Breaking News

Peugeot se nuwe 208 op pad

Die tweede geslag van Peugeot se 208 gaan vir die eerste keer by die Geneefse Motorskou in Maart vertoon word voordat dit later in die jaar in Europa op die mark sal kom.

Die groot nuus is egter dat daar nie net, soos gewoonlik, petrol- en diesel-weergawes beskikbaar sal wees nie, maar dat ‘n elektriese model, bekend as die e208, ook deel van die reeks sal wees. Dit is die eerste stap in Peugeot se planne om teen 2023 sy hele reeks elektries te maak. Die e208 sal toegerus wees met ‘n battery van 50 kWh en ‘n elektriese motor van 100 kW, en sal ‘n afstand van byna 340 km kan bereik voordat dit weer gelaai moet word.

 

Daar is drie bestuurs-modusse vir die e208, naamlik Normal, Eco, wat reikafstand so ver as moontlik rek, en Sport, wat werk-verrigting verbeter. Die battery word vir agt jaar of 160 00km deur die vervaardiger gewaarborg. Dit is geleë onder die motor se vloerplan om te verseker dat daar soveel binne- en bagasie-ruimte moontlik is; dit is trouens presies dieselfde as die ander modelle. Die e208 kan op een van drie manière gelaai word; ‘n dood gewone muurprop kan gebruik word, om die voertuig op hierdie manier te laai, duur 20 ure. Daar is ook toegewyde kragpunte beskikbaar wat die tydsduur om die motor te laai, na agt ure verkort. In Brittanje is daar regering-subsidies beskikbaar ter ondersteuning hiervan, maar dit is te vroeg om te sê wanneer dit in Suid-Afrika sal gebeur. Die motor kan ook vining by openbare laaistasies gelaai word’dit duur slegs 30 minute om die motor by ‘n 100 kW-stasie te laai. Hierdie stasies is ook nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie. Daarby kan eienaars ook deur middel van die Connected 3D-navigasiestelsel of die My Peugeot- selfoon toepassing hul motors met afstandbeheer laai. Die selfoon toepassing kan ook gebruik word om die motor se klimaatbeheer, onder meer verwarming, lugversorging en voorruit ontwaseming vooraf in te stel.

Om saam te val met die bekendstelling van die e208 het Peugeot ook ‘n reeks dienste aangekondig om motoriste wat na elektriese motors oorskakel, te ondersteun. Dit sluit ‘n reeks moontlikhede in wat die bestuurder in staat sal stel om sy of haar motor by die huis of die werk te laai en ‘n roetebeplanner wat die ligging van laaistasies aandui, terwyl die toepassing die bestuurder ook kan help om die beste moontlike bestuurservaring en reikafstand te bereik.

Benewens die e208 is daar drie weergawes van die turbo aangejaagde petrolenjin van 1,2 liter met drie silinders met vyf- of sesgang-handratkaste asook ‘n 1,5 liter turbo diesel-enjin met ‘n sesgang- handratkas beskikbaar. Die nuwe 208 sal met verskeie bestuurs-hulpstelsels beskikbaar wees, onder meer volle parkeerhulp (met die outomatiese ratkas), baanhou-hulp , wat die bestuurder help om die motor in die middel van ‘n baan op die oop pad te hou, ‘n aandagmonitor wat bespeur wanneer die bestuurder se aandag nie op die pad is nie, ‘n stelsel wat spoed beperkings aandui en ‘n blindekol-monitor. Die nuwe 208 het ‘n sportiewe en kenmerkende voorkoms en van voor af is dit dadelik herkenbaar as ‘n Peugeot, met volle LED-kop- en agterligte en die Peugeot-kenteken op die voorste stamper. Die e208 het uitstaande stilerings kenmerke wat hom van sy stalmaats onderskei, onder meer ‘n e- kenteken in die agterste pilare, ‘n sierrooster dieselfde kleur as die bakwerk en ‘n Peugeot-kenteken wat van kleur verander na aanleiding van die hoek waaruit dit bekyk word.

Die hele 208-reeks spog met Peugeot se kenmerkende i-Cockpit, met ‘n baie klein veelfunksie-stuurwiel, ‘n raakskerm van sewe of tien duim, afhangende van die model, ‘n verstelbare paneel tussen die voorruit en die instrumente paneel wat belangrike inligting weergee, ‘n 3D-digitale instrumentepaneel, ‘n 3D-navigasiestelsel en versoenbaarheid met Apple Car Play en Android Auto.

 

Die binnekant bevat drie plekke waar los goedere gebêre kan word, naamlik een onder die arm leuning tussen die voorsitplekke, ‘n maklik bereikbare plek voor die rathefboom en ‘n versteekte kompartement in die middel konsole waar ‘n selfoon wat gelaai word, gebêre kan word.

Nadat die 208-reeks in Maart by die Geneefse Motorskou bekendgestel is, sal dit teen die middel van die jaar in Europa op die mark kom. Daar is nog geen aankondiging gedoen oor wanneer dit in Suid-Afrika bekendgestel sal word nie.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: