Breaking News

Proton gou terug in Suid-Afrika

Die Maleisiese vervaardiger Proton is gereed om na ‘n afwesigheid van tien jaar na Suid-Afrika terug te keer.

Die maatskappy het ‘n ooreenkoms met die CMH-groep onderteken om sy motors in Suid-Afrika te versprei. Die eerste twee modelle wat hier bekendgestel sal word, is die X 50 en X 70, gevolg deur die jongste weergawe van die Saga-sedan.

Die X 50 is die intreemodel van die maatskappy se reeks oorkruisvoertuie, en word aangedryf deur ‘n turboaangejaagde drieslinderenjin van 1,2 liter wat tussen 110 en 130 kW en wringkrag van tussen 226 en 255 Nm lewer. Albei hierdie enjins word gekoppel aan ‘n sewegang DCT (dubbelkoppelaar)-ratkas met ‘n handratfunksie.

Die X 70 is die groter oorkruisvoertuig in die maatskappy se reeks en word aangedryf deur ‘n turboaangejaagde viersilinderenjin van 1,8 liter wat 135 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 300 Nm teen tussen 1 750 en 4 000 opm lewer. Soos in die geval van die X 50 is ‘n sewegang DCT-ratkas standaardtoerusting.

Die Saga is die jongste weergawe van ‘n model wat laas in 2012 in Suid-Afrika beskikbaar is, en soos voorheen, sal dit ‘n sedan in die intreevlak van die mark wees. Die Saga word aangedryf deur ‘n 1,3 liter enjin wat 70 kW teen 5 750 opm en wringkrag van 120 Nm teen 4 000 opm. In oorsese markte is daar ‘n keuse tussen ‘n vyfgang-handratkas en ‘n outomatiese ratkas met vier gange. 

Proton is optimisties oor sy vooruitsigte vir die Suid-Afrikaanse mark, en verwag dat sy verkope in 2023 dubbeld soveel sal wees as vir vanjaar. Die totale verkope in uitvoermarkte het in die eerste kwartaal van vanjaar met 175% toegeneem in vergelyking met dieselfde tydperk in 2021. Hierdie toename in verkope is nie net te danke aan die toetrede tot nuwe markte nie, maar ook aan monteeraanlegte in onder meer Pakistan, Kenia en Bangladesj, terwyl ‘n aanleg in Sri Lanka in die tweede helte van 2022 in gebruik sal wees. Die maatskappy voer ook motors na dertien uitvoermarkte uit. 

Hoewel pryse nog nie bekendgemaak is nie, verwag die maatskappy dat sy voertuie teen pryse wat goed met dié van hul mededingers vergelyk, verkoop sal word. 

Die motors sal na verwagting in September bekendgestel word, en die samestelling van die reeks, asook spesifikasies en pryse sal dan bekendgemaak word.

%d bloggers like this: