Dit is vanjaar tien jaar sedert die Renault Sandero in Suid-Afrika bekendgestel is, en ter viering daarvan is ‘n opgeknapte Sandero-reeks pas in Suid-Afrika bekendgestel.

Die reeks sal steeds bestaan uit die Sandero Expression, die Sandero Stepway Expression en die Sandero Stepway Plus.  Die grootste veranderinge aan buitekant is die nuwe kopligte wat C-vormige daryligte insluit om by Renault se nuwe ontwerprigting in te pas, asook nuut ontwerpte stampers voor en agter.  Die Stepway-modelle se grond-vryhoogte is nie net beter as dié van die intreevlak-model nie, maar hulle spog ook met dakrelings, uitgeboude modder-skerms, skermplate aan die voor- en agterkant en voorste misligte. Die Expression word toegerus met staalwiele van 15 duim terwyl donkergrys Flex-wiele standaardtoerusting vir die Stepway-modelle is.

Daar is genoeg ruimte aan die binnekant vir vyf insittendes en die bagasiebak, wat 292 liter hou wanneer die sitplekke regop is, is die grootste in sy marksegment.  Die hele reeks het gesplete agtersitplekke wat kan platvou as standaardtoerusting.

Aangesien veiligheid van kritieke belang is, is die Sandero die enigste motor in sy marksegment met ABS-remme met elektroniese rem-verspreiding en stabiliteits-beheer as standaard toerusting.  Die noodrem-hulp tree in wanneer noodrem-situasies bespeur word en remafstand teen 120 km/h word met nege meter verkort. Slegs 60% van motor bestuurders rem hard genoeg dat die ABS-stelsel in ‘n nood-situasie werk.  Altesaam 40% van alle padsterftes vind plaas as gevolg van die verlies van beheer oor ‘n voertuig en om dit teen te werk, word die hele reeks met elektroniese stabiliteits-beheer toegerus. Dit bespeur en verminder verlies aan beheer, veral op gladde pad-oppervlaktes en verminder enjinkrag en remme op onafhanklike wiele in die geval van beheerverlies.

Die nuwe Stepway Plus word toegerus met ‘n aantal kenmerke wat nie gewoonlik in ‘n motor van hierdie klas aangetref word nie. Die satelliet-navigasie stelsel bevat ‘n land-kaart modus wat die bestuurder lei na die adres of plek van belang waarheen hy of sy wil gaan en hou ook record van gereelde bestemmings.  Die Stepway Plus word ook toegerus met ‘n ritrekenaar wat inligting soos oombliklike en gemiddelde brandstof-verbruik en die afstand wat nog met die brandstof in die tenk afgelê kan word, gee. Een belangrike nuwe kenmerk wat net vir die Stepway Plus beskikbaar is, is versoen-baarheid met Apple Car Play en Android Auto, bo en behalwe die Bluetooth-verbinding wat vir die hele reeks beskikbaar is. Die klankstelsel word deur middel van satelliet-kontroles agter die stuurwiel beheer.  Die radio het ‘n CD- en MP 3-speler, asook USB-, AUX en 12 volt-kragpunte. Onder die ander nuwe kenmerke waarmee die Stepway Plus voortaan toegerus word, is elektriese vensters voor en agter, ‘n trukamera, kantlugsakke, ‘n stuurwiel en rathefboomknop wat met leer oorgetrek word, spoed-beheer en parkeer-hulp.

Die hele Sandero-reeks word steeds toegerus met die 900 cc-turbo-petrol enjin met drie silinders, wat 66 kW teen 5 250 opm en wringkrag van 135 Nm teen 2 500 opm lewer; 90% van sy wringkrag is reeds teen 1 650 opm beskikbaar.  Dit neem 11,1 sekondes om van 0 tot 100 km/h te versnel en ‘n topsnelheid van 169 km/h kan bereik word. Volgens die vervaardiger is die gemiddelde brandstof verbruik 5,4 liter per 100 km.

Die pryse van die Sandero-reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000km en ‘n diensplan van twee jaar of 30 000km insluit, lyk soos volg:

 

Sandero Expression: R 179 900
Sandero Stepway Expression: R 193 900

Sandero Stepway Plus: R 213 900

Metaalverf kos R 2 522 ekstra terwyl leerbekleedsel teen R 10 088 vir die Stepway Plus beskikbaar is.

%d bloggers like this: