Breaking News

Pryse vir nuwe Peugeot 2008-reeks bekend

Peugeot Citroën Suid-Afrika het pas die pryse van die nuwe Peugeot 2008-reeks, wat in Februarie vanjaar in Suid-Afrika beskikbaar sal wees, aangekondig.

Die nuwe 2008 is die tweede geslag van Peugeot se kompakte oorkruisvoertuig, wat vir die eerste keer in 2013 bekendgestel is en in 2016 omvattend hersien is met ‘n nuwe reeks enjins, en ander tegnologie. Daar is net meer as ’n miljoen eenhede van die opgeknapte weergawe van die oorspronklike 2008 verkoop. Die reeks sal uit die Active, met ‘n hand-of outomatiese ratkas met ses gange elk, asook die Allure en GT-Line, met die outomatiese ratkas as standaard toerusting, beskikbaar wees. Al die modelle word aangedryf deur ‘n turbo-aangejaagde 1,2 liter-enjin met drie silinders wat 74 kW in die Active-handrat en 96 kW in al die ander modelle lewer. Die Actvie-modelle word onder meer met 16 duim-allooiwiele, outomatiese kopligte, handbeheerde lugversorging, ‘n banddruk-monitor, parkeersensors, ‘n seweduim-raakskerm, ses lugsakke en stabiliteits-beheer toegerus. Die Allure voeg 17 duim-allooiwiele, swart dakspore, ligdiode-kopligte en voorste misligte, ‘n trukamera en ‘n elektroniese parkeerrem by terwyl die GT-Line ook met ‘n donker-chroom sierrooster, verhitte voorsitplekke, ‘n tienduim-raakskerm, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, ‘n koordlose selfoonlaaier en ‘n blindekolmonitor toegerus word.

Die pryse van die verskillende modelle lyk soos volg:
Active-handrat 74 kW: R 359 900
Active-outomaties 96 kW: R 399 900

Allure-outomaties 96 kW: R 429 900
GT-Line-outomaties 96 kW: R 479 900

Die pryse sluit ‘n diensplan van drie jaar of 60 000 km in en ‘n sondak sal teen ‘n bykomende R 21 750 beskikbaar wees.

Volledige besonderhede van die nuwe 2008 sal verskaf word sodra die reeks bekendgestel word.

%d bloggers like this: