Sedert die Renault Kwid in November 2016 in Suid-Afrika bekend gestel is, was dié klein motortjie gereeld onder die tien beste verkopers op die plaaslike mark en is meer as 20 000 eenhede reeds verkoop.

Ondanks sy gewildheid moes hy egter onder venyninge kritiek deurloop as gevolg van ‘n gebrek aan sekere veiligheids-kenmerke, onder meer ABS-remme en lugsakke, maar Renault het pas gehoor gegee aan eise om ABS-remme standaard toerusting vir die hele reeks te maak. Die reeks bestaan uit vier modelle, naamlik die Expression, die Dynamique, wat beskikbaar is met ‘n hand- en outomatiese ratkas en die Climber, wat aanvanklik ‘n beperkte model was maar intussen ‘n permanented eel van die reeks geword het. Die hele reeks word toegerus met dieselde drie-silinder enjin van een liter wat 50 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 91 Nm teen 4 250 opm lewer en ‘n vyfgang-handratkas is standaard toerusting vir al die modelle behalwe die outomatiese Dynamique.

Die Expression is steeds die intree-model van die reeks. Benewens die ABS-remme is ‘n bestuurders lugsak ook standaard toerusting. Aan die buitekant spog die Expression met C-vormige kopligte, swart stroke op die modderskerms, swart buitespieëls, metaalgrys wieldoppe en ‘n geïntegreerde drukvlerk op die dak. Daar is aan die binnekant ‘n digitale instrumente paneel, elektriese vensters voor, lug-versorging, bottel-houers in die voordeure wat bottels van tot ‘n liter kan hou, ‘n radio met Bluetooth-verbinding, asook USB-, AUX en 12 violt-kragpunte.

Die middelste spesifikasie vlak is die Dynamique, wat met ‘n aantal nuwe kenmerke spog. Die belangrikste hiervan is Android Auto en Apple Car Play, asook ‘n multimedia-raakskerm van sewe duim. Die Dynamique het voorste misligte en silwer buitespieëls om hom van die Expression te onderskei. Onder sy ander bykomende kenmerke is ‘n ritrekenaar, twee paneel-kissies, een bo en een onder aan die passasier se kant pleks van net die onderste een op die Expression, asook swart, grys en rooi sitplekke.

Die topmodel is die Climber, wat verlede jaar so suksesvol as ‘n beperkte model was dat dit ‘n permanente model geword het. Hierdie model spog met ‘n aantal unieke stilerings-kenmerke om hom van sy stalmaats te onderskei. Die buitespieëls is in oranje afgewerk en daar is ook oranje afwerking op die voorste lugverdeler, unieke wieldoppe, dakrelings met oranje afwerking, en die Climber-kenteken op die deure en die agterruit. Aan die binnekant is daar swart bekleedsel met oranje afwerking, swart deurpanele met oranje afwerking en ‘n swart en oranje rathefboom. Die Climber is net in donkergrys en blou beskikbaar.

Die pryse van die nuwe Kwid-reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000km, asook ‘n waarborg teen korrosie van ses jaar insluit, lyk soos volg:

Kwid Expression: R 134 900
Kwid Dynamique: R 144 900
Kwid Dynamique AMT: R 154 900
Kwid Climber: R 154 900

%d bloggers like this: