Ses weke nadat die nuwe geslag van die 911-koepee, met die 992-modelkode, bekendgestel het, het Porsche die toevoeging van die afslaankap-weergawe vir hierdie model aangekondig.

Die nuwe model sal aanvanklik in ‘n 911 Carrera S Cabriolet en ‘n 911 Carrera 4S Cabriolet beskikbaar wees. Die nuwe model se dak, wat ‘n geïntegreerde glas-agterruit bevat hidrouliese werking wat maak dat die dak vinniger as voorheen oop- en toegemaak kan word. Dit duur slegs twaalf sekondes om dit reg te kry, en die dak kan teen snelhede van tot 50 km/h oop- of toegemaak word.

Dieselfde enjin word vir albei modelle gebruik; die enigste verskil is dat die S en die 4S onderskeidelik agter- en vierwielaandrywing het. Die turbo-aangejaagde sessilinderenjin van drie liter lewer 331 kW teen 6 500 opm en wringkrag van 530 Nm teen tussen 2 300 en 5 000 opm, en ‘n nuut ontwikkelde agtgang-ratkas met ‘n dubbele koppelaar is standaardtoerusting vir albei modelle. Die Carrera S Cabriolet kan binne 3,9 sekondes van 0 tot 100 versnel (3,7 sekondes met die Sport Chrono-pakket ) en sy topsnelheid is 306 km/h. Die Carrera 4S Cabriolet se syfers is onderskeidelik 3,8 sekondes (3,6 met die Sports Chrono-pakket) en 304 km/h.

Die nuwe 911 Cabriolet lyk breër en meer gespierd as voorheen, met 20- en 21-duim wiele onderskeidelik voor en agter. Dieselfde bakwerk word ook voortaan vir die Carrera S en 4S gebruik. Aan die agterkant is ‘n breër drukvlerk wat kan intrek teen laer snelhede en behalwe vir die voorste en agterste dele word die hele bakwerk van aluminium gemaak.

Die Cabriolet het ook ‘n nuwe instrumentepaneel met ‘n toereteller in die middel en twee panele aan weerskante met die spoedmeter en ander instrumente. Die skerm van die inligting-en- vermaakstelsel is nou 10,9 duim; dit kan beheer word sonder dat die bestuurder se aandag afgetrek word.

Die 911-reeks word toegerus met ‘n stelsel wat vir die eerste keer in enige motor gebruik word. Die Wet Mode stel vas wanneer daar water op die pad is en stel die bestuurder in staat om die motor in te stel met die klem op veiligheid deur bloot ‘n knoppie te druk of, in die geval van ‘n motor wat met die Sport Chrono-pakket toegerus is, die modus-skakelaar op die stuurwiel te gebruik. Die kamera-gebaseerde waarskuwings- en remhulpstelsel wat ook standaardtoerusting is, waarsku die bestuurder as ‘n botsing met ‘n voertuig, fietsryer of voetganger moontlik kan voorkom en stel ‘n waarskuwing of remhulpstelsel in werking indien nodig. Daarby is ‘n parkeerhulpstelsel met ‘n kamera standaardtoerusting, terwyl ‘n nagvisie-hulpstelsel, wat onder meer aanpasbare spoedbeheer met outomatiese afstandbeheer, ‘n stop-en-ryfunksie en beskerming vir alle insittendes insluit, opsioneel beskikbaar is.

Hierdie model sit ‘n tradisie voort wat in September 1981 by die Frankfurt-motorskou begin het. Die eerste konsep van die 911-afslaankap is tydens dié motorskou vertoon en ‘n jaar later het die produksiemodel op die mark gekom.

Die pryse van die twee modelle, wat Porsche se onderhoudsplan van drie jaar of 100 000 km insluit, is R 1 874 000 vir die Carrera S Cabriolet en R 1 964 000 vir die Carrera 4 S Cabriolet.

%d bloggers like this: