Nadat die Peugeot 308 omtrent ‘n jaar gelede van die Suid-Afrikaanse mark onttrek is, is dié voormalige Europese Motor van die Jaar weer hier beskikbaar.

Die nuwe 308 het ‘n aantal detailveranderinge ondergaan en net een vlak van afwerking met dieselfde enjin en ‘n keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas sal voortaan beskikbaar wees. Die nuwe buite-stilering bevat ‘n herontwerpte sierrooster met ‘n kenmerkende Peugeot-kenteken en kopligte wat LED-dagryligte bevat. Daar is drie lug-uitlate in die voorste stamper en misligte is in die hoeke aangebring. Die agterligte het dieselfde tipe ontwerp as dié van die 3008.

Die reeks bestaan uit twee Allure-modelle met dieselfde 1,2 liter PureTech-enjin met drie silinders en ‘n turboaanjaer. Hierdie enjin lewer 96 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 230 Nm teen 1 750 opm. Hierdie enjin het drie keer sy kategorie in die Internasionale Enjin van die Jaar- kompetisie gewen. Die gemiddelde brandstofverbruik van die 308 is 5,1 liter per 100 km en ‘n topsnelheid van 204 km/h kan behaal word. Daar is ‘n keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas, elk met ses gange.

Aan die binnekant is die 308 met Peugeot se kenmerkende I Cockpit toegerus, wat die besonder klein stuurwiel wat deesdae in dié vervaardiger se motors gebruik word, insluit. Daar is ook ‘n “Mirror Screen”-funksie, wat die skerm van die bestuurder se slimfoon op die raakskerm van 9,7 duim wys en met Android Auto of Apple Car Play kan werk. Die raakskerm verleen ook toegang tot die motor se belangrikste kontroles, soos die klimaatbeheer, spoedbeheer en alle multimedia-funksies.

Verskeie veiligheidskenmerke is standaardtoerusting. Benewens ABS-remme met elektroniese remverspreiding, stabiliteitsbeheer, vastrapbeheer, noodremhulp en deure wat sluit sodra die motor wegtrek, is daar ‘n stelsel wat die bestuurder waarsku wanneer hy of sy nie meer op die pad konsentreer nie.

Die pryse van die twee modelle is R 334 900 en R 369 900 vir die handrat- en outomatiese model onderskeidelik. Die reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km, ‘n diensplan van drie jaar of 60 000 km, padbystand van drie jaar of 100 000 km en ‘n waarborg teen korrosie van twaalf jaar.

%d bloggers like this: