Peugeot se nuwe 2008 eindelik hier

0 Comments

Peugeot se tweede geslag 2008 is pas in Suid-Afrika bekendgestel.

Die reeks is beskikbaar in drie modelle, naamlik die Active, met die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas, die Allure en die GT-Line, albei met die sesgang-outomatiese ratkas as standaard toerusting. Die Active-handrat word toegerus met ‘n Pure Tech 1,2 liter drie-silinder enjin met ‘n turboaanjaer wat 74 kW en wringkrag van 205 Nm teen  1 750 opm lewer. Die Active-outomaties, die Allure en die GT-Line se weergawe van dieselfde enjin lewer 96 kW en wringkrag van 230 Nm teen 1 750 opm. 

Die Active-modelle spog met 16-duim allooiwiele terwyl die Allure en GT-Line met 17-duim diamantsnit-allooiwiele toegerus word.  Die Active-modelle het onder meer die volgende kenmerke as standaard toerusting: kleurgekodeerde deurhandvatsels, buitespieëls wat met die hand ingevou en verhit kan word, ‘n swart geruite sierrooster, voorstampoers met ‘n swart onderste insetsel, ‘n dak in dieselfde kleur as die bakwerk, halogeenkopligte, ligdiode-dagryligte wat outomaties aan- en afskakel en oor ‘n volg-my-en-lei-my-funksie beskik, ligdiode-rigtingwysers wat in die buitespieëls gemonteer is en ligdiode-agterligte met ‘n klou-ontwerp.

Aan die binnekant van die Active-modelle is daar ‘n handbeheerde lugversorger, ‘n leerstuurwiel, ‘n rathefboom wat met leer oorgetrek is vir die handratmodel en ‘n ratkieser in leer en chroom vir die outomatiese model, voorste leesligte wat by die lig van die binneruim geïntegreer is, skakelaars vir die belangrikste funksies wat in glansswart afgewerk is, oranje stikwerk vir die middelkonsole, deurpanele en paneelbord, ‘n 60/40-verdeelde agtersitplek wat platgevou kan word, Peugeot se i-Cockpit met ‘n kompakte stuurwiel, ‘n seweduim-raakskerm met Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play wat die skerm van die gebruiker se selfoon weerspieël, ‘n voorste USB- en 12 volt-kragpunt, stembeheer vir die radio en telefoon, en ‘n klankstelsel wat MP3-versoenbaar is en met ses luidspkrekers toegerus word. 

Onder die veiligheids-kenmerke wat standaard toerusting vir die Active is, is deure wat outomaties sluit as die voertuig wegtrek, noodflikkers wat outomaties gaktiveer word as daar hard gerem word, elektroniese stabiliteits-beheer met wegtrekhulp, skyfremme voor en agter met ABS, noodremhulp en elektroniese remkragverspreiding, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke en  programmeerbare spoedbeheer.

Benewens die kragtiger enjin voeg die Allure-spesifikasievlak die volgende kenmerke by: buitespieëls wat met die druk van ‘n knoppie kan invou, ‘n verchroomde geruite sierrooster, ‘n voorstamper met ‘n laer insetsel in chroom, glansswart dakspore, lidgiode-kopligte, voorste misligte, outomatiese lugversorging, voorste ligdiode-binnekantbeligting met twee leesligte, ligblou stikwerk op die deurpanele, middelkonsole en paneelbord, materiaalsitplekke met ligblou stikwerk, Advanced Grip Control, wat eintlik ‘n vastrap-beheerstelsel is, ‘n hoë middelkonsole met ‘n armleuning wat bêreplek vir los goedere bevat, ‘n elektroniese parkeerrem, ‘n 180 grade trukamera, parkeersensors voor en agter, ‘n instrumentepaneel met ‘n 3D-uitleespaneel, plek om ‘n selfoon te bêre en  ‘n bykomende C-tipe USB-kragpunt asook twee bykomende USB-kragpunte agter.

Die GT-Line is die vlagskip van die reeks, en spog ook met die volgende bykomende kenmerke: glansswart buitespieëls, ‘n donker-chroom sierrooster met 3 D-afwerking, ‘n diamantswart dak, volle ligdiode-kopligte met outomatiese hoë- en laestraal afhangende van omstandighede, beligting aan die binnekant in agt verskillende kleure, skermplate van vlekvrye staal aan die binnekant van die deure, aluminium-pedale, lemmetjie-groen stikwerk vir die deurpanele, konsole, sitplekke en paneelbord, voorste sportsitplekke wat verhit kan word, baanhouhulp, voorbots-waarskuwing, ‘n blindekolmonitor, ‘n waarskwuing as die bestuurder se aandag nie op die pad is nie, voorbotswaarskuwing en baanhouhulp. Die raakskerm van die GT-Line is tien duim en daar is ‘n koordlose selfoonlaaier. 

Die pryse van die nuwe 2008-reeks, wat ‘n waarborg van  vyf jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 60 000 km insluit, lyk só:
Active handrat 74 kW: R 359 900
Active outomaties 96 kW: R 399 900
Allure outomaties 96 kW: R 429 900
GT Line outomaties 96 kW: R 479 900