Breaking News

Range Rover Velar-reeks opgeknap en uitgebrei

Jaguar Land Rover het pas sy opgeknapte Range Rover Velar-reeks in Suid-Afrika bekendgestel.

Die nuwe reeks sit die tradisie van vyftig jaar se innovering voort deurdat ‘n nuwe enjin keuse wat elektriese tegnologie bekendstel, nou beskikbaar is, tesame met nuwe petrol-en diesel enjins.

Die Velar-naam het ‘n lang geskiedenis, en is as kodenaam vir die eerste Range Rover-prototipe in 1970 gebruik. Toe die Velar as vierde Range Rover-modelreeks in 2017 bekendgestel is, is daar besluit om hierdie naam te laat herleef.  Die Velar was die enigste Range Rover-modelreeks wat nog nie met ‘n inprop-hibriede-enjin beskikbaar was nie, maar dit het met die nuwe reeks se bekendstelling verander.

Benewens die hibriede-enjin is daar ook nuwe Ingenium  petrol-en diesel enjins met vier of ses silinders beskikbaar. Die viersilinder-turbodiesel enjin word vir die D 200, wat die vorige D 180 en D 240-modelle vervang, gebruik. Hierdie enjin lewer 147 kW en 430 Nm. Daar is ook ‘n nuwe viersilinder-petrol enjin wat vir die P 250 gebruik word en 184 kW en 365 Nm lewer. Die nuwe sessilinder-turbodiesel enjin wat vir die D 300 gebruik word, lewer 221 kW en 650 Nm en die P 340 se enjin, wat onder meer met ligte hibriede-tegnologie spog, lewer 250 Nm en 480 Nm.  Die groot nuus is egter die toevoeging van die inprop-hibriede-enjin vir die P 400e,  met viersilinders en ‘n kapasiteit van twee liter. Hierdie enjin lewer altesaam 297 kW en 640 Nm, en word toegerus met ‘n 17.1 kWh -litiumioon-battery wat onder die bagasiebak se vloer sit. Hierdie battery kan binne ‘n halfuur tot 80% van sy kapasiteit gelaai word deur middel van ‘n vinnige gelykstroom-laaipunt of binne ‘n uur en 40 minute wanneer ‘n 7 kW-muurlaaier gebruik word.  Die battery kan op drie manière gelaai word; benewens hierdie twee manière kan ‘n gewone Mode 2 laaikabel gebruik word; dit laai die battery binne vyf en ‘n half uur tot 80% van sy kapasiteit. Dit beteken dat die battery oornag met ‘n gewone driepunt-prop gelaai kan word. Volgens die vervaardiger is die werkverrigting van die P 400e vergelykbaar met dié van ‘n motor met ‘n drieliter enjin, maar met beter brandstof-verbruik. Die P 400e se inligting-en-vermaakstelsel, asook ‘n slimfoon-toepassing wat eienaars kan aflaai, wys die ligging van nabygeleë laaistasies en die battery se kapasiteit en stel die bestuurder in staat om die beste moontlike reikafastand te behaal deur die navigasiestelsel te gebruik.

Drie bestuursmodusse kan gekies word om by die bestuurder se behoeftes te pas; ongeag of dit in die stad of op die oop pad is. Die volle elektriese modus maak dit moontlik om slegs elektriese krag te gebruik en uitlaatgasse heeltemal uit te skakel, en die energie wat in die battery geberg word, word daarvoor gebruik. Die hibriede-modus kombineer petrol- en elektriese krag en pas by die bestuurstoestande en die kapasitieit van die battery aan. Wanneer ‘n bestemming by die nagivasiestelsel ingetik word, word die maksimum doeltreffendheid en gerief vir die beplande rit deur middel van die Predictive Energy Optimisation-funksie bepaal.  Die Save-modus gebruik hoofsaaklik petrolkrag en hou die kapasiteit van die battery op die gekose vlak tot wanneer batterykrag nodig is, soos wanneer stredelike gebiede binnegegaan word. 

Aan die binnekant bied die nuwe Velar die jongste weergawe van die Pivi- of Pivi Pro-inligting-en-vermaakstelsel; dit verbeter die digitale ervaring aan die binnekant van die kajuit.  Die nuwe grafika en die vinnige reaksietyd maak die stelsel makliker om te gebruik en beteken dat die navigasiestelsel dadelik gereed vir gebruik is.  Dit is ook soveel makliker om musiek te stroom aangesien Spotify vir die eerste keer by die inligting-en-vermaakstelsel se kieslys geïntegreer is. Daar is ook vir die eerste keer Bluetooth-verbinding vir twee gebruikers se slimfone. Nog ‘n vindingryke nuwe kenmerk is Active Road Noise Cancellation, wat ‘n stiller rit vir alle insittendes verseker. Dit bespeur deurentyd vibrasies van die pad-oppervlakte en kan verstel word om die klanke wat hoorbaar is in die kajuit te verstel deur bloot die sensors vir die sitplekgordels te gebruik.  Die nuwe stuurwiel bevat knoppies wat die bestuurder on staat stel om programmatuur oor die internet op datum te bring, en ‘n nuwe ratkieser vervang die ronde ratkieser van voorheen.  Die SE en HSE-spesifikasie-vlakke spog met ‘n 12,3 duim digitale instrumentepaneel wat volgens die bestuurder se behoeftes aangepas kan wordm terwyl inligting soos die voertuig se snelheid, navigasie-aanwysings en veiligheids-waarskuwings teen die voorruit vertoon word.

 

Die jongste weergawe van Land Rover se Activity Key, wat die gewone sleutel heeltemal kan vervang, is ook beskikbaar. Dit word soos ‘n polshorlosie gedra en is skok- en waterbestand, en stel die bestuurder in staat om die motor oop of toe te sluit en aan te sit sonder om die gewone sleutel te gebruik. Daar is ook 3D-kameras reg rondom die voertuig wat ‘n werklike perspektief van die voertuig op die tienduim-raakskerm vertoon. Dit help die bestuurder om by nou plekke in uit te kom, asook met parkering. Die kamera kan ook die beeld van bo af vertoon, wat nuttig is vir wanneer daar op verskillende terreine bestuur word. Die kamera wys oom vir die bestuurder wat onder die enjinkap gebeur en maak die enjinkap vir alle praktiese doeleindes onsigbaar. Daar is ook kameras in die sierrooster en die buitespieëls wat die bestuurder teen moontlike gevare te waarsku, asook ‘n virtuele 180 grade-kamera vir wanneer daar teen snelhede van 30 km/h of minder bestuur word. 

Die nuwe Landmark Edition stel voornemende kopers in staat om hul voertuie nog verder te verpersoonlik. Hierdie model word op die R Dynamic SE-spesifikasievlak gebaseer, en spog met ‘n swart dak en bypassende swart 20 duim allooiwiele. Die Landmark Edition is net beskikbaar in brons, silwer, swart en grys. Nuwe skakerings van blou en silwer is vir die hele reeks beskikbaar.

Die pryse van die nuwe Range Rover Velar-reeks lyk só:
Velar D200 S R1,290,100

Velar D300 S R1,458,600

Velar P250 S R1,290,100

Velar P340 S R1,438,700

Velar P400e S R1,651,200

Velar D200 R-Dynamic SE R1,382,900

Velar D300 R-Dynamic SE R1,551,300

Velar P250 R-Dynamic SE R1,382,900

Velar P340 R-Dynamic SE R1,531,500

Velar P400e R-Dynamic SE R1,739,100

Velar D200 R-Dynamic HSE R1,492,000

Velar D300 R-Dynamic HSE R1,631,000

Velar P250 R-Dynamic HSE R1,492,000

Velar P340 R-Dynamic HSE R1,611,200

Velar P400e R-Dynamic HSE R1,834,000

Velar D200 Landmark Edition R1,428,200

Velar D300 Landmark Edition R1,596,600

Velar P250 Landmark Edition R1,428,200

Velar P340 Landmark Edition R1,576,800

Die reeks word gerugsteun deur ‘n Land Rover Care-waarborg en onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km.

%d bloggers like this: