Sedert sy aanvanklike bekendstelling in Suid-Afrika in 2013 is daar meer as 12 000 eenhede van die Renault Duster verkoop. ‘n Teken dat dat hierdie voertuig uiters gewild is.

Nou is ‘n langverwagte nuwe model by die reeks gevoeg; naamlik die 1,5 dCi Dynamique EDC met ‘n outomatiese ratkas met ses gange en ‘n dubbele koppelaar. Hierdie ratkas word ook in modelle soos die Captur en die Clio RS gebruik. Die dubbele koppelaar kombineer die gerief van ‘n outomatiese ratkas met die brandstofdoeltreffendheid van ‘n handratkas.

Soos die ander twee dieselmodelle in die reeks, die 1,5 dCi Dynamique 4×2 en 4×4,  is die model met die EDC-ratkas ook met die turboaangejaagde dieselenjin van 1,5 liter wat 80 kW teen 4 000 opm en ‘n maksimum wringkrag van 240 Nm teen 1 750 opm lewer, toegerus. Die gemiddelde brandstofverbruik van hierdie model is 4,8 liter per 100 km. Die EDC-model is net in 4×2 beskikbaar.

Die nuwe Duster Dynamique EDC is soos die ander Dynamique-modelle ook met swart 16 duim-allooiwiele, verchroomde dakreëlings met die Duster-naam daarop aangebring, deure wat outomaties sluit wanneer die motor wegtrek, satellietnavigasie en ‘n trukamera toegerus. Leerbekleedsel is opsioneel beskikbaar.  Die hele Duster-reeks het veiligheidskenmerke soos elektroniese stabiliteits- en vastrapbeheer, sluitweerremme en voorste- en kantlugsakke.

Die Duster 1,5 dCi Dynamique EDC se prys is R 299 900. Metaalverf en leersitplekke is opsioneel teen R 2 500 en R 10 000 onderskeideliki beskikbaar. Die hele Duster-reeks word deur ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km gerugsteun , ‘n diensplan van  drie jaar of 45 000km en ‘n waarborg teen korosie wat  ses jaar lank geldig is.

Pryse

  • Duster 6 Expression 4×2                77 kW petrol              R  239 900
  • Duster 6 Dynamique 4×2                77 kW petrol              R  259 900
  • Duster 5 dCi Dynamique 4×2    80 kW diesel              R  279 900
  • Duster 1.5 dCi Dynamique 4×2 EDC   80 kW diesel              R  299 900
  • Duster 5 dCi Dynamique 4×4    80 kW diesel              R  304 900