Breaking News

Renault knap Duster weer op

Sedert sy aanvanklike bekendstelling in 2013 het die Renault Duster ‘n gunsteling geword onder diegene wat op soek is na ‘n veelsydige motor wat goeie waarde vir geld bied.

Die jongste weergawe van die Duster is nou in Suid-Afrika beskikbaar, en hoewel die basiese bakvorm nog dieselfde is, is daar sekere nuwe kenmerke wat die nuweling van sy voorgangers onderskei. Aan die voorkant is daar nuwe kopligte met C-vormige dagryligte en ‘n nuwe chroom-sierrooster. Nuwe diamantsnit-allooiwiele van 17 duim is standaardtoerusting, terwyl die skermplate voor en agter, asook die nuwe dakspore sy veldry-voorkoms beklemtoon. Ligdiode-tegnologie word vir die agterligte gebruik. Die nuwe reeks is in wit, rooi, grys,blou en oranje beskikbaar.

Anders as in die verlede is die bekende turbo-dieselenjin van 1,5 liter standaardtoerusting vir die hele reeks. Twee ratkaste, naamlik ‘n vyfgang- handratkas  en ‘n EDC (Electronic Double Clutch)-ratkas met ses gange , is beskikbaar. Die 4×2-handratmodel se enjin lewer 66 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 210 Nm teen 1 750 opm. Die 4×2 EDC en 4×4-modelle se enjins lewer elk 80 kW teen 4 000 opm, en die wringkrag van hierdie twee enjins is onderskeidelik 250 en 260 Nm, elk teen 1 750 opm. 

Toe die Kiger in September vanjaar bekendgestel is, het Renault sy modelbenamings verander. Die intree, middelste- en vlagskipmodelle sal voortaan onderskeidelik as “Life”, “Zen” en “Intens” bekendstaan, en laasgenoemde twee benamings word ook vir die nuwe Duster gebruik.

Die Zen-model is beskikbaar as ‘n 1,5 dCi 4×2 handrat, 4×2 EDC en 4×4-handrat. Die Zen se standaardkenmerke sluit die volgende in: 16 duim allooiwiele, outomatiese ligdiodekopligte, swart dakspore, outomatiese lugversorging, ‘n agtduim-raakskerm met ‘n USB-kragpunt, asook  Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play. Die 4×4-modelle voeg ook ‘n 4×4-monitor met ‘n hoogtemeter by.

Die meer luukser Intens se bykomende kenmerke sluit swart en satynchroom dakspore, 17-duim diamantsnit-allooiwiele, sleutellose toegang en ‘n armleuning vir die bestuurder in. Leerbekleedsel sal vanaf Januarie 2022 teen ekstra koste vir albei spesifikasievlakke behalwe vir die Zen-handrat beskikbaar wees. 

Die hele reeks word toegerus met veiligheidskenmerke soos ABS-remme, stabiliteitsbeheer met wegtrekhulp, parkeersensors, ‘n trukamera, en voorste- en kantlugsakke. Die Zen 4×4 voeg ook ‘n 360-grade kamera, ‘n blindekolmonitor en afdraandehulp by. Die 360 grade-kamera en die blindekolmonitor is ook standaardtoerusting vir die Intens. 

Só lyk die pryse van die nuwe Duster-reeks:

  • 1,5 dCi Zen 4×2 handrat: R 337 900
  • 1,5 dCi Zen 4×2 EDC: R 376 900
  • 1,5 dCi Zen 4×4: R 376 900
  • 1,5 dCi Intens 4×2 EDC: R 384 900

Metaalverf en leerbekleedsel is teen onderskeidelik R 2 522 en R 10 000 beskikbaar. Die reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 45 000 km. 

Die Zen-modelle is reeds beskikbaar terwyl die Intens eers in Januarie 2022 by handelaars sal wees.

%d bloggers like this: