Sedert sy aanvanklike bekendstelling in 2015 het die Renault Captur hom gevestig as een van die gewildste klein oorkruisvoertuie op die Suid-Afrikaanse mark, met meer as 6 500 eenhede wat sedertdien verkoop is.

Die tyd het egter nou aangebreek dat die Captur ‘n paar belangrike veranderinge ondergaan, en die belangrikste hiervan is die toevoeging van die Dynamique-model met ‘n handratkas en die 1,2 liter-enjin wat tot nou toe nog net met die EDC-raktas beskikbaar was. Daar is ook ‘n nuwe intreevlak-model, bekend as die Blaze, wat die Expression vervang. Die Blaze is R20 000 goedkoper as die vorige Expression en die Blaze bied meer waarde-toevoegings.

Die Captur is steeds met dieselfde drie enjins as voorheen beskikbaar. Die Blaze en die Dynamique se turbo-aangejaagde dieselinderenjin met ‘n verplasingsinhoud van 898 cc is ook in die Sandero en die Clio. Hierdie twee modelle het ‘n vyfgang-handratkas as standaardtoerusting. Hierdie enjin lewer 66 kw teen 5 250 opm, en 135 Nm teen  2 500 opm. Die gemiddelde brandstofverbruik van die modelle met hierdie enjin is 5,4 liter per 100 km.

Die Dynamique is ook beskikbaar met ‘n groter petrolenjin wat die keuse tussen ‘n sesgang- handratkas en ‘n EDC-ratkas bied. Hierdie enjin, met ‘n verplasingsinhoud van 1197 cc het vier silinders en ‘n turboaanjaer. Die gemiddelde brandstiofverbruik van die handrat- en EDC-modelle is onderskeidelik 5,5 en 5,4 liter per 100 km, en uitlaatgasse woprd weer eens teen 125 g/km uitgeskei.

Die turboaangejaagde dieselenjin wat in die vorige Captur Dynamique1,5 dCi gebruik is, is vir die nuwe model behou. Hierdie enjin het ‘n handratkas met vyf  gange as standaardtoerusting. Hierdie enjin lewer 66kw teen 4 000 opm en wringkrag van 220 Nm teen 1 750 opm. Die gemiddelde brandstofverbruik van dié model is 3,6 liter per 100 km en uitlaatgasse word teen 95 g/km uitgeskei.

Die binnekant van die Captur is nuut afgewerk; daar is ‘n nuut ontwerpte rathefboom, afwerkingstroke in satynagtige chroom, niuwe veeldoelige bêreplekke vir los goedjies en ‘n splinternuwe paneelbord. Die Blaze word toegerus met ‘n aanpasbare bagasiebakvloer, ‘n aanboordrekenaar, elektriese vensters voor en agter, elektries verstelbare buitespieëls, handbeheerde lugversorging en ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ‘n radio, twee USB-sokke, Bluetooth-verbinding en ‘n veelfunksiestuurwiel. Die Dynamique-modelle is heelwat beter toegerus, en voeg onder meer die volgende kenmerke aan die binnekant by: satellietnavigasie, sitplekoortreksels wat verwyder en gewas kan word, klimaatbeheer, ‘n armleuning tussen die voorste sitplekke met bêreplek vir los items en getinte agtervensters. Die Dynamique is opsioneel beskikbaar met sitplekke wat gedeeltelik met leer oorgetrek is, ‘n vaste glasdak, ‘n elektrochromatiese trusipeël en aluminiumpedale.

Soos voorheen, word die Dynamique van die res van die reeks onderskei deur middel van ‘n tweekleur-bakwerk. Daar is twee kleure wat met ‘n wit dak beskikbaar is, naamlik swart en blou, maar motors in ander kleure het ‘n swart dak. Die blou afwerking is egter met ‘n keuse tussen hierdie twee dakkleure beskikbaar. Die hele reeks kleure, behalwe rooi, is ook op die Blaze beskikbaar, maar met ‘n dak wat dieselfde kleur as die bakwerk is.  Die Blaze word toegerus met allooiwiele van 16 duim, maar splinternuwe swart en chroom 17 duim-allooiwele met ‘n diamantsnit is standaardtoerusting vir die Dynamique.

Soos met enige Renault is veiligheid ‘n prioriteit met die nuwe Captur. Die oorspronklike model het volpunte in die Euro NCAP-toetsprogram gekry. Die hele reeks word toegerus met ABS-remme met elektroniese remverspreiding, asook elektroniese stabiliteitsbeheer. Daarby is wegtrekhulp teen steil hellings ook standaardtoerusting, tesame met voorste- en kantlugsakke en  ISOFIX-hegpunte op die agtersitplekke.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000km en ‘n diensplan van drie jaar of 45 000km insluit, is soos volg:

Renault Captur 66kw Blaze: R 229 900
Renault Captur 66kw Dynamique: R 269 900
Renault Captur 1,5 dCi Dynamique: R 294 900
Renault Captur 88kw Dynamique: R 294 900
Renalut Captur 88kw Dynamique EDC: R 309 900