Range Rover Velar SV Autobiography Dynamic Edition

0 Comments

Deur die jare was daar nog net ‘n handjievol motors wat met met vier-, ses-, en agt-silinder enjins beskikbaar was, naamlik die Ford Capri, die MGB/C die Holden LH- en LX Torana, die Holden VC- en VH Commodore en, op die oomblik, die Jaguar F-Pace.

Nou is daar nog ‘n sportnuts-voertuig wat deel van hierdie geselskap uitmaak. Die Range Rover Velar is in 2017 internasionaal met vier- en sessilinder petrol- en diesel-enjins bekendgestel, maar nou het ‘n nuwe model met ‘n V8-enjin hom vir ‘n beperkte tydperk by die reeks aangesluit.

Die SV Autobiography Dynamic Edition is ‘n produk van Jaguar Land Rover se Special Vehicles-afdeling en spog met ‘n druk-aangejaagde V8-enjin wat ook in die Jaguar F-Pace SVR voorkom. Hierdie vyf-liter enjin ontwikkel 405 kW teen 6 500 omwentelinge en het ‘n wringkrag van 680 Nm teen 3 000 opm en word aan ‘n outomatiese ratkas met agt gange gekoppel. Volgens Jaguar Land Rover is ‘n topsnelheid van 274 km/h moontlik, terwyl hy binne 4,5 sekondes van 0 tot 100 km/u kan versnel.

Te midde van hierdie brute krag en uitsonderlike werkverrigting beskik die SV Autobiography Dynamic Edition oor presies dieselfde weelde-kenmerke as die res van die Velar-reeks.  Die sitplekke word in dubbel-gestikte, geperforeerde Windsor-leer afgewerk en bied twintig verstellings wat ‘n masseer funksie, verhitting en verkoeling en ‘n geheue insluit. Die dubbele Touch Pro-raakskerms is steeds daar, maar die sportstuurwiel en die afwerking vir die ratkieser is uniek. 

Die allooi-wiele van 21 duim weeg dieselfde as dié van die gewone model se 20-duim wiele, maar voornemende kopers kan ook 22 duim-wiele met ‘n silwer of donkergrys afwerking kies. Verdere kenmerke wat die SV Autobiography Dynamic Edition van sy stalmaats onderskei, is ‘n nuwe voorstamper met groter luguitlate om die enjin en remstelsel beter te verkoel, terwyl die agterstamper vier geïntegreerde uitlaatpype bevat. 

Die ingenieurs by Land Rover Special Vehicles het 63 900 ure bestee om die nuwe model in te stel vir die beste moontlike hantering, ritgehalte en werkverrigting. Die aandrywing-stelsel, sluitbare ewenaar, ratkas, stuurstelsel en lugvering is spesifiek vir die SV Autobiography Dynamic Edition aangepas vir ‘n meer genotvolle bestuurservaring. Die uitlaat-stelsel is ook spesifiek vir hierdie model ontwikkel, met klep-tegnologie wat ‘n besondere enjin-klank, wat by verskillende bestuurs-toestande aangepas kan word, voort te bring. Die stelsel, wat die nuweling die kenmerkende V8-enjin-klank gee, is 3,5 kg ligter as die gewone stelsel. 

Daar is altesaam ses kleure beskikbaar; benewens wit, swart, rooi, silwer en grys is daar ook ‘n unieke kleur, naamlik Satin Byron Blue, ‘n grysblou kleur wat vir geen ander Velar-model beskikbaar is nie. Die dak is swart, ongeag die kleur van die bakwerk.

Die prys van die SV Autobiography Dynamic Edition, wat net ‘n jaar lank te koop sal wees, is R 1 743 325; dit sluit ‘n volle onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km in.

Categories:
%d bloggers like this: