Nadat die jongste weergawe van die Renault Duster in Oktober verlede jaar in Suid-Afrika bekend gestel en as Motor-van-die-Jaar-finalis aangewys is, is die reeks pas voltooi met die toevoeging van ‘n 4×4-model.

Die Duster 4×4 is net met die Dynamique-spesifikasievlak beskikbaar en die 1,5 liter-turbodiesel enjin waarmee die meeste modelle toegerus word en wat 80 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 260 Nm teen 1 750 opm lewer en aan ‘n sesgang-handratkas gekoppel word, is standaard toerusting. Die bekendstelling van die 4×4 sal die Duster se gewildheid nog verder laat toeneem; sedert die eerste Duster in 2013 in Suid-Afrika bekend gestel is, is meer as 16 000 eenhede verkoop. Die nuwe model spog nie net met verskeie nuwe veiligheids kenmerke en bestuurshulp-middels nie, maar die binneruim is byna heeltemal herontwerp.

Die buiteontwerp van die Duster 4×4 is presies dieselfde as dié van die res van die reeks; dit is meer horisontaal as voorheen en die nuwe 16-duim allooiwiele en skermplate aan die voor- en agterkant beklemtoon sy veldry vermoë. Daar is ‘n nuwe sierrooster met LED-kopligte en C-vormige dagryligte. Die agterlig samestrellings is ook splinternuut.

Aan die binnekant is daar ‘n splinternuwe paneelbord met ‘n raakskerm wat hoër as voorheen gemonteer is. Die 4×4 spog met Bluetooth-, Android Auto- en Apple Car Play-verbinding, satelliet-navigasie, agterste parkeer sensors, outomatiese klimaat-beheer en aanpasbare spoed beheer. Daarby is daar drie modusse om van te kies; 4×2, 4×4 Auto, vir wanneer pad toestande verander, en 4×4 Lock vir ernstige veldry toestande. Die inligting oor die modus waarin die voertuig is, kom op die skerm in die paneelbord voor, asook die hoeke waarteen die voertuig beweeg. Die Dynamique is dalk nie die top-spesifikasievlak van die Duster-reeks nie, maar dit beteken nie dat veiligheid agterweë bly nie. ABS-remme met elektroniese rem-verspreiding en noodremhulp is standaard toerusting terwyl agterste parkeer sensors die bestuurder in moeilike situasies help deur in volume toe te neem hoe nader ‘n mens aan ‘n hindernis aan die agterkant van die motor kom. Wegtrek- en afdraande-hulp is standaard toerusting, tesame met elektroniese stabiliteits beheer, ‘n blindekol-monitor en outomatiese kopligte.

Die pryse van die Duster-reeks, wat ‘n waarborg vasn vyf jaar of 150 000km en ‘n diensplan van drie jaar of 45 000km insluit, is soos volg:

Duster 1,6 Expression 4×2: R 255 900
Duster 1,5 dCi Dynamique 4×2: R 288 900
Duster 1,5 dCi Dynamique EDC: R 322 900
Duster 1,5 dCi Dynamique 4×4: R 327 900
Duster 1,5 dCi Prestige EDC 4×2: R 340 900

Leerbekleedsel en metaalverf is onderskeidelik teen R 10 088 en R 2 522 opsioneel beskikbaar.

%d bloggers like this: