Breaking News

Renault brei sy Duster-reeks uit

Renault het pas sy gewilde Duster-reeks uitgebrei met die toevoeging van twee TechRoad-modelle.

Die TechRoad is net met Renault se bekende 1,5 dCi-turbo-diesel enjin en ‘n keuse van ‘n handratkas of ‘n EDC (elektroniese dubbel-koppelaar)-ratkas beskikbaar. Die handrat- en EDC-modelle word toegerus met twee verskillende weergawes van hierdie enjin. Die handratmodel se enjin lewer 66 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 210 Nm teen 1 750 opm. In die EDC-model se geval is dit onderskeidelik 80 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 250 Nm teen 1 750 opm. 

Die TechRoad beskik oor ‘n aantal stilerings-kenmerke wat hom van die res van die reeks onderskei. Daar is nuwe 17-duim diamantsnit-allooiwiele met blou doppies, silwer dakspore, silwer skermplate voor en agter en swart buitespieëls. Daar is ook ‘n nuwe kleur, bekend as Iron Blue, beskikbaar. 

Aan die binnekant is daar ‘n opgeknapte inligting-en-vermaakstelsel wat met Android Autro en Apple Car Play werk en die skerm van ‘n gekoppelde slimfoon op die raakskerm vertoon. Die stelsel bevat ook ingeboude satelliet-navigasie , asook stembeheer  en ‘n trukamera is standaard toerusting. Daar is blou afwerking op die sitplekke en elders in die kajuit. Outomatiese klimaatbeheer is standaard toerusting.

Soos met die res van die reeks is die meeste belangrike veiligheidskenmerke standaard toerusting. Die ABS-remstelsel bevat noodremhulp en elektroniese remkrag-verspreiding, terwyl wegtrekhulp , stabliliteits-beheer en agterste parkeersensors verdere gemoedsrus bied. Daar is lugsakke vir die voorste insittendes en aan die kante, en aanpasbare spoedbeheer met ‘n snelheidsbeperker. 

Die pryse van die Duster-reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 45 000 km insluit, lyk só:

 

Duster 1,6 Expression 4×2:  R 278 900

Duster 1,5 dCi TechRoad 4×2: R 316 900

Duster 1,5 dCi TechRoad 4×2 EDC: R 350 900

Duster 1,5 dCi Dynamique 4×4: R 350 900

Duster 1,5 dCi Prestige 4×2 EDC: R 363 900

Metaalverf is teen ‘n bykomende R 2 522 beskikbaar en leerbekleedsel teen R 10 088

%d bloggers like this: