Peugeot betree intree-segment met 108

0 Comments

Peugeot het pas die intreevlak-segment van die Suid-Afrikaanse mark betree met die bekendstelling van die 108.

Die 108 is nie net ‘n doodgewone stadsmotortjie nie; dit bevat ook die mees gevorderde  slimfoon-verbinding stelsel in sy klas. Dit bestaan onder meer uit ‘n groot raakskerm en ‘n spieëlskerm (Mirror Screen)-funksie wat onder meer Mirror Link en die App In Car-verbindings-funksies bevat.  Die gebruiker kan sy of haar slimfoon op twee maniere verbind; deur Bluetooth, wat hoofsaaklik toegang tot die foon en die musiek daarop bied, of deur Mirror Screen, wat versoenbaar is met die toepassings wat in ‘n voertuig gebruik kan word.

Die 108 is ‘n kompakte motor; 3,47 meter lank en 1,62 metrer breed, en sy draaisirkel van 4,8 meter maak hom maklik om in die stad te hanteer. Volgens Xavier Nicolas, die Peugeot 108-produk-bestuurder, is dié motortjie ‘n bewys dat Peugeot in ‘n hoër klas in beweeg. Volgens hom gee sy stilering, enjin, standaard toerusting, veiligheid en gehalte die indruk dat die koper ‘n voertuig in ‘n hoër segment besit. 

Wanneer die bagasiebak oopgemaak word, vou die agterste pakkiesrak tot teen die agterruit weg; met die agter-sitplekke wat in ‘n 50/50-verhouding verdeel is,  regop kan hy 227 liter hou, en wanneer die sitplekke platgevou word, is daar 868 liter. Daar is verskeie plekke vir los goedere; daar is plek vir 500 ml-bottels in die deure terwyl die paneelkissie ‘n een-liter bottel kan huisves. 

Daar is ses lugsakke; en die een vir die voorste passasier kan afgeskakel word as daar ‘n kinderstoeltjie op die voorste passasier-sitplek vasgemaak word. Daar is ook vier bykomende lugsakke en ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke. Onder die ander veiligheids-kenmerke wat standaard toerusting is, is ABS-remme met elektroniese remverspreiding en noodremhulp, elektroniese stabiliteits-beheer en weg-trek hulp. Daar is staalwiele met 165/65 R 14-bande as standaard toerusting. 

Die buitestilering van die 108 skep ook die indruk dat dié motortjie bo sy mededingers uitstaan; die kopligte bevat ligdiode-dagryligte en die agterligte bevat ‘n uitstaande Peugeot-stilerings-kenmerk, naamlik drie kloue, soos dié van ‘n leeu, wat op Peugeot se bekende embleem voorkom.  Aan die kant is die voorste en agterste oorhange so klein as moontlik en die voor- en agtersitplekke is uiters toeganklik. 

Aan die binnekant is daar ‘n verstelbare stuurkolom, en die analoog-instrumente-paneel en vloei-kristal skerm is konsentries gerangskik.  Aan die regterkant is daar ook ‘n ratwyser, wat die bestuurder aanraai wanneer om ratte te wissel vir die beste moontlike brandstof-doeltreffendheid. Die vertikale  toereteller is aan die linkerkant van die spoedmeter. Die kontroles vir die voorste elektriese vensters is bymekaar gegroepeer en outomatiese klimatbeheer is standaardtoerusting. 

Die 108 word toegerus met ‘n eenliterenjin met drie silinders wat 53 kW lewer en aan ‘n vyfgang-handratkas gekoppel word; sy gemiddelde brandstof verbruik is 4,1 liter per 100 km.

Peugeot het regtig moeite gedoen met naverkoopdiens; die prys van R 179 900 sluit ‘n waarborg en omvattende diensplan van vyf jaar of 100 000 in, asook padbystand, ‘n kennisgewing elke keer wanneer die motor se lisensie hernieu moet word, en wanneer die waarborg verval asook bystand en ‘n leenmotor wanneer die eienaar se eie motor versien word, of wanneer herstelwerk onder waarborg gedoen word, ‘n onderdelemandjie met mededingende pryse en die My Peugeot-slimfoon toepassing.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: