Breaking News

Porsche knap sy Macan op

Sedert die aanvanklike bekendstelling van die Porsche Macan is 600 000 eenhede wêreldwyd verkoop, en die meeste eienaars tot dusver was mense wat vir die eerste keer ‘n Porsche gekoop het.

Die Macan is in 2015 aangewys as die Suid-Afrikaanse Gilde van Motor-joernaliste se Motor van die Jaar, en ‘n opgeknapte reeks vir die 2022-modeljaar is pas bekendgestel. Daar sal drie modelle wees om van te kies, naamlik die Macan, die Macan S en die Macan GTS.

Die intreemodel word aangedryf deur ‘n twee-liter enjin met vier silinders en ‘n turboaanjaer. Hierdie enjin lewer 195 kW teen tussen 5 000 en 6500 opm en wringkrag van 400 Nm teen tussen 1 800 en 4 500 opm. Die Macan kan binne 6,4 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en ‘n topsnelheid van 232 km/h behaal. Die middelste model is die Macan S, een van twee modelle wat met ‘n 2,9 liter ses-silinder enjin aangedryf word. In die Macan S lewer hierdie enjin 289 kW teen tussen 5 200 en 6 700 opm en wringkrag van 520 Nm teen tussen 1 850 en 5 000 opm. Die Macan S kan ‘n topsnelheid van 259 km/h bereik en versnel binne 4,8 sekondes van 0 tot 100 km/h. Die vlagskip van die reeks is die Macan GTS, wat met ‘n kragtiger weergawe van die Macan S se enjin toegerus word. Die GTS se enjin beskik oor twee turboaanjaers en die lewer 324 kW teen 5 700 tot 6 600 opm en wringkrag van 550 Nm teen 1 900 tot 5 600 opm. Die GTS se topsnelheid is 272 km/h en hy kan binne 4,5 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. Porsche se sewegang PDK-ratkas en die Porsche Traction Management-stelsel met vierwiel-aandrywing is standaard toerusting vir al drie modelle.

Al drie modelle word toegerus met ‘n opgeknapte veerstelsel wat rygerief en sportiewe hantering kombineer en die Macan reageer met meer sensitiwiteit in ooreenstemming met padtoestande en die bestuurder se insette; dit maak dat die motor selfs nog beter terugvoer aan die bestuurder gee. Die Porsche Active Suspension Management-stelsel wat opsioneel vir die S en GTS beskikbaar is, is aangepas vir die nuwe model. Die GTS het egter lugvering as standaard toerusting en sy bakwerk is 10 mm laer as dié van die ander twee modelle.  Daar is ook ‘n opsionele GTS Sport-pakket beskikbaar wat bestaan uit 21 duim-allooiwiele met ‘n GT-ontwerp en hoëverrigtingsbande, Porsche Torque Vectoring Plus en die Sport Chrono-pakket. 

Aan die buitekant is daar ‘n aantal stilerings-veranderinge; die herontwerpte neus bevat ‘n insetsel in die kleur van die bakwerk wat die motor se breedte beklemtoon. Op die GTS word die middelste deel van die neus, asook ander elemente in swart afgewerk.  Die agteraansig word met ‘n opvallende lugverdeler afgerond. Die nuwe reeks word met ligdiodekopligte met die Porsche Dynamic Light System asook Sport Design-buitespieëls toegerus. Altesaam veertien kleure is vir die nuwe Macan beskikbaar, onder meer  nuwe kleure bekend as Papaya Metallic en  Gentian  Blue Metallic. Die GTS met die GTS Sport-pakket kan ook in Python Green bestel word. Die nuwe modelle word met groter allooiwiele toegerus; 19 duim vir die Macan, 20 duim vir die Macan S en 21 duim vir die Macan GTS. Altesaam sewe nuwe ontwerpe is beskikbaar.

Die binnekant spog met ‘n herontwerpte middelkonsole met ‘n moderne ontwerp en aanrakings-oppervlaktes pleks van die knoppies wat voorheen gebruik is. Die ratkieser is korter as voorheen en ‘n analooghorlosie aan die bokant van die paneelbord is standaardtoerusting. Nuwe leerbekleedsel is beskikbaar met opsionele sitkwerk in drie kleure.  Soos voorheen is verskeie aanlynfunksies standaardtoerusting; dit kan beheer word deur middel van die hoëdefinisie-raakskerm van 10,9 duim of stembeheer. Die nuwe veelfunksie-stuurwiel uit die 911-reeks word ook vir die Macan gebruik. Die GTS Sport-pakket vir die binnekant bestaan uit koolveselpanele, sportsitplekke met agttien verstellings, Race Tex-bekleedsel met leer-elemente, en sitkwerk, asook die GTS-letters op die sitplekke in Python Green.

Bestellings vir die nuwe Macan-reeks kan reeds by Porsche-handelaars landwyd geplaas word. Die pryse, wat ‘n Driveplan-onderhoudsplan van vyf jaar insluit, lyk só:

Macan: R 1 100 000
Macan S: R 1321 000
Macan GTS: R 1 601 000

%d bloggers like this: