Renault Captur wen besparingsrit

0 Comments

Die eerste Wesbank-besparingsrit het die afgelope naweek ten einde geloop, en het in ‘n tweestryd tussen Renault en Suzuki ontaard.

Die stryd tussen hierdie twee vervaardigers het die heeltyd voortgeduur en albei vervaardigers het op ‘n stadium voorgeloop. Met die kritieke laaste hervulling in Kaapstad het Renault se drie voertuie, die Captur, die Duster Techroad en die Kwid Climber, met  ‘n skrale verskil van 0,0275 l/100 km die Suzuki’s net-net geklop. Suzuki het op die tweede, derde en vierde dag voorgeloop. Die titel van die mees brandstof-ekonomiese vervaardiger is bepaal deur die gemidddelde verbruik van elke vervaardiger se beste drie voertuie in aanmerking te neem. Suzuki het die tweede plek behaal gevolg deur Mahindra, met twee XUV 300’s en ‘n KUV 100 , Nissan met ‘n Qashqai, Micra en Navara en Ford met ‘n Ranger, ‘n Kuga en ‘n Fiesta. 

As ons spesifiek na voertuie kyk is die algehele wenner die Renault Captur 1,5 dCi, wat deur Wynter Murdoch en Carolyn Swann bestuur is. Hulle het ‘n algehele verbruik van 4,7319 liter per 100 km met hul Renault Captur aangeteken. In die tweede plek was die Toyota Aygo van Carri-Ann Jane en Roxanne Jones met 4,8328 l/100 km met die Nissan Qashqai 1,5 dCi bestuur deur Diete en Eckard Engelbrecht met ‘n verbruik van 4, 8526 l/100 km in die derde plek.

Daar was ‘n verbete stryd in die klas vir bakkies met turbo-diesel enjins kleiner as 2,5 liter. Die wenner was die Ford Ranger van Colin Mileman en Henry Kohne, wat 6,8179 liter per 100 km aangeteken het. Die volgende plekke is ingeneem deur ‘n Mitsubishi Triton (6,8513 l/100 km), ‘n Nissan Navara (6,962 l/100 km), ‘n Toyota Hilux 2,4 (6,9872 l/100 km) en ‘n Mahindra Pik Up (7,7867 l/100 km).

Ses klasse is deur Suzuki’s gewen, naamlik die Ignis, Virata 1,6, Vitara 1,4 turbo, Baleno, Swift Sport en Ertiga.  Renault, Ford, Toyota en Hyundai het elk twee klasse gewen; onderskeidelik met die Duster en Captur, Ranger en Fiesta, die Aygo en Hilux 2,8 en die Santa Fe en Venue.  Die ander klaswenners was Mahindra met sy KUV 100, Honda met sy HR-V en Lexus met die UX Hybrid.

Die mededingers is deur middel van Ctrack dopgehou en inligting is gedurig aan die organiseerders deurgegee.  Ctrack kon die deelnemers se gemiddelde snelhede vasstel, asook hoe lank dit hulle geneem het om sekere individuele tydtoetse te voltooi. Dit was ook moontlik om te kyk of hulle dalk verdwaal het of doelbewus van die roete afgewyk het; dit het die organiseerders gehelp om ingeligte besluite oor moontlike optrede teen deelnemers te neem.

Alle motors is ook met twee paneelbord-kameras toegerus; een wat vorentoe gekyk het en een wat die voertuig se kontroles dopgehou het. Die kameras wat buitentoe gekyk het, kon die bestuurders se gedrag, soos verbysteek op soliede lyne en ander gevaarlike bestuurs-gewoontes dophou terwyl die kamera aan die binnekant kon kyk of die bestuurders hulle dalk skuldig gemaak het aan onaanvaarbare optrede, soos om die neutral rat te kies of die voet van die versnellerpedaal af te haal. Die deelnemers is gestraf vir bestuursoortredings of as hulle laat by ‘n beheerpunt aangekom het. Een liter per strafpunt is bygevoeg. 

Die besparingsrit het oor vyf dae en 2 500 km plaasgevind; dit het in Johannesburg begin en in Kaapstad geëindig. Die roete het oor Durban, Oos-Londen, Port Elizabeth en George gestrek.  Altesaam veertig motors het deelgeneem. 

Volgens die hooforganiseerder, Charl Wilken, was die oogmerk om motoriste te voorsien van die tipe verbruiksyfers wat hulle kan verwag as hulle dalk ‘n reis op Suid-Afrika se hoofpaaie onderneem; hy glo dat die besparingsrit in sy doel geslaag het.

 

Categories:
%d bloggers like this: