Nadat Mahindra vroeg in 2017 die nuwe Scorpio SNV in Suid-Afrika op die mark gebring het, is die Scorpio se bakkie-weergawe, die Pik-Up, in Oktober 2017 geloods.

Die nuwe model is in baie opsigte ‘n verbetering op sy voorganger in die sin dat hy ‘n sleepkapasiteit van 2,5 ton het, asook ‘n kragtiger enjin, ‘n sesgangratkas  en meer moderne stilering.

Tydens die bekendstelling het mnr Sanjoy Gupta, die uitvoerende hoof van Mahindra Suid-Afrika, gesê dat Suid-Afrika ‘n uiters belangrike strategiese mark vir Mahindra is, en dat die behoeftes van die plaaslike verbruikers vir die maatskappy ‘n prioriteit is.

Die voorkant van die nuwe Pik-Up bevat die grootste veranderinge. Daar is ‘n swart sierrooster met chroom-afwerking en die Mahindra-kenteken is duidelik sigbaar. Die onderste luguitlaat is só herontwerp dat dit visueel meer met die sierrooster geïntegreer is. Die kopligte aan weerskante van die rooster is splinternuut en sluit LED-dagryligte op die S 10-dubbelkajuit in.

Aan die binnekant is daar ook ‘n aantal belangrike veranderinge. Die S 10-dubbelkajuit het ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ‘n raakskerm van ses duim as standaardtoerusting. Hierdie model het ook ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer, satellietnavigasie, outomatiese ruitveërs en kopligte,  spoedbeheer en ‘n veelfunksiestuurwiel.

Veiligheidskenmerke soos ABS-remme met elektroniese remverspreiding en dubbele lugsakke is standaardtoerusting vir sommige modelle. Daar is kopstutte en driepuntsitplekgordels vir al die insittendes terwyl die  S 10-dubbelkajuit ISOFIX-hegpunte op die agterste sitplekke het.

Die Pik-Up word aangedryf deur dieselfde mHawk-enjin as die nuwe Scorpio. Hierdie turboaangejaagde dieselenjin, met ‘n verplasingsinhoud van 2,2 liter, lewer 103 kw teen 3 750 opm en wringkrag van 320 Nm teen tussen 1 500 en 2 800 opm. Die hele reeks het ‘n handratkas met ses gange as standaardtoetrusting en 4×2- en 4×4-modelle is beskikbaar, terwyl ‘n meganiese ewenaarslot standaardtoerusting dwarsdeur die reeks is.

Daar is drie spesifikasievlakke beskikbaar, twee vir die enkelkajuit en een vir die dubbelkajuit. Die intreemodel is die S4-enkelkajuit; hierdie model het kragstuur, ‘n 12 volt-kragpunt, vinielbekleedsel, en ‘n stop-en-wegtrekfunksie, wat die voertuig se enjin afskakel wanneer daar lank stilgestaan word, as standaardtoerusting. Die S6-enkelkajuit is in ‘n 4×2- en ‘n 4×4 beskikbaar en is aansienlik beter toegerus. Onder die bykomende kenmerke wat standaardtoerusting op die S6-modelle is, is ABS-remme, twee lugsakke, sleutellose toegang, kleurgekodeerde stampers en truspieëls, elektriese vensters, ‘n geïntegreerde klankstelsel met ‘n USB-sok, materiaalbekleedsel, outomatiese lugversorging en  deure wat sluit sodra die voertuig wegtrek,  Die S 10-dubbelkajuit, wat ook in 4×2- en 4×4-modelle beskikbaar is, is die vlagskip van die reeks. Hierdie modelle het ook ‘n veelfunksiestuurwiel, ‘n inligting-en-vermaakstelsel met satellietnavigasie en Bluetooth-verbinding, elektriese spieëls en 16-duim allooiwiele.

Die Pik-Up word gerugsteun deur ‘n waarborg van vier jaar of 120 000km, terwyl padbystand vir dieselfde tydperk beskikbaar is. Dienstussenposes is 20 000km of een keer per jaar. Al die modelle behalwe die S 4-enkelkajuit kom met ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000km, .

Pryse

S4-enkelkajuit: R 187 995

S6-enkelkajuit: R 239 995

S6-enkelkajuit 4×4: R 284 995

S 10-dubbelkajuit: R 324 995

S 10-dubbeljakuit 4×4: R 354 995. 

Lees ook ons padverslag oor die S 10 Dubbelkajuit 4×4 hier….