Die Porsche Macan-reeks het pas ‘n nuwe vlagskipmodel gekry.

Die Macan Turbo spog met ‘n nuwe 2,9 liter V6-enjin met twee turbo-aanjaers, met 10% meer krag ten spyte van ‘n laer verplasings-inhoud. Wanneer die opsionele Sport Chrono-pakket gekies word, kan die nuweling binne 4,3 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel terwyl hy ‘n topsnelheid van 270 km/h kan bereik.  Die enjin lewer 324 kW teen tussen 5 700 en 6 600 opm en wring-krag van 550 Nm teen tussen 1 800 en 5 600 opm. Die Macan Turbo word toegerus met ‘n sewegang dubbel-koppelaar (PDK)-ratkas en vierwiel aandrywing is standaard toerusting. Die Macan Turbo word ook toegerus met die vinding-ryke Porsche Surface Coated Brake (PSCB)-remstelsel met ‘n wolfram-karbeid bedekking op die remskywe wat reaksie-tyd verbeter, en maak dat daar 90% minder remstof voorkom in vergelyking met gietyster-remskywe.  Die hoëglans-remskywe en wit geverfde remknypers is karaktereienskappe van die PSCB-strelsel, wat ook opsioneel vir ander Macan-modelle beskikbaar is. 

Aan die buitekant word die Macan Turbo onderskei deur middel van ‘n Turbo-spesifieke voorstamper met drie groot luguitlate en voorste misligte, ligdiode-kopligte wat Porsche se dinamiese beligtingstelsel insluit. Aan die kant spog die Turbo met allooiwiele van twintig duim, Sport Design-syskorte en buitespieëls in dieselfde kleur as die bakwerk. Die spesiaal ontwikkelde vaste drukvlerk met sy dubbelvlerk-ontwerp en sportiewe uitlaat-stelsel met twee silwer uitlaatpype, onderskei die Turbo verder van sy stalmaats.

Die Turbo se status as vlagskip van die reeks word ook binne beklemtoon, met leer-oorgetrekte sport-sitplekke met altesaam agttien verstellings en ‘n geheuepakket as standaard toerusting, dak-afwerking in Alcantara en binnepanele in geborselde aluminium. Die verhitte GT-stuurwiel, wat uit die 911 kom, is opsioneel beskikbaar.  Die inligting-en-vermaak-stelsel, bekend as PCM (Porsche Communication Management) beskik oor ‘n 10,9 duim raakskerm en word gekoppel aan ‘n Bosé-klankstelsel met veertien luidsprekers. 

Die Macan Turbo kan by enige van die Porsche Centre-takke bestel word en sy prys is op aanvraag beskikbaar.

%d bloggers like this: