Omtrent ses maande nadat Renault die Koleos aan die mark onttrek het, is dié vlagskip-sportnuts opnuut bekendgestel, maar in ‘n nuwe gewaad. Die nuwe Koleos is die laaste hoofstuk in Renault se ontwerp-renaissance wat in 2012 begin het toe die Clio IV bekendgestel is. Die doel van die Koleos se ontwerp was om ‘n sportnuts te skep wat stylvol maar ook dinamies en modern is. Laurens van den Acker, Renault se visepresident van korporatiewe ontwerp, beskou die Koleos nie net as ‘n sportnuts in elke opsig nie maar ook deur en deur ‘n Renault.

Die LED-kop-en-agterligte wat op die nuwe Koleos voorkom, skakel in by Renault se moderne ontwerprigting en die C-vormige dagryligte vang dadelik die oog. Daarby is die Koleos, afhangende van die model, ook beskikbaar met Pure Vision-hoë- en laestraal-LED-ligte vir uitsonderlike nagvisie. Die straal van hierdie tipe ligte is 20% helderder as halogeenligte. Die agterligte bevat Edge Light- tegnologie wat ‘n helder 3D-effek wat van naby en van ver af sigbaar is, bied. Die breë agterligte vestig die aandag op die Renault-kenteken op die agterklap.

Die Koleos beskik oor die beste moontlike veiligheids kenmerke, soos wat sy 5 ster-toekenning in die Euro NCAP-toetse bewys. Daar is ses lugsakke, ‘n sensor wat die kant-lugsakke laat ontplooi ongeag die posisie van die voorsitplekke, ABS-remme met noodremhulp, elektroniese remverspreiding en elektroniese stabiliteits beheer, parkeerhulp, ‘n blindekolsensor en ‘n elektrochromatiese truspieël. Die Koleos is met voor- en vierwiel-aandrywing beskikbaar. Die 4×4-model word toegerus met die ALL-MODE 4×4-stelsel wat himself al in miljoene produkte van Renault en sy suster-maatskappye bewys het. Anders as sommige mededingers het die Koleos ‘n skakelaar wat die bestuurder in staat stel om tussen verskillende modusse te kies, naamlik 2WD, vir voorwie-aandrywing en die beste moontlike brandstof verbruik, 4WD Auto, wat padtoestande analiseer en die verspreiding van krag tussen die voor-en agterwiele outomaties aanpas en 4WD Lock vir moeilike veldrytoestande.

 

Die bestuurder kan hierdie modus teen ‘n snelheid van 40 km/h of minder kies en wanneer daardie snelheid oorskry word of die enjin weer aangeskakel moet word, word dit gedeaktiveer. Die hele Koleos-reeks het ‘n nuwe X-Tronic-palwisselratkas as standaard toerusting, wat ontwikkel is om groter bestuurs-genot te verseker en beter brandstof verbruik as ‘n gewone outomatiese ratkas te bied. Anders as ‘n gewone palwissel-ratkas werk die X-Tronic-ratkas soos ‘n outomatiese ratkas met veelvuldige verhoudings wanneer daar vining versnel moet word, maar ratwisseling verloop glad wanneer daar stadig versnel word, soos in spitsverkeer. Danksy sy verskillende rat verhoudings is daar ‘n oneindige aantal ratte wat maak dat enjintoere só gereguleer word dat die beste moontlike brandstof-verbruik behaal kan word en geraas tot ‘n minimum beperk word. Daar is ook die keuse van ‘n handrat-funksie wat sewe gange bied.

Daar is twee spesifikasie vlakke beskikbaar, naamlik Expression en Dynamique. Die Expression spog met onder meer die volgende standaard kenmerke: outomatiese LED-dagryligte, dakrelings, ‘n leerstuurwiel, sitplekke met swart materiaalbekleedsel, outomatiese kopligte en ruitveërs, outomatiese dubbelsone-lugversorging met luguitlate vir agterste insittendes, ‘n raakskerm van sewe duim, Android Auto en Apple Car Play, stembeheer en 17-duim-allooiwiele. Onder die Dynamique se bykomende kenmerke is ‘n blindekolmonitor, parkeersensors voor, aan die kante en agter, ‘n trukamera, ‘n band-drukmonitor, leerbekleedsel, elektries verstelbare voorsitplekke, ‘n handvrye sleutelkaart, wegvoubare buitespieëls, ‘n LED-paneelbord en 18-duim allooiwiele.

 

Die hele reeks word toegerus met ‘n viersilinder-enjin van 2,5 liter wat 126 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 233 Nm teen 4 000 opm lewer. Die gemiddelde brandstof-verbruik van die 4×2- en 4×4-modelle is onderskeidelik 8,1 en 8,3 liter per 100 km.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000km, ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000km en ‘n waarborg teen korrosie van ses jaar insluit, is soos volg:

Expression 4×2: R 399 900
Dynamique 4×2: R 439 900
Dynamique 4×4: R 479 900

Metaalverf is opsioneel beskikbaar teen R 2 522 en vir die Expression is elektries verstelbare sitplekke met leerbekleedsel opsioneel teen R 12 000 beskikbaar.

%d bloggers like this: