Breaking News

Porsche brei 718-reeks uit

Porsche het pas aangekondig dat sy 718 Cayman- en Boxster-reeks uitgebrei is met die toevoeging van twee nuwe modelle.

Die 718 Spyder en 718 Cayman GT 4 is gemik op die ware geesdriftige wat op soek is na kompromislose bestuurs-genot en uitsonderlike padhou-vermoë waardeer. Die twee modelle is onderskeidelik op die Boxster en die Cayman gebaseer.

Die twee modelle deel dieselfde nuut ontwikkelde ses-silinder enjin met ‘n verplasings-inhoud van vier liter, en ‘n handratkas met ses gange is standaard toerusting. In albei modelle lewer die enjin 309 kW teen 8 000 opm en wringkrag van 420 Nm teen tussen 5 000 en 6 800 opm.  Hierdie enjin word wel nie met ‘n turbo-aanjaer toegerus nie, maar is familie van die turbo-aangejaagde enjins wat in die 911 Carrera-reeks gebruik word en die kenmerkende “boxer”-enjinklank is ook in dié nuwe modelle teenwoordig. Die topsnelhede van die Spyder en die Cayman GT 4 is onderskeidelik 301 en 304 km/h en albei kan binne 4,4 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel.  Vir die eerste keer in ‘n enjin wat teen hoë toere funksioneer, word Piezo-inspuiters vir direkte brandstof-inspuiting gebruik; dit verdeel die inspuitings-proses tussen altesaam vyf inspuiters en ondersteun ‘n volledige en besoedelings-vrye ontbrandings-proses.

Die 718 Cayman GT 4 beskik oor aansienlik verbeterde aërodinamika, wat onder meer moontlik gemaak word deur ‘n nuut ontwerpte knaldemper wat plek vir ‘n agterste lugverdeler moontlik maak; daarby is ‘n vaste drukvlerk op die agterklap aangebring. Dit sorg vir 20 % meer afwaartse druk in vergelyking met sy voorganger; dit kom neer op bykomende afwaartse druk van 12 kg teen 200 km/h.  Die vooraansig beskik oor ‘n drukvin, met ‘n bykomende vin voor die modderskerms sorg vir aërodinamiese afwaartse druk op die voorste as. Die sentrale luguitlaat in die voorste stamper sorg vir optimale aërodinamika en selfs die onderkant van die voorste drukvlerk is met dieselfde doel voor oë ontwerp.

Die 718 Spyder is ontwerp om soveel bestuursgenot moontlik te verseker en is ontwerp as ‘n liggewig-afslaankap wat hoë snelhede kan behaal.  Hierdie model is ‘n geestes-opvolger van die 550 Spyder en die 718 RS 60 Spyder. Die dak is maklik om oop en toe te maak; dit kan elke dag gebruik word en  vou maklik onder die bagasiebak-deksel weg. Anders as die GT 4 word die Spyder toegerus met ‘n drukvlerk wat in die bakwerk wegvou en teen snelhede bokant 120 km/h uitkom. Danksy die funksionele lugverdeler is die Spyder die eerste model van die Boxster-familie wat aërodinamiese afwaartse druk op die agteras voortbring.

Porsche se aktiewe veerstelsel-beheer verlaag die veerstelsel met 30mm; dit verlaag albei modelle se swaarte-kragpunt en verbeter hul dinamiese potensiaal. Dié veerstelsel maak albei motors uiters geskik vir gebruik op die renbaan. Die Porsche-stabiliteits-beheer stelsel kan in twee stappe gedeaktiveer word en ‘n meganiese agterste ewenaarslot verbeter padhou-vermoë om draaie.  Die GT 4 is beskikbaar met ‘n opsionele ClubSport-pakket wat bestaan uit ‘n agterste rolstaaf van staal, ‘n brandblusser en ‘n sitplekgordel met ses punte vir die bestuurder. Albei modelle is met hoëverritging-remme met vaste knypers toegerus; dit is spesiaal ontwikkel om op die renbaan gebruik te word. Keramiekremme is egter opsioneel beskikbaar. Die 718 Spyder word ook nou toegerus met bande vir uitsonderlike werkverrigting wat deur Porsche ontwikkel is en wat die GT 4 in staat gestel het om die rondetyd van sy voorganger op die  Nürnburgring Nordschelife wat 20,6 kilometer lank is, met meer as tien sekondes te verbeter.

Die 718 Spyder en Cayman GT 4 kan reeds bestel word en enige van die Porsche Centre-takke landwyd kan inligting oor pryse verskaf.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: