Breaking News

Porsche 911 GTS gou in Suid-Afrika beskikbaar

In 1963 het Porsche vir die eerste keer ‘n model met die GTS-kenteken bekendgestel toe die 904 GTS sy verskyning gemaak het.

Nou het Porsche aangekondig dat die nuwe weergawe van die 911 Carrera GTS , wat die gaping tussen die Carrera S en die Turbo sal vul, voor die einde van die jaar in Suid-Afrika beskikbaar sal wees. 

Daar sal altesaam vyf modelle beskikbaar wees; die Carrera GTS-koepee en afslaankap en die Carrera 4 GTS-koepee, afslaankap en Targa. Die verskil is dat die Carrera 4-modelle vierwiel-aandrywing sal hê.

Die GTS word aangedryf deur ‘n kragtiger weergawe van die Carrera S se turbo-aangejaagde drie-liter enjin met ses silinders, wat 353 kW teen 6 500 opm en wringkrag van 570 Nm teen tussen 2 150 en 5 000 opm lewer. Hoewel ‘n PDK-ratkas met agt gange standaard toerusting is, kan voornemende kopers ook ‘n handratkas met sewe gange kies. Die koepee kan binne 3,3 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. 

Die veerstelsel van die GTS kom uit die Turbo maar is  spesifiek vir hierdie model ontwikkel, en beskik oor die Porsche Active Suspension Management. Die onderstel is ook 10 mm laer as dié van die Carrera S. Daarby is die hoëverrigting-remstelsel uit die Turbo standaard toerusting vir die GTS terwyl die allooiwiele wat met een moer in die middel vasgebout word en uit die Turbo kom, met onderskeidelik 20- en 21-duimwiele voor en agter toegerus word. Die uitlaatstelsel is vir die GTS aangepas en die vermindering van isolasie aan die binnekant sorg vir ‘n meer sportiewe enjin klank.

Aan die buitekant is daar swart of verdonkerde afwerking vir die drukvin, die hortjies van die enjinkap, asook die GTS-kentekens op die deure en die enjinkap en die alloowiele, terwyl hoëglans-swart afwerking vir hierdie kenmerke, asook die Targa-kenteken vir die Carrera 4 GTS Targa, opsioneel beskikbaar is. Die GTS beskik verder oor unieke agterligte. 

Binne word die sportiewe tema voortgesit; die rathefboom vir die opsionele handratkas is 10 mm korter en stel die bestuurder in staat om vinniger ratte te wissel.  Die Sport Chrono-pakket met ‘n skakelaar om tussen die verskillende bestuurs-modusse te kies en ‘n GT-sportstuurwiel is standaard toerusting, tesame met ‘n Porsche Track Precision-toepassing met ‘n vertoonpaneel wat die bande se temperatuur aandui. Die sitplekke beskik oor Race Tex-bekleedsel wat as Porsche se weergawe van Alcantara beskou kan word.  Die middelste deel van die sitplekke, die deksel van die paneelkissie tussen die sitplekke en die rathefboom word in hierdie materiaal afgewerk. Daar is ‘n keuse tussen rooi en Crayon-afwerking vir die stikwerk op die sitplekke, sitplekgordels en kopstutte, asook in die toereteller en die Sport Chrono-horlosie. Die GTS word ook toegerus met die jongste weergawe van die Porsche Communication Management-stelsel en die raak-areas in die Media-kieslys is vergroot. Die stembeheer is ook verbeter; dit kan natuurlike spraak herken en word met die woorde “Hey Porsche” geaktiveer en eienaars kan hul slimfone met Android Auto of Apple Car Play koppel. 

Vir die eerste keer is die 911 GTS ook nou beskikbaar met die Lightweight Design-pakket, vir die meer geedsriftige  bestuurder. Hierdie pakket verminder die motor se massa met 25 kg deur gebruik te maak van koolveselafwerking vir die voorste skottelsitplekke en liggewig-glas vir die kantruite en die agterruit. Die agtersitplekke word ook verwyder.  Die pakket beskik ook oor agterwielstuur en bykomende aërodinamiese kenmerke.

Die pryse van die verskillende 911 GTS-modelle, wat ‘n volle onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, lyk só:

Carrera GTS-koepee: R 2 290 000

Carrera GTS-afslaankap: R 2 490 000
Carrera 4 GTS-koepee: R 2 400 000

Carrera 4 GTS-afslaankap: R 2 600 000

Carrera 4 GTS Targa: R 2 600 000

%d bloggers like this: