Range Rover vier vyftig jaar met spesiale model

0 Comments

Op 17 Junie 1970 het die destydse British Leyland die eerste werklik luukse sportnuts voertuig aan die wêreld bekendgestel.

Die Range Rover het nuwe standaarde vir veldryvoertuie gestel; dit het permanente vierwiel-aandrywing en skyremme op al vier wiele as standaard toerusting gehad en was met dieselfde 3,5 liter V8 as die Rover P5 3,5 Litre, die Rover P 6 3500 en die Morgan Plus 8 toegerus.  Die volgende jaar was dit die eerste voertuig wat in die Louvre-kunsmuseum in die Franse hoofstad Parys vertoon is. Suid-Afrika moes tot 1979 wag voordat die Range Rover hier bekendgestel is, en twee jaar later is ‘n model met vyf deure vir die eerste keer bekendgestel. 

In 1986 is die reeks verder uitgebrei toe ‘n model met ‘n turbo-diesel enjin bekendgestel is. Hierdie enjin het ‘n verplasings inhoud van 2,4 liter gehad. Die Range Rover was in 1989 die eerste veldry-voertuig wat met ABS-remme  en drie jaar later was dit die eerste een met elektroniese stabiliteits-beheer.  Die tweede geslag Range Rover het in 1994 verskyn, maar die oorspronklike een is steeds nog twee jaar lank as die Range Rover Classic bemark. Die uitstaande kenmerk van die nuwe model was elektroniese lugvering.  Die derde geslag het reeds in 2001 gevolg, en was toegerus met onafhanklike lugvering reg rondom. Die reeks het nog verder uitgebrei met die bekendstelling van die Range Rover Sport in 2005, wat onder meer met ‘n 4,2 liter V8-enjin met ‘n druk-aanjaer beskikbaar was. Die enjin-reeks is in 2006 uitgebrei met ‘n V8-turbo-diesel enjin. Die kleinste model in die uitgebreide reeks, die Range Rover Evoque, is vir die eerste keer in 2010 bekendgestel, terwyl die vierde geslag van die “groot” Range Rover in 2012 gevolg het. Dit was die eerste sportnuts-voertuig wat ‘n aluminium-bakwerk gehad het. Die eerste inprop-hibriedemodel is in 2017 by die reeks gevoeg, en die vierde afsonderlike modelreeks, bekend as die Range Rover Velar, het teen die einde van daardie jaar gevolg, met die tweede geslag Evoque wat in 2018 sy verskyning gemaak het.

Ter viering van die vyftigste verjaardag van die Range Rover het Jaguar Land Rover nou ‘n spesiale model, bekend as die Fifty, bekendgestel. Net 1 970 weergawes van hierdie model, wat met die standaard- en lang asafstande beskikbaar sal wees, sal vervaardig word; en die getal kom natuurlik van die jaar wat die Range Rover oorspronklik bekendgestel is.  Die Fifty sal gebaseer wees op die luukse Autobiography-model, met ‘n spesiale kenteken wat deur prof. Gerry Mc Govern OBE, die kreatiewe hoof van Land Rover aan die buitekant en dwarsdeur die binnekant. Elke voertuig sal genommer wees; en die plaatjie met die nommer en die Fifty-kenteken sal op die konsole, kopstutte en skermplate binne die deure aangebring word. Die Fifty sal in vier kleure beskikbaar wees, naamlik Carpathian-grys, Rosello-rooi, Aruba en Santorini-swart, asook drie van die kleure van die oorspronklike model, naamlik Tuscan-blou, Bahama-goud en Davos-wit. Verskillende enjins , naamlik petrol, turbodiesel en die inprop-hibriede kragbron van die P400e, sal beskikbaar wees.

Die Range Rover Fifty kan nou reeds by Suid-Afrikaanse handelaars bestel word.

Categories:
%d bloggers like this: