THP Allure: R 444 900
1,6 THP Allure +: R 464 900
1,6 THP GT Line: R 499 900

1,6 THP GT Line + : R 569 900

Die prys sluit ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km in, terwyl ‘n volle onderhoudsplan teen ekstra koste beskikbaar is.

Die Peugeot 3008 GT-Line + is die vlagskip in die 3008-reeks en spog onder andere met ‘n panoramiese dak.