Rekordjaar vir Suzuki

0 Comments

Te midde van die COVID 19-pandemie het Suzuki Auto SA in 2020 ‘n rekordjaar beleef.

Naamsa, die Nasionale Vereniging vir Motor-vervaardigers van Suid-Afrika, het bevestig dat 16 527 Suzuki’s in 2020 verkoop is, 1 046 eenhede meer as in 2019. Hoewel voertuig-verkope met 29,1% gekrimp het, het Suzuki se markaandeel met 4,3% van die totale mark gegroei. Die resultate bevestig ook dat Suzuki vier keer in 2020 sy eie verkoops-rekord verbeter het, in Oktober het die maatskappy vir die eerste keer meer as 2 000 eenhede verkoop. Suzuki het hom as die sesde grootste handelsnaam in die Suid-Afrikaanse motorbdryf gevestig en bewys dat dit een van die handelsname is wat die vinnigste groei. 

Om in die groeiende vraag na Suzuki se motors te voorsien, is die handelaars-netwerk met tien handelaars uitgebrei, onder meer in landelike omgewings soos Mokopane en  Secunda , asook Otjiwarongo en Ongwediva in Namibië. Daarby het Suzuki Auto SA na ‘n nuwe hoofkantoor verhuis ; die nuwe pakhuis het ‘n groter ontvangs- en versendings area wat Suzuki in staat stel om meer onderdele vinniger aan handelaars te voorsien en om ‘n nuwe 24-uur diens aan handelaars te bied.

Daarby is ‘n aantal nuwe en opgeknapte modelle ook in 2020 bekendgestel; die Ignis, die Baleno en die Dzire het veranderinge ondergaan terwyl die S-Presso as die goedkoopste intreevlak-sportnutsvoertuig bekendgestel is. Volgens André Venter, die afdelings-bestuurder vir bemarking en verkope by Suzuki Auto SA, is die S-Presso se sukses ‘n bewys dat dit die regte produk op die regte tyd was. Mense se geld is deesdae skraps en die maatskappy wou bewys dat ‘n mens nog steeds ‘n sportnuts met die nodige weelde- en veiligheids-kenmerke kan bekostig. 

Die eerste Suzuki wat in 2021 in Suid-Afrika verwag word, is die Vitara Brezza, die topverkoper-voertuig in Indië, wat in Februarie bekendgestel word.